’n Entingsplan op een sigblad

Dr Danie Odendaal, direkteur: Veearts Netwerk
Gepubliseer: 12 April 2023

636

Veearts Netwerk het meer as tien jaar gelede ’n nasionale siekterapporteringstelsel daargestel. Veeartse kan dié stelsel gebruik om op ’n maandelikse basis siektes te rapporteer soos dit voorkom. Die doel is om ’n volledige siekte-oorsig te kry van die siektes wat per streek, provinsie en op ’n landswye basis voorkom.

Dit word gedoen in samewerking met die Herkouer- Veterinêre Vereniging (RuVASA). Dr Faffa Malan doen besonder goeie werk om die veeartse op ’n maandelikse basis aan te spoor om die rapporte­ring te doen en dan ook die siektevoorkoms aan die landboumedia deur te gee.

Met die terugvoer wat vanaf veeprodusente en veeartse ontvang word, is dit duidelik dat daar ’n behoefte bestaan om hierdie waardevolle inligting wat so versamel is, op ’n meer praktiese wyse ten voordeel van die veebedryf aan te wend. Dit is veral van belang in die uitsonderlik nat jaar wat tans in die grootste gedeelte van die land beleef word met die gepaardgaande siekte-uitdaging.

Om daad by die woord te sit, wil Veearts Netwerk hierdie jaar afskop deur aan alle vleisbeesprodusente en hul aangewese kuddeveeartse, riglyne te gee vir die gestruktureerde opstel of hersiening van ’n bestaande inentingsplan vir die vleisbeeskudde.

Die struktuur van ’n twaalfmaande-vleisbeesentingsplan is eenvoudig soos gesien kan word in Figuur 1, maar die opstel en uitvoe­ring van so ’n plan het toegewyde bestuur nodig.

Figuur 1: Formaat vir die opstel van ’n entingsplan.

Jaarlikse entingsplan
Vir suksesvolle immunisasie van gesonde diere moet die inenting volgens ’n plan op die regte tyd gedoen word. Spesifieke inentings moet gedoen word wat gebaseer word op die seisoen (siektes wat seisoenaal voorkom) of die ouderdom (jong diere) of die stadium van produksie (volwasse diere). Die formaat van die inentingsplan moet dus ’n oorsig gee van al drie hierdie veranderlike faktore oor ’n twaalfmaandeperiode (Figuur 2).

  • Eerstens moet die plan ’n oorsig gee van die twaalf maande van die jaar met die gepaardgaande seisoene.
  • Tweedens moet dit ’n oorsig gee van al die verskillende ouderdomsgroepe op die plaas.
  • Derdens moet die entingsplan ’n oorsig gee van die vier verskillende produksieperiodes van die volwasse kudde.
Figuur 2: Veranderlike faktore oor ’n twaalfmaandeperiode.
Figuur 3: Landswyd het 173 veeartse gedurende 2022 gerapporteer.

Jaarplan teen die muur
Al drie die veranderlikes (Figuur 1) word op een sigblad bymekaar gebring en voorsien dan die formaat wat gebruik sal word vir die opstel van die entingsplan. Dit kan verder gebruik word vir beplanning en aantekening van al die ander beplande gesondheids- en produksiebestuursaksies (V-plan).

Die vier afdelings van die riglyne vir die inwerkingstelling van ’n doeltreffende inentingsplan sal die volgende inligting bevat:

    1. Die formaat wat gevolg kan word vir jaarlikse beplanning. Metodologie vir die gestruktureerde bepaling van siektes wat ’n probleem op die plaas is of kan wees, en wat wel voorkombaar is deur inenting. Die beginsels van toepassing op doel­treffende inenting.
    2. Praktiese en stapsgewyse uiteensetting van die formaat (Excel-spreivel) wat gebruik kan word vir die opstel van ’n begroting om die koste te bepaal en wat ook dien as beplanning vir die seisoenale bestelling van die entstowwe wat benodig gaan word.
    3. Beskrywing van die maandelikse aksielys (herinnering) en merklys om te verseker dat entings tydig volgens plan gedoen word.
    4. Beskrywing van die doel van entingsrekords en die gebruik daarvan in die bemarking van beeste wat aan voerkrale of vir teeldoeleindes verkoop word.

’n Samevatting van die hele projek word beplan vir Mei 2023 wanneer die veeartse van RuVASA hulle jaarlikse kongres hou. Tydens die kongres sal voortgesette opleiding plaasvind ter ondersteuning van hierdie projek om dit volhoubaar te implementeer.

Hierdie projek vorm die hoeksteen van die V-plan vir beplande kuddegesondheid en biosekuriteit op plaasvlak. Die projek sal ook dien as basis vir nouer samewerking tussen die veeprodusent en die aangewese kuddeveearts. Die doel is om kuddegesondheid hierdie jaar daadwerklik op ’n nasionale basis aan te pak en te verbeter.

Hoe om deel te neem
Deelname is gratis en die riglyne sal in vier praktiese opeenvolgende afdelings elektronies deur Veearts Netwerk aan beesprodusente en hulle kuddeveeartse gestuur word. Die voorwaarde is dat produsente net moet bevestig dat hulle wel belangstel om die riglyne te ontvang en deel te vorm van die nasionale projek.

Stuur ’n bevestigende WhatsApp-boodskap na 072 173 5705 of ’n e-pos na vnet@absamail.co.za.

Tik die volgende besonderhede in die boodskap:

  • Naam & van
  • Distrik waar geboer word
  • E-posadres
  • Naam van die kuddeveearts wat gebruik word