Aanpasbaarheid nodig om in hoërisiko-omgewing te navigeer

Alzena Gomes, skakelbeampte, Graan SA
Gepubliseer: 12 April 2023

398

In die eerste “normale” jaar na die pandemie, het die hele graanbedryf weer uitgesien na ’n behoorlike samekoms sonder beperkings. Vanjaar het Kongres die voorreg gehad om eerste af te skop met ’n fantastiese aanbieding aan Graan SA-lede, regeringsamptenare, landbourolspelers, akademici, vennote en belanghebbendes in die landbousektor.

Tydens die aanbieding van die jaarlikse Graan SA Kongres was NAMPO Park van 8 tot 9 Maart weer die middelpunt van gebeure waar vanjaar se tema, “Aanpasbaarheid in ’n omgewing van hoë risiko’s en onsekerheid”, bespreek is. Die tema het ten doel gehad om die belangrikheid om in ’n voortdurend veranderende omge­wing te kan werk, vir produsente uit te lig. Paneelbesprekingsonderwerpe is met sorg gekies om produsente te help bemagtig in hul besluitneming te midde van uitdagings.

Derek Mathews (voorsitter), Jeremia Mathebula (visevoorsitter) en Richard Krige (visevoorsitter) is tydens Kongres onbestrede herkies.

Die Kongres-agenda is in drie hoofsessies aangebied en het afgeskop met ’n aanbieding deur Sam Rolland, direkteur: Afrika suid van die Sahara van die Economist Intelligence Corporate Network. Hy het op die wêreldekonomie sowel as die belangrikheid van veerkragtigheid gefokus. Verder het die paneelbesprekings by beide kundiges en medeprodusente gaan aanklop om relevante kwessies te takel en meer te leer oor hoe dié kenners aanpas in hoërisiko-omgewings. Kongresgangers se interaktiewe deelname is aangemoedig om besprekingsgeleenthede te bevorder. Die gebruik van elektroniese stemprosesse het die weg gebaan vir konstruktiewe terugvoer na elke sessie en die geleentheid geskep om belangrike gesegmenteerde insette en opinies van lede in te win.

Tydens die verkiesing is Graan SA se voorsitter, Derek Mathews, onbestrede herkies. Hy word deur visevoorsitters, Richard Krige en Jeremia Mathebula, ondersteun. Dié span is gereed vir die taak wat voorlê, waarvan die belangrikste faset sekerlik is om ’n lewensvatbare toekoms vir graanproduksie in die land te verseker.

AC van Wyk, André Brink, Giovanni Pariziaello en Corné Louw tydens ’n paneelbespreking met die tema “Wat om by medeprodusente te leer”.
Kongresgangers het geleentheid gekry om deur middel van elektroniese stemprosesse konstruktiewe terugvoer na elke sessie te gee.

’n Seisoen van genade
In die voorsittersverslag het Mathews en dr Pieter Taljaard (uitvoe­rende hoofbestuurder van Graan SA) die uitdagings van 2022 aangeraak tesame met die bevestiging dat alhoewel die jaar onstabiel en in soveel opsigte onvoorspelbaar was, dit in ’n seisoen van genade verander het. Alhoewel Suid-Afrikaanse graanprodusente steeds met die impak van die wêreldwye pandemie en die nadelige uitwerking van die voortslepende oorlog in die Oekraïne te doen gehad het, het hoë uitsetpryse die skaal van die ekonomie genadiglik gebalanseer. Landbou kon sy krag toon en saam met mynbou die ekonomie deurtrek. Beide Mathews en dr Taljaard het beklemtoon dat die regering en verbruikers tydens die “abnormale” tyd tot ’n dieper besef gekom het van die waarde van ’n landbousektor wat voedselsekerheid verskaf, en dit was dus in baie opsigte ’n geseënde jaar.

