Die spilpunt staan – wat nou gemaak?

Gepubliseer: 1 Maart223

1317
Magda du Toit,
SA Graan/Grain-medewerker

Die beskikbaarheid van betroubare en bekostigbare elektrisiteit is toenemend ’n uitdaging vir veral besproeiingsprodu­sente en landbouprodukvervaardigers in Suid-Afrika. Die landbouwaardeketting is grotendeels energie-intensief en die eindproduk moet die mark in ’n bemarkbare vorm bereik. Die impak wat kragonderbrekings en beurtkrag op ’n boerdery en die waardeketting kan hê, is enorm.

Hierdie tendens noop produsente om na alternatiewe oplossings te soek en hernubare energiemoontlikhede te oorweeg. Son-, wind- en hidro-energie kan produsente en landboubesighede in staat stel om aan te hou werk tydens kragonderbrekings as gevolg van beurtkrag of kabeldiefstal.

Produsente het toenemend oor die afgelope jare begin om hul eie elektrisiteit te genereer en is so stelselmatig onderweg daarna om meer onafhanklik van Eskom te funksioneer. Party produsente produseer gedeeltelik vir hul eie gebruik, terwyl ander volkome onafhanklik van die netwerk wil funksioneer.

Hoe raak die energiekrisis produsente?
Die groeistadium van gewasse bepaal tot ’n groot mate die hoeveelheid water wat die plant benodig en het daarom ’n groot invloed op die bestuur van ’n besproeiingstelsel. Gewasse se waterbehoefte en -verbruik word bepaal deur die gewas, temperatuur, windspoed, sonstraling en relatiewe humiditeit. Behoorlike skeduleringsmetodes is nodig om te besluit wanneer en hoeveel water om neer te sit. Produ­sente moet dus weet hoeveel water wanneer deur die plant benodig word, hoeveel water reeds in die grond beskikbaar is en hoeveel water die spilpunt kan lewer. Met tydige en ontydige kragonderbrekings, word hierdie som net soveel meer gekompliseerd.

Dit is nie net produktiwiteit wat beïnvloed word nie, verduidelik Hannes Bruwer van Genade Boerdery in die Hopetown-omgewing in die Noord-Kaap. “In die besproeiingsgebiede is ons besproeiing, verwerkingsfasiliteite, pakhuiskoelstelsels en koelkamers van elek­trisiteit afhanklik. Die onderbrekings het dus nie net ’n impak op ons gewasproduksie nie, maar op die totale landbouwaardeketting en die land se ekonomie. Aartappelprodusente het vanjaar maande vroeër as gewoonlik aartappels uit die grond gehaal en op die markte gelewer. Kleiner aartappels teen ’n vermin­derde prys is ’n meer aanvaarbare risiko as die moontlikheid dat daar geen aartappels aan die einde van die seisoen kan wees nie omdat hulle nie behoorlik kan besproei nie.”

Benewens mielies, verbou hy ook lusern, springmielies, saadsonneblom, koring, beet en uie. Hoewel die warm klimaatstreek hulle in staat stel om twee gewasse in een jaar te verbou, bepaal waterbeskikbaarheid hoeveel gewasse in ’n siklus verbou kan word. Nou is elektrisiteit ’n bepalende faktor.

“Ons uitdaging is dat gewasse 8 mm tot 10 mm reën in ’n 24-uursiklus benodig tydens blom in die piekproduksiefase. Dit is haalbaar as ons die hele tyd elektrisiteit het om te kan besproei. Kragonderbrekings en beurtkrag veroorsaak dat die ure in die besproeiingsiklus verminder. Die beskikbare tyd laat ons nie toe om in die plant se waterbehoefte te voorsien nie. Dit is benewens verdamping wat plaasvind. Dit kan jou hele opbrengs nadelig beïnvloed.”

