Maak vandag sin uit more se koerant

Pietman Botha, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 12 April 2023

350

Wat hou die toekoms in? Wat is die regte dinge om te doen om die toekoms te verseker? Hoe rat ek myself vir dit wat voorlê? Moet ons bly waar ons is of moet ons dit wat ons doen aanpas?

Verandering is onvermydelik en dwing ons om voortdurend aan te pas. Ons moet vorentoe kyk en besluit wat ons in die volgende vyf jaar moet doen om volhoubaar te bly.

Met enige beplanning moet jy jou huidige posisie bepaal, dan vasstel waarheen jy op pad is en dan besluit hoe om daar uit te kom. Of dit nou ’n eenjaar-, tweejaar- of vyfjaarbeplanning is, maak nie saak nie. Hoe langer die termyn van die beplanning, hoe meer moet jy aandag gee aan aspekte wat jou raak, maar wat soms buite jou beheer is.

In ’n vryemarkekonomie sal vraag en aanbod altyd prys bepaal. Suid-Afrikaanse produsente is weens die vrye mark en oop grense internasionale rolspelers. Wat in die VSA gebeur, het ’n impak op ons markte en ons kan niks daaromtrent doen nie. Kyk net wat gebeur het met graan- en insetpryse toe Rusland die Oekraïne ingeval het. Dit is ongelukkig so dat baie gebeurtenisse ons gaan raak sonder dat ons iets daarvan geweet het of sonder dat ons iets daaraan kan doen.

Baie produsente – ek inkluis – probeer om môre se “koerant” vandag te lees. Nie een van ons kry dit heeltemal reg nie, maar dit is die moeite werd om te probeer. Hoe jy dit probeer lees, is egter be­langrik. Fokus op dit wat oor die politiek, makro- en mikro-ekonomie asook oor jou bedryf geskryf en verwag word. Hierdie inligting moet jy dan binne jou omstandighede interpreteer en daarvolgens vir jouself ’n plan uitwerk. Ongelukkig is daar nie ’n regte of verkeerde antwoord vir die vrae nie en dit wat ek lees, kan drasties verskil van wat jy en ander lees en verstaan.

Sommige “koerante” is makliker om te interpreteer as ander, neem byvoorbeeld termynbeurse waar pryse vir produkte vooruit gekontrakteer en verhandel word. Daar is baie ekonomiese aanwysers wat vooruit verhandel word en hierdie verhandelings kan ’n goeie aanduider wees van wat gaan gebeur.

Hou die sake dop
Wanneer ek môre se koerant lees, fokus ek op ’n paar langtermyn­aspekte, naamlik energie, die Amerikaanse wisselkoerse, plaaslike inflasieverwagtinge, plaaslike renteverwagtinge, die verwagte plaaslike groeikoerse, die beskikbare fondse vir die eindverbruiker en natuurlik waar die plaaslike produksie staan betreffende verbruik en prysverwagtinge. Vraag en aanbod sal altyd in die vrye mark pryse bepaal. As die prys van ’n produk by invoerpariteit is, kan algemeen verwag word dat die produksie sal styg en dat die prys van die produk sal daal. Dit is ook waar wanneer daar ’n surplus is en die produk word uitgevoer. Produksie sal daal en die prys van die produk sal styg. Hierdie dinge sal eventueel deur die mark afgedwing word.

Wat gebeur plaaslik?
Plaaslike inligting is net so belangrik in my koerant van môre. Daarom hou ek die plaaslike drywers in die ekonomie ook dop. Ek kyk spesifiek wat is die ekonomiese groeiverwagtinge, want dit dui aan wat met werkloosheid gaan gebeur. Dit het weer ’n effek op produkpryse en die samestelling van die verbruikersvraag wat weer ’n effek op my bestuurstyl en kostebestuur sal hê.