Mathews het verder klem gelê op die organisasie se verantwoordelikheid om tog terug te kyk om so seker te maak die pad vorentoe is herkenbaar en gefokus. ’n Jaar gelede is die effek wat die Russiese inval in die Oekraïne moontlik kon hê reeds bespreek, aangesien daar geen manier was dat Suid-Afrika onaange­raak sou bly deur dit wat in die wêreld gebeur het nie. Wêreldwye ontwrigtings, insetinflasie, beskikbaarheid van produkte en logi­stieke uitda­gings het uiters problematies geword. Mathews het egter benadruk dat Suid-Afrika die afgelope drie jaar gunstige klimaatstoestande ervaar het. Anders as in die verlede, het produsente sterk kommoditeitspryse geniet as gevolg van die internasionale situasie en was die afgelope drie seisoene in die graanbedryf besonder goed. Ondanks oorstromings wat kort-kort voorgekom het, is die pragtige oes op die lande ’n absolute seën.

Hy het ook die voorafgaande jaar se hoogtepunte uitgelig wat onder meer die toegewydheid van Hoofbestuur en die personeel in diens van graanprodusente in hul strewe om die doelwitte van die organisasie te bereik, ingesluit het. Verdere hoogtepunte was die nuwe sojaboonsaadvariëteite en tegnologie wat goeie vooruitsigte bied sowel as die fokus wat opnuut op Sclerotinia geplaas is. In die mielie- en koringbedrywe is die volgehoue ontwikkeling in kultivars en teling bespreek en die daarstelling van ’n diagnostiese kliniek en biosekuriteitsentrum is verwelkom. Die beskikbaarheid van kanolasaad is as topprioriteit beklemtoon tesame met die dieselrabat, aangesien die afskaffing daarvan wesenlike gevolge vir graanprodusente sal inhou.

Mathews het klem geplaas op geskilbeslegting as ’n diens wat aan Graan SA-lede gebied word sowel as insetprysmonitering, kwaliteit- en voorsieningsmonite­ring asook kunsmismonitering. Verder is ag geslaan op produsente se beroep rakende groepversekering wat ’n voordeel vir produsente te weeg kan bring. Terugvoer oor die vordering van die Landboumees­terplan is voorgehou en alhoewel die implementering op beleids­vlak sloer, rig bedryfsinstansies wat aan die plan help skryf het, hul sake volgens die plan. Die uitvoermarkte vir sojabone is as nog ’n suksesverhaal aangebied en opgewondenheid oor die alternatiewe liggingsdifferensiaal vir sojabone vanaf die 2023-jaar was tasbaar.

Richard Krige, Nico Vermaak, hoof: Maatskappysekretariaat van Graan SA, Derek Mathews, dr Pieter Taljaard en Jeremia Mathebula.

Strategiese fokusareas
In opvolg het dr Taljaard die strategiese fokusareas van die orga­nisasie beklemtoon: meer winsgewendheid en volhoubaarheid; die volhoubaarheid van ontwikkelende produsente; betrokkenheid en insette van jonger lede; ’n breër ledebasis; kernwaardekettingverhoudinge; asook effektiewe kommunikasie. Die ondersoek na die hernuwing van die Graan SA-handelsmerk is ook voorgelê. Die organisasie het die afgelope twee jaar baie energie gefokus om met lede te kommunikeer deur relevante kanale te identifiseer om die “hoe”, “wat”, “waar” en “hoekom” van Graan SA as produsente-organisasie effektief oor te dra.

Daarna is dieper gedelf om weer die essensie en relevansie van die organisasie te bepaal en te beklemtoon. Die fokus bly steeds op die behoeftes van graanprodusente en dit wat hulle daagliks moet trotseer. Die belangrikheid om die saak van die graanprodusent oor te dra as ’n verenigde stem wat die waarheid weergee en as rele­vant erken word, is aangebied in ’n vars nuwe voorkoms wat die moderne Suid-Afrikaanse graanprodusent verteenwoordig. Volgens ’n Kongresbesluit is ’n handelsmerkvernuwing vir die organisasie tydens die Hoofbestuursvergadering na afloop van Kongres met ’n meerderheid goedgekeur. Graan SA se handelsmerkvernuwing sal voor NAMPO 2023 geloods word.