Volgens Jan van Heerden van die Hartswater-omgewing, is die kragonderbrekings vir hulle net so ’n enorme probleem. Hy boer in die Vaalharts-besproei­ingskema naby Hartswater in die Noord-Kaap met pekanneute, katoen, lusern, koring, mielies en soja­bone. “Die kragonderbrekings is vir ons ’n groot kopseer in die skema waar ons water uit kanale kry. As die krag afgaan, loop jou water weg indien jy nie ’n groot genoeg opgaardam het nie en dan verloor jy daardie water. Dit bemoeilik ook kunsmistoediening, veral as die beurtkrag opgaan na fase 4 of hoër, omdat die spilpunt nie sy siklus kan voltooi nie.”

Bruwer sê die besproeiingskedule word die hele tyd onderbreek en dit het nog ’n groter invloed op hul groenteverbouing. “Groente is meer vatbaar vir strestoestande en wanneer dit geoes is, is dit van deurslaggewende belang dat die koueketting nie gebreek word nie. Dit raak al hoe moeiliker omdat produsente nie met bystandkrag kan bybly nie. Om ’n kragopwekker te gebruik, is ongelooflik duur as gevolg van die hoë brandstofpryse. Dit is waarom baie groente en veral uie so duur is. Ons produksiekoste het die hoogte ingeskiet.”

Buiten produksiekoste wat drasties gestyg het, is daar ander aspekte wat nie altyd in die kollig is nie. Volgens Bruwer gee hulle voor blomtyd eintlik meer water as wat nodig is as ’n gebeurlikheidsversekering. “Omdat ons die toestande wat deur beurtkrag teweeggebring word wil mitigeer, gee ons byvoorbeeld 50 mm water wanneer net 40 mm nodig is vir ingeval daar later in die dag ’n ongeskeduleerde kragonderbreking sou wees. Die nadeel van die saak is egter dat ons dan eintlik teenstrydig met ons doelwitte, versuiptoestande veroorsaak en ’n anaerobiese omgewing skep.”

Omdat hulle konsentreer op watertoe­diening wanneer dit wel moontlik is om te besproei, word landbouchemikalieë nie deur die spilpunte toegedien nie. “Ons kan nie meer kunsmis deur die spilpunt toedien nie en moet nou die kunsmis met kunsmisstrooiers toedien. Blaarvoedings en ander chemikalieë gaan ook nie meer deur die stelsel nie en ons moet dit of met hoogloopspuite of vliegtuie be­spuit. Dit veroorsaak addisionele spoorverkeer en kompaksie in ons lande wat nou al deur jare opgebou is met ’n verminderde bewerkingsbenadering. Gewasse wat so platgetrap word, herstel nooit regtig nie. Die addisionele brandstofkoste maak ’n groot verskil aan die einde van die seisoen wanneer wins bereken moet word. Lugspuit bring byvoorbeeld ’n bykomende koste van R300/ha mee.”

’n Ander faset wat goed bestuur moet word, is die moraal van die personeel op die plaas, waarsku Bruwer. “Die personeel se moraal is besonder laag. Hulle moet tydens sekere beurtkragfases tot drie keer op ’n dag ry om die pompe af te skakel en dan weer ry om dit te gaan aanskakel. Doen hulle dit nie, kan die pompe oppak of die waterpype bars. As daar 300 spilpunte is wat so opgepas moet word, maak dit die personeel moedeloos, want dit sluit ook besoeke in die nagtelike ure in.” Hy sê hoewel die koste aan gebreekte pompe, pype wat bars, addisionele brandstof en oortydbetaling beduidend is, is hy bekommerd oor sy personeel se welstand.

Graan SA-fotokompetisie – Leandi Mollentze, September 2017

Eie energie-opwekking
Volgens Chris Schutte, besturende direkteur van Sonfin, is daar nie ’n sogenaamde “beste” energieoplossing wat vir alle produsente sal werk nie. “Elke boerdery se behoeftes is uniek, en die produsent moet sy energieoplossing baseer op sy unieke behoeftes en omstandighede. Aangesien die tegnologie beskikbaar is om verskillende energiebronne te integreer en gesamentlik aan te wend, moet die produsent kyk in watter kombinasie hy die bronne kan saamvoeg om aan sy unieke behoeftes en omstandighede te voldoen met ’n sogenaamde hibriede stelsel,” verduidelik Schutte.