Die volgende belangrike aspek om dop te hou, is die wissel­koers en wisselkoersverwagtinge. Hoe meer die wisselkoers verswak, hoe duurder sal ingevoerde produkte wees en hoe groter gaan die druk op die rentekoers raak. Hierdie verswakking in die wisselkoers sal ook ’n reuse-effek op die betalingsbalans hê wat weer die rente­koers sal laat styg. My raad is om insette so vroeg moontlik te koop en dalk om grane wat aan die wisselkoers gekoppel is, so laat as moontlik te verkoop. Hou net in gedagte dat alles in die plaaslike en internasionale ekonomie aan mekaar gekoppel is. As daar ’n surplus in die wêreldgraanvoorraad is, gaan dit die prys van graan laat daal en as die wisselkoers ook verswak, sal dit die effek van die daling in die pryse versag. As die pryse egter daal en die wisselkoers versterk, gaan dit ons plaaslike pryse dubbeld so hard slaan.

Plaaslik word ons rentekoers deur die Reserwebank beheer. Dié bank gebruik die wisselkoers om ons betalingsbalans te be­skerm en om inflasie onder beheer te hou. Met ’n verswakking in die wissel­koers kan ons ’n styging in die rentekoers verwag, wat weer die koste om te produseer verhoog en die vraag na die produk verlaag. Wanneer daar ’n verwagting is dat insetkoste gaan styg, maak dit soms sin om eerder ’n bietjie ekstra rente te betaal. Die bestuur van die kontantvloei is met ’n styging in rentekoers belangriker as ooit.

Regering en handelsvennote
Die impak van die groot moondhede op Suid-Afrika moet nie onderskat word nie. Onthou die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne se effek op ons – net so belangrik is die verhouding van die regering met ons belangrikste handelsvennote. As hierdie verhoudings nie in stand gehou word nie, sal die vergunnings wat ons van hulle kry onttrek word en sal handel tussen die lande negatief beïnvloed word. Dit kan die uitvoer van produkte bemoeilik wat die betalingsbalans negatief kan beïnvloed, wat rentekoers laat styg en koste verhoog.

Met die lees van môre se koerant is dit belangrik om te bepaal wat die regering se standpunte en optrede rakende sake soos grondhervorming, arbeid, water, elektrisiteit en misdaad is en behoort te wees. Die grondhervormingsvraagstuk is vir seker nog nie opgelos nie. Wat grondhervorming en grondonteiening betref, probeer ek myself omring met goeie vriende. Ons weet mos almal die beste vriend wat jou altyd sal onthou, is iemand vir wie jy geld skuld. Ek lees in my koerant van môre om eerder fondse buite die landbou te hê wat nie so blootgestel is aan die regering se beleid rakende onteiening nie. Dit kan dalk later handig te pas kom.

Die minimumloon sal altyd deur die staat buite die vraag en aanbod van werkers bestuur word. Dit is dus belangrik om te sorg dat die werkers in staat is om meer as hul loon te produseer. Opleiding is vir almal voordelig, maar die meeste vir my as produsent! Kry dus jou werksmag om meer doeltreffend en effektief te produseer en bereken of dit die moeite werd is om te meganiseer of nie.

Klimaatsvooruitsigte
Die klimaat is altyd ’n moeilike bladsy in môre se koerant om te lees. Die verwagting is heel moontlik minder reën vir die volgende paar jaar en dalk ook ’n veranderende reënvalpatroon. Moet dus nie koud staan teenoor praktyke wat reënvaldoeltreffendheid behoort te verhoog nie. Ondersoek nuwe praktyke en meet wat die produksie per millimeter reën is. Droë jare is ’n werklikheid – dis net om te weet wanneer hulle gaan voorkom … Hiermee in gedagte moet jy jou winsgewendheid en insetgebruik aanpas. Verhoog jou effektiwiteit en doeltreffendheid om sodoende die beste moontlike verwagtinge te realiseer.