Mathews het beklemtoon dat die onwrikbare ondersteuning aan Graan SA-lede ten alle tye voortgesit sal word. Die afgelope jaar se herevaluering van die strategiese rol wat die organisasie moet speel om optimale ondersteuning en sukses aan sy lede te verseker, was dus van kardinale belang. Die toegewydheid aan die orga­nisasie se kernbesigheid word voorop gestel om produsente in staat te stel om ekonomies gesonde graanproduksie te handhaaf en te ondersteun om voldoende en bekostigbare voedsel aan die mense van Suid-Afrika te verskaf. Die belangrike rol wat Graan SA in sy hoedanigheid as die gesentraliseerde spreekbuis van Suid­Afrikaanse graanprodusente speel, is weer eens in alle opsigte beklemtoon.

Dr Pieter Taljaard lig die strategiese fokusareas van Graan SA uit.

Veerkragtigheid is die antwoord
Sam Rolland, ekonometrikus, rubriekskrywer, dosent en direkteur van The Economist, het globale neigings in voedselsekerheid onder die loep geplaas in sy hoofrede. Rolland het bevestig dat die wêreldekonomie tans by ’n kruispad staan, met wisselvalligheid en onsekerheid op die horison vir die volgende vyf tot tien jaar. Hy het vier tendense uitgelig wat Suid-Afrika in 2023 sal definieer, waaronder regeringsondersteuning wat deur skuld beperk gaan word; kunsmatige intelligensie wat nuwe doeltreffendheid kan aandryf met regulasies wat moet tred hou; ’n nuwe potensiële “Koue Oorlog” met die globale ekonomie wat deur ’n aantal uitdagings in die gesig gestaar word; en uiterste weerstoestande wat ontwrigtings kan veroorsaak. Rolland het die verlangsaming van globale groei uiteengesit en bevestig dat “swart swaan”-klimaatsgebeure lankal nie meer ongewoon is nie. Gevolglik sal die veranderende seisoene heel moontlik die waarskynlikheid van voedselonsekerheid verhoog, met groot kommer dat dit tot konflik kan lei. Hy het die risiko van ’n honger bevolking, veral voor ’n nasionale verkiesing, uitgelig deur te beklemtoon dat kiesers juis dan, as gevolg van woede, met hul voete gaan stem.

Rolland het die bedryf as ’n kollektief aangemoedig om kennis te neem van die feit dat die nalatenskap van landbou ’n sensitiewe een is en dat ’n konkrete aksieplan vir die komende jare beslis nodig sal wees. Ter afsluiting het hy bevestig dat voedselsekerheid ’n groot dryfveer van ekonomiese risiko sal wees, dat slim boerderypraktyke opbrengste sal verhoog en dat internasio­nale omgewingsbeleid die gebruik van minder kunsmis sal aanmoedig. Hy het die organi­sasie aangemoedig om aksies en die gebruik van slim tegnologie te versnel en die voortou te neem aangesien die regering nie sal kan byhou nie.

Nico Vermaak skerts oor beurtkrag tydens Kongres.

Kundiges en medeprodusente is die leerskool
Paneelbesprekings tydens Kongres het daarop gefokus om te put uit die kennis van kundiges en medeprodusente. Die paneel van kundiges, gelei deur dr Taljaard, het bestaan uit Erik de Vries (HUB van Agri Technovation) wat nuwe tegnologie vir graanproduksie bespreek het; Gerhard Diedericks (onafhanklike versekeringskundige) wat gesels het oor nuwe geleenthede in groepsversekering vir graan- en oliesadeproduksie; en Monique le Roux (WNNR) wat beurtkragoplossings en die nasionale netwerk aange­raak het.

Drie van die kwessies in graanproduksie wat gevolglik bespreek is, was tegnologie en die optimale gebruik van ingesamelde data, risiko’s wat in die bedryf vermeerder juis as gevolg van hoe die bedryf verander asook die kragkrisis en wat die moontlikhede vir graanprodusente is om alternatiewe kragopwekking te koppel aan die nasionale netwerk. Die produsentepaneel, gelei deur Corné Louw (hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA) het bestaan uit Giovanni Pariziaello (produsent van Brasilië),­
André Brink (wintergraanprodusent van die Wes-Kaap en 2022 se Graanprodusent van die Jaar) en AC van Wyk (somergraanprodusent van Bultfontein en 2017 se Graanprodusent van die Jaar). Die bespreking het gefokus op hoe dié produsente hul besighede deur hoërisikosituasies bestuur het en watter lesse hulle daaruit geleer het. Met ’n besliste toename in gebeure waarvoor geen produsent kan beplan nie, was die insette van die paneel van onskatbare waarde.

