Rolspelers praat prontuit oor brandpunte

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 2 Augustus 2022

41

Die privaat landbousektor het Suid-Afrika die afgelope paar jaar deur moeilike tye gedra en verseker dat die land se inwoners genoeg kos gehad het, het Agbiz se voorsitter, Francois Strydom, in sy ope­ningsboodskap tydens die onlangse Agbiz-kