Boer meer doelgerig met dekgewasmengsels

Gepubliseer: 13 April 2023

651
Ivan Jansen van Rensburg, agronoom, Barenbrug

Teen hierdie tyd is die meeste produsente bewus van wat dekgewasse is en die belangrike rol wat dit in herlewingslandbou speel, maar dit is nie altyd so eenvoudig om mengsels te formuleer nie. Wanneer mengsels saamgestel word, is daar verskeie faktore wat oorweeg moet word om seker te maak dit is winsgewend oor die kort en lang termyn.

Dit is belangrik om die doel van elke mengsel tydens seleksie in gedagte te hou sodat die mengsel saamgestel kan word uit komponente wat dit so effektief moontlik sal verrig. Wees versigtig om spesies in te sluit wat mikpunte gaan teenwerk. ’n Goeie voorbeeld is ’n dekgewasmengsel wat gevestig word om so vinnig as moontlik biomassa te produseer voor die volgende kontantgewas geplant moet word of om vroeë voervloeitekorte te hanteer. Dit sal in hierdie geval nie wys wees om ’n spesie of variëteit in te sluit wat ’n baie lang groeiseisoen het nie, aangesien dit nog nie gereed sal wees teen die tyd wat dit bewei of getermineer moet word nie. Vestig eer­der daardie gewas in ’n ander mengsel waar later benutting en/of terminering verlang word.

Verenigbaarheid
Nie alle gewasse is verenigbaar nie, daarom moet produsente mooi besin oor watter spesies en variëteite gekombineer word sodat dit mekaar komplementeer en nie antagoniseer nie. Saadgrootte is een van die faktore wat in gedagte gehou moet word, aangesien dekgewassade wissel van 0,1 cm tot 1,5 cm in deursnee (sien Foto 1). Deesdae kry ’n mens planters met twee tot drie saadbakke, sodat klein sade apart gehou kan word van groot sade om skeiding te beperk. Hierdie planters laat ook toe dat groter sade dieper geplant kan word en kleiner sade vlakker.

Foto 1: Die verskillende saadgroottes van ’n diverse winterdekgewasmengsel.

Dit is uiters belangrik, aangesien dit moeilik is om ’n middeweg te vind – die een is dikwels te diep en die ander te vlak. Met planters of strooiers wat net een saadbak het, is dit beter om spesies te selekteer met soortgelyke saadgroottes, anders mag dit nodig wees om twee keer te plant wat heelwat meer arbeid en brandstof gebruik. Indien twee keer plant nie ’n opsie is nie, moet so min as moontlik van die saadmengsel in die planter gegooi word. Gooi eer­der elke hektaar of twee nog ’n sak by ooreenkomstig met die saaidigtheid. ’n Gemiddelde saaidiepte van 2 cm werk gewoonlik vir die meeste spesies in ’n mengsel.

Saaidigthede
Saaidigthede kan wissel vanaf 1 kg/ha tot 150 kg/ha, afhangend van die saadgrootte, groeiwyse, plantmetode en reënval. Die verhouding van saaidigthede is uiters belangrik aangesien ’n wanbalans kan lei tot een of twee gewasse wat domineer en ander wat nooit tot hul reg kom nie. In Tabel 1 is daar ’n vergelyking tussen twee maniere om na die persentasie van elke komponent in ’n mengsel te kyk. Die beste manier om mengsels saam te stel is om elke komponent se saaidigtheid as ’n persentasie van die gewas se volsaaidigtheid te bereken. Hierdie persentasies word bymekaar gevoeg om die gewenste gesamentlike saaidigtheid te kry. Wanneer meer as een spesie gekombineer word, kan jy teen ’n saaidigtheid van 10% tot 25% hoër werk, aangesien gewasse spasie beter benut met verskillende bo- en ondergrondse groeiwyses.

Voervloei en voedingswaarde
Dekgewasse word dikwels, deur middel van Covergraze, met vee benut om ’n korttermyn- finansiële voordeel te realiseer, maar ook vir die grondgesondheidsvoordele van die mis, urine, speeksel en die hoefaksies. Sodra vee in ’n dekgewasstelsel geïntegreer word, bring dit verdere vereistes mee. Die dekgewasmengsel moet dan nie net die grond verbeter nie, maar moet ook waarde toevoeg deur voervloeiga­pings te vul en goeie voedingswaarde te bied. Gelukkig is die meeste dekgewasspesies uitstekende weiding en kan dit gekombineer word vir ’n gebalanseerde dieet. Grasse/grane is tipies goeie bronne van ruvoer, peulgewasse bied hoë proteïen­vlakke en kool­gewasse (brassicas) bied goeie metaboliese energie asook ’n hoë mineraalinhoud vir algehele dieregesondheid.

