Izak behaal ’n kolskoot met sojabone

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 Desember 2022

563

Izak van Zyl van Makwassie – met ’n rekordopbrengs van 5,408 t/ha met die Don Mario-Agricol-variëteit DM 6.8iRR – het met die louere weggestap tydens die Groei vir Goud Nasio­nale Opbrengskompetisie in die afdeling vir sojabone wat in die Noordwes verbou is. Hierdie rekordopbrengs is behaal met ’n variërende insetkoste van R5 000/ton.

Hy boer met mielies, sojabone, sonneblom, koring en beeste op die plaas Knapdaar in die Makwassie-distrik. Izak pas ’n wisselboustelsel toe, waarin hy wissel tussen sojabone, mielies, sonneblom, koring en dekgewasse.

Izak van Zyl behaal ’n rekordopbrengs van 5,408 t/ha en stap weg met die louere in die afdeling vir sojabone in die Noordwes.

Sy eeste is ‘n weninskrywing
Dit is die eerste jaar dat hy aan die kompetisie deelneem, maar reeds die vyfde jaar wat hy dié variëteit plant. In die 2021/2022-seisoen het hy 400 ha met DM 6.8iRR geplant. Op die gedeelte wat vir die opbrengskompetisie ingeskryf is, het hy addisionele kalsium-, magnesium- en swaelkorrels toegedien. Sy sojabone is op 7 Desember 2021 geplant en hy het in die laaste week van Mei 2022 gestroop.

Hoewel opbrengs belangrik is, bly wins bobaas, meen Izak. “Die balans tussen opbrengs en wins is belangrik. Ek streef daarna dat die plaas se inkomste altyd 30% bo die uitgawes moet wees.”

Die langtermyn- gemiddelde reënval op die plaas is 450 mm tot 480 mm per jaar. Volgens Izak het hulle die afgelope drie jaar buitengewoon hoë reënval gehad, met 821 mm in 2019/2020 en 693 mm in 2020/2021. Vanaf Oktober 2021 tot Mei 2022 het hy 963,5 mm reën op sy plaas ontvang. Die verspreiding was as volg: Oktober – 113 mm, November – 70 mm, Desember – 280,5 mm, Januarie – 191,5 mm, Februarie – 50,5 mm, Maart – 168 mm, April – 37 mm en Mei – 53 mm. Die goeie reën het egter ook gesorg vir die grootste uitdaging die afgelope seisoen. “Ons het gesukkel met te veel vog – dit het kopkrap geverg om die oormaat vog na behore te bestuur.”

Izak volg ’n minimumbewerkingstelsel. Hy doen ’n skeurtand­bewerking van 700 mm diep op die lande waar hy beplan om mielies te plant. Hy plant sy mielies in drievoetrye (0,91 m) en volg dan ’n spoorverkeerstelsel met behulp van RTK (real-time kinematic) GPS. Wanneer hy sojabone plant, volg hy ’n minimumbewerkingstelsel waar hy net eg om die lande skoon en gelyk te kry. Die sojabone word in 457 mm-rye weerskante van die vorige jaar se mielierye geplant. Izak sit die beeste in die lande om na strooptyd op die oesreste te wei.

Sy onkruidbeheerprogram op die spesifieke gedeelte wat vir die kompetisie ingeskryf is, het nie afgewyk van sy normale praktyk nie. Hy het voor plant glifosaat saam met ’n vooropkomsonkruiddoder gespuit en toe weer na opkoms met ’n na-opkomsonkruiddoder.

Izak doen vloeibare seolietbespuitings voorkomend vir siektes en wanneer dit nodig is, sal hy ook ’n swamdoder toedien. Insekdoders word gebruik soos en wanneer nodig.

Wat sy kunsmisprogram betref, het hy die volgende elemente op al die sojabone toegedien:

  • Stikstof (N) 8,7
  • Fosfaat (P) 39
  • Kalium (K) 5
  • Swael (S) 12
  • Mangaan (Mn) 3
  • Sink (Zn) 0,9
  • Molibdeen (Mo) 0,2
  • Koper (Cu) 1,1
  • Kalsium (Ca) 100
  • Magnesium (Mg) 24
  • Yster (Fe) 0,1

Die gedeelte van die land wat vir die kompetisie ingeskryf is, is op Tukulu-grond geplant, maar die res van sy plaas is ’n legkaart van verskillende grondtipes.

Izak varieer sy plantestand en kunsmis volgens die verskillende grondtipes, gronddieptes en topografie. Hy probeer om by sy beplanning te hou waar hy elke drie jaar grondontledings doen. Alhoewel hy sy eie proewe op die plaas plant, kyk hy ook na ander nasionale proewe en medeprodusente om te help met besluitneming.

As Izak nog iets in sy boerdery moes verander, sou hy graag meer op sy arbeidsmag en hulle opleiding wou fokus.

Sy raad ander produsente is eenvoudig: “Plant in die kol, plant Agricol.” Hy meen dié maatskappy se sojaboonvariëteite is topgehalte en lewer uitstekende opbrengste. Hy sê dit is noodsaaklik om te kyk wat die plant gelukkig maak en waarsku dat ’n mens nie sommer voor die voet die raad van boeke moet volg nie. “In die natuur is 1+1 nie altyd 2 nie en daarom is goeie beplanning en denke nodig voor en tydens elke seisoen.”