Energie is van kritieke belang in die landbousektor – vir ’n produsent is dit uiters belangrik om die koste en implikasies verbonde aan alternatiewe energie te verstaan. Hoewel president Cyril Ramaphosa verskeie maatreëls aangekondig het om die kragsituasie in Suid-Afrika te verbeter, bly die implementering hiervan steeds ’n lang proses wat stelselmatig sal plaasvind en daar is heelwat slaggate wat in die proses vermy moet word.

Die meeste banke is gerat om produ­sente in hierdie proses by te staan. Saam met geleenthede kom daar egter ook risiko’s, meen Kyle Durham van FNB. “Ons is daar om ’n pad saam met die produsent te stap en hulle by te staan deur hierdie proses. Produ­sente is kenners op vele gebiede; en hernubare energie is iets nuuts waarin hulle hulleself die afgelope paar jaar moes opskerp. Ons besef almal kan nie kenners wees op al die gebiede wat hulle besigheid raak nie en daarom is ons daar om met raad en prosesse by te staan en te ondersteun.”

Hy wys daarop dat die eerste stap sal wees om die hele proses te ondersoek, dan moet kwotasies ingewin word en dan moet die Eskom-proses begin word. “Die Eskom-registrasieproses kan tussen twee en nege maande duur. Wanneer die produsent so halfpad met dié proses is, kan die bank genader word om die finansiering in plek te kry. Finansiering kan geskied oor ’n tydperk van tot tien jaar.”

Die beskikbare oplossings hou egter ook uitdagings in, veral as die addisionele koste veroorsaak dat produsente se somme nie klop nie.

’n Oplossing wat Van Heerden volg, is om die spilpunte so te ver­ander dat hulle vanself aankom as die elektrisiteitstoevoer herstel of weer aankom. “Vir die groter spilpunte het ons tydelik kragopwekkers geïnstalleer, maar dit kom teen ’n hoë addisionele koste.”

Bruwer stem saam. “Kragopwekkers is ’n groot hulp, maar as die koste daarvan bereken word benewens die aankoop van die opwekker, is dit maklik vier keer duurder as elektrisiteit omdat die brandstofprys so hoog is.”

Sonenergie is ’n opsie om te oorweeg, maar volgens Bruwer is dit nie die wonderoplossing wat alle probleme uit die weg gaan ruim nie. “Sonkrag is een van die opsies in die gereedskapkissie,” meen hy.

Hoewel Van Heerden nog nie sonenergie gebruik nie, is hy besig om sonpanele te installeer en as alles volgens plan loop, sal drie van sy spilpunte wat sowat 85 ha verteenwoordig, teen einde Februarie 2023 nie meer afhanklik van Eskom-krag wees nie.

Bruwer wys daarop dat ’n sonplaas meestal net krag gee vir ’n gemiddeld van agt uur per dag. Daar is dus steeds twee derdes van die dag waarvoor daar ander planne moet wees. Die ideaal is om addisionele kapasiteit te stoor vir latere gebruik, maar batterye is baie duur en het ook ’n beperkte leeftyd.

“Ek is nie teen sonkrag nie. Trouens, dit is ’n definitiewe oplos­sing, maar dit is nie so eenvoudig soos wat ’n mens dit graag sou wou hê nie,” verduidelik Bruwer. Hy raai produsente wat van plan is om alternatiewe energieopsies te oorweeg, aan om verskaffers, toerus­ting en oplossings deeglik te ondersoek en behoorlik te vergelyk. “Dit is ’n groot kapitale uitleg en die besluit moet net soos besluite oor ander bates op deeglike navorsing berus. Doen jou navorsing en win verskeie kwotasies in. Kyk na die waarborge en naverkoop­instandhouding.”