Van Wyk het vier punte uitgelig waarvan die eerste was om uit die verlede te leer. Tweedens moet produsente hul risikoprofiel bestuur, derdens hul vermoë om aan te pas ontwikkel en laastens moet hulle ’n veiligheidsmarge daarstel. Pariziaello het ’n goeie oorsig van graanproduksie in Brasilië gebied, met dubbele oeste as standaardpraktyk in hul omgewing. Soos Suid-Afrikaanse graanprodusente kry Brasiliaanse boere geen hulp van die regering nie en moet hulle ook innoverende planne maak ten opsigte van risiko­bestuur. Hy het bevestig dat investering in infrastruktuur en opber­ging deur middel van silo’s op die plase prioriteit geniet. Verder is die instandhouding van masjinerie belangrik, asook om die regte toerusting vir die regte doel in te span – groot beteken nie noodwendig beter nie. Pariziaello was passievol oor die investering in en opleiding van die arbeidsmag en die belangrikheid daarvan om arbeid deel van die graanbesigheid te maak vir die beste resultate. Brink, wie se graanopset reeds vir 125 jaar in die familie is, het in sy bespre­king die analogie van ’n tafel met vier pote gebruik. As eerste poot het hy sekere risiko’s uitgelig wat buite sy beheer is, naamlik die plaas se ligging, dus die klimaat en reënval, asook die politiek. Die tweede poot is geskoei op koste-items wat insluit saad-, kunsmis-, brandstof-, chemie- en arbeidkoste. Die moontlikheid van ’n geringe bespa­ring kan beding word, maar nie noodwendig noemenswaardig nie, tensy fisies minder van hierdie koste-items verbruik word.

Die derde poot verwys na die bedryfsentiteit op die plaas wat die grense waarbinne graan geproduseer word, stel. Die laaste poot is familie waarvan kontinuïteit die hoeksteen vorm, aangesien die grootste risiko daarin lê om die besigheid te stop en weer van vooraf te begin met elke geslag wat die bedrywighede oorneem.

Graan SA se landbouontwikkelingspan was ook teenwoordig.

Die pad vorentoe
Graan SA bedank alle lede, vennote, rolspelers en borge sonder wie se deelname ’n uiters suksesvolle 2023-Kongres nie moontlik sou wees nie. In die komende jaar gaan ons saamwerk om georganiseerde landbou terug te neem na dit wat vir ons lede belangrik is, naamlik die fokus op die boerdery! Graan SA as bedryfsorganisasie onderneem om die punte wat tydens Kongres uitgestip is, sinvol te verbind en om daardeur die organisasie te laat groei en die boodskap van hoop aan alle produsente oor te dra. As ’n kollektief bly Graan SA relevant.

Graan SA-damespersoneel neem ’n blaaskans vir ’n foto.
Elke Kongresganger het ’n SA Graan/Grain in die hand gekry.
Maleshoane Mokgoetsi, Streek 28.
Andries Groesbeek van Streek 9 aan die woord.
Thabang Tsephe van Streek 33; Thomas Sibiya van Streek 29; Luvuyo Mbutho van Streek 33 en David Nhlapo van Streek 29.
Jaco Minnaar en Ralf Küsel diep in gesprek.
JH Breytenbach, Niel Rossouw en Dirk Laas is al drie van Streek 6. Dirk is tydens Kongres as die streek se Hoofbestuurslid verkies.
Luc van der Hofstadt tydens die inspirasiesessie.
Mbulaheni Thomas Mutengwe (adjunkdirekteur: Voedselveiligheid en Gehalteversekering, DALRRD); Malose Johannes Fache (DALRRD) en dr Sandile Ngcamphalala (Graan SA).
Sibert du Plessis, Johan Geyser, Carel du Preez en FC van Wyk – almal Streek 12 – tydens een van die koffiebreke.
Michael Scheepers en Nant Yzel, beide van Streek 19; Herman van Rensburg van Streek 18 en Hentie le Roux van Streek 21.
Navorsers van die LNR was ook by vanjaar se Kongres.
Na Dag 1 is daar heerlik saam geëet.