Pieter Truter plant jaarliks ’n dekgewasmengsel wat slegs uit breëblare bestaan.

Onkruidbeheer
Onthou dat onkruidbeheer uitersmoeilik is as die mengsel uit beide breëblaargewasse en grasse be­staan. Dit is dus wys om ’n mengsel van grasse te vestig indien breëblare beheer moet word of om die breë­blaarkomponent laag te hou en dit prys te gee voor die onkruid in saad gaan. Natuurlik kan breëblaarmengsels ook gevestig word om grasse selektief te beheer soos met Tabel 1 se mengsel. Indien beide die gras- en breëblaaronkruiddruk baie hoog is, kan dit lonend wees om die saaidigtheid te verhoog. Onthou egter dat dit uiteindelik sal lei tot verlaagde biomassaproduksie as gevolg van te veel kompetisie tussen die plante.

Voorbeeld 1: Winterreënvaldroëlandmengsel
Pieter Truter van Riebeek-Kasteel in die Wes-Kaap plant jaarliks ’n dekgewasmengsel wat bestaan uit twee koolgewasse en vier peulgewasse om met beeste te bewei. Hy maak seker dat genoeg materiaal agterbly om die grond te verbeter en roteer dit met hawer vir hooipro­duksie. Die mengsel bestaan slegs uit breëblare sodat grasse selektief beheer kan word as gevolg van hul raaigrasprobleem. Sy doel is om die grond oor tyd te verbeter sodat dit ’n hoër opbrengspotensiaal en meer winsgewendheid bied.

Sodra die raaigras onder beheer is, sal Pieter weer grasse by die mengsel voeg om die grondgesondheids- en beweidingsvoordele deur middel van diversiteit te verbeter. Hy neem reeds waar dat die hoë peulgewasinhoud hulle toelaat om minder te bemes, wat hul insetkoste verminder. Daar is besluit om die koolgewaskomponent vir 2023 te verlaag en eerder die peulgewasinhoud te verhoog om selfs meer stikstof te bind.

Die voorspelling is dat breëblaarmengsels al hoe meer gewild gaan raak as ’n afwisseling vir graskontantgewasse as gevolg van grasbeheeropsies, stikstofbinding en die algemene grondgesondheidsvoordele wat gepaard gaan met goeie rotasiestelsels.

Voorbeeld 2: Somerreënval-winterbesproeiingsmengsel
Hendrik Odendaal van Standerton in Mpumalanga se rotasie onder sy spilpunte bestaan uit mielies, sojabone, koring en winterdek­gewasse. Die winterdekgewas word elke seisoen agter die sojaboonstroper geplant, met die doel om grond te verbeter en om die gaping in sy beeskudde se voervloei vanaf Junie tot Oktober te vul. Die dekgewasmengsel bestaan uit drie kleingrane, ’n wintergras, twee peulgewasse, twee koolgewasse en ’n breëblaargewas. Die mengsel word benut deur middel van hoëdrukbeweiding, waar die kudde daagliks slegs ’n gedeelte van die weiding kan vreet deur gebruik te maak van elektriese draadjies.

Dit is duidelik dat elke kamp op elke plaas in elke area ’n unieke mengsel benodig. Barenbrug glo dus nie in vaste mengsels nie, maar maak eerder tyd om die regte mengsel volgens elke produsent se behoefte en toestande aan te beveel. Klik op die link (www.barenbrug.co.za/cover-crops) om toegang te kry tot Barenbrug se dekgewasvraelys om ’n pasgemaakte mengsel spesifiek vir jou stelsel te kry.

Die gevolge van klimaatsverandering in Suid-Afrika is reeds sigbaar met gereelde droogtes en vloede. Dit is tyd om dekgewasse so doeltreffend moontlik te gebruik as ’n instrument om daarby aan te pas en die impak op boerderye te versag. Veerkragtigheid is waarna gestreef moet word – herlewingslandbou kan help om dit te realiseer.

’n Diverse winter-Covergraze-mengsel naby Standerton.