Gelukkig is daar heelwat slim mense wat probeer om môre se koerant vandag te publiseer. Die Buro vir Voedsel- en Landbou­beleid (BFAP) publiseer jaarliks hul basislyn-landbouvooruitsigte (Baseline Agricultural Outlook) in Oktober. Hierin word vooruitskattings vir die volgende tien jaar gepubliseer. Reg of verkeerd, maak nie saak nie – daar is iets op die tafel. Hierdie is ’n uiters deeglike studie en om al die verwagting saam te vat, is moeilik. Gaan lees gerus die hele verslag wat beskikbaar is op BFAP se webtuiste.

Om die verslag kortliks saam te vat:

BFAP sien in hul studies dat daar oor die lang termyn ’n verla­ging in energiepryse verwag kan word. Hierdie is ’n belangrike aanwyser wat ook strook met die langtermyn-termynmarkverwagtinge. Die internasionale Brent-ruoliepryse sal volgens BFAP ’n daling toon en matig aanhou daal oor tyd. Dit het dan ook volgens BFAP ’n verwagte dalingseffek op veral die internasionale kunsmispryse. Ongelukkig kan dit ook ’n negatiewe effek op internasionale graanpryse hê, wat weer sal deurtrek na plaaslike pryse.

Die verslag kategoriseer Suid-Afrikaanse verbruikers in groepe wat elk binne verandering anders sal optree. Aan die onderkant is die lae-inkomstesegment wat ’n baie groot persentasie van hul inkomste aan kos spandeer en aan die ander kant die hoë-inkomstegroep wat ’n uiters klein persentasie van hul inkomste aan kos spandeer. Die persentasie verbruikers aan die onderkant van die ketting is aan die vermeerder, wat ’n beduidende effek op verbrui­kersbesteding sal hê.

BFAP verwag verder dat internasionale mielie-, sorghum-, sojaboon- en sonneblompryse vir die volgende produksiejaar skerp kan terugsak en dan relatief konstant vir die volgende paar jaar behoort te bly. Wat die aanplantings betref, verwag BFAP dat witmielie-, geelmielie-, sonneblom- en sorghumaanplantings moet daal en dat daar ’n sywaartse beweging vir die volgende paar jaar voorspel word. Sojabone is die enkele gewas waarvan die verwagte aanplantings en produksie per jaar sal toeneem.

Wat die pryse van die gewasse betref, word daar vir die vol­gende twee jaar dalings verwag, terwyl daar verwag word dat die pryse vir die jare daarna dalk matig sal verhoog. Die wintergrane en oliesade gaan ook nie die daling in pryse vryspring nie. Internasionaal is die verwagting dat die koring-, kanola- en garspryse vir die volgende paar jaar moet daal en dat dit dan relatief sywaarts sal beweeg. Wat produksie betref, word ’n sywaartse tendens verwag.

Ten slotte
As ’n produsent dus die BFAP-koerant van môre lees, sal hy opmerk dat die toekoms nie so rooskleurig lyk nie. Die koerant dui aan dat marges onder druk sal kom en bly en dat produsente alles in hul vermoë moet doen om effektiwiteit en doeltreffendheid te verhoog. Miskien is dit dalk die tyd om “uit boerdery te klim”; as jy “binne” wil bly, moet jy ekonomie van skaal bereik, nuwe relevante tegnologie implementeer en jou bestuur opskerp.

Die inbring van die regte strategiese vennote is belangrik vir beide voorwaartse en terugwaartse integrasie. Produsente sal anders na hul werkers moet kyk en ’n inklusiewe benadering met beide werkers en verbruikers moet gevolg word. Diversifikasie is belangrik en nuwe diversifikasiemoontlikhede moet ondersoek word – kyk miskien selfs na ander lande. Onthou, dit is goeie bestuur wat gegewe die hulpbronne die beste oeste inbring. Grond op sy eie is nie welvaart nie.

Om die koerant van môre vandag te lees is en bly besonder moeilik. Wees versigtig om nie te veel tyd aan môre se koerant te spandeer en sodoende vandag se koerant te mis nie! Dank gaan aan dr Johan Willemse en BFAP vir hulle toekomskoerante.