Durham stem saam. “Dit is noodsaaklik dat produsente wat hierdie opsie oorweeg ’n behoorlike keuringsproses moet volg. Ons stel altyd voor dat ten minste drie kwotasies ingewin word en dat die verskaffer se geskiedenis nagespeur moet kan word. Kontak die ver­wysings en hoor by kliënte of hulle tevrede was met die diens en produk wat gelewer is.”

Hy waarsku dat produsente op die uitkyk moet wees vir kansvatters. “Rooi ligte moet flikker as die verskaffer onmiddellik aandring op ’n deposito of as hulle voorgee dat die Eskom-proses wat gevolg moet word nie belangrik is nie.”

Durham sê die bank sal produsente kan help met ’n lys van moontlike diensverskaffers wat hulleself al bewys het. “Onthou om sonstelsels by huise te installeer, is nie dieselfde as ’n stelsel wat ’n boerdery moet bedien nie.”

Volgens Schutte het elke plaas ’n unieke kragverbruikspatroon, terwyl die ligging en grootte van die sonplaas die opwekkingsvermoë bepaal. “Dit is belangrik om dié twee faktore in berekening te bring tydens jou beplanning.”

Hy sê ander aspekte wat produsente in gedagte moet hou, sluit in Eskom se beleid wat bepaal dat gestoorde krag slegs binne ’n bergingsiklus van maand tot maand oorgedra mag word. Gestoorde krag wat in rooi tyd (peak) opgewek is, moet weer in rooi tyd en binne dieselfde bergingsiklus gebruik word. “Dié periode is jaarliks van 1 April tot 31 Maart die daaropvolgende jaar – alle krag wat op 31 Maart nog gestoor is, mag nie oorgedra word nie en is dus verlore vir toekomstige verbruik.”

Die kontrakteur wat die stelsel installeer, behoort ’n vooruit­skatting te kan gee van hoeveel krag die sonstelsel per maand gaan produseer. As dit met die maandelikse verbruik vergelyk word, behoort dit ’n aanduiding te gee van hoeveel krag gestoor sal word en ook van hoeveel moontlik verlore sal gaan aan die einde van Maart elke jaar.

Bruwer sê dit is raadsaam om met ander produsente en landboubesigheidseienaars wat reeds hernubare-energiestelsels ge-installeer het, te gesels. “Hoor of hulle tevrede is met die werklike energielewering en -benutting vergeleke met die beloofde spesifikasies. Die afgelope jaar het daar tientalle verskaffers aan ons deure kom klop met aanbiedings waarvan party net te goed is om waar te wees. Moenie dat iemand jou met ’n slap riem vang in ’n tyd van benoudheid nie.”

Intussen het Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, tydens die Agri SA-kongres wat in Pretoria gehou is, gesê dat beurtkrag vir ’n tyd lank nog deel van Suid-Afrikaners se lewe gaan uitmaak. “Ek is huiwerig om ’n tyd daaraan te koppel, maar dit kan nog vir ’n jaar of 18 maande duur.”

Hy het genoem dat dit goed sal wees as ’n tipe fase 2-beurtkrag ingestel word sodat almal, wat produsente insluit, sal kan beplan en hul lewens daarvolgens kan inrig. Hy het gesê dat dit Eskom die geleentheid sal gee om behoorlike onderhoudswerk te doen.

Oberholzer het ook gesê hy meen dat Eskom en produsente nader aan mekaar moet beweeg. Daar moet beter begrip wees van hoe kragonderbrekings die landbou beïnvloed. “Ons moet kollektief beter oplossings soek.”

Neem kennis
Wanneer sonkragstelsels op jou plaas opgerig word, is daar verskillende goedkeurings wat verkry moet word. Eskom se webwerf bevat heelwat inligting oor alternatiewe kragopwekking asook die moets en moenies. Besoek https://www.eskom.co.za/Whatweredoing/SSEG/Pages/default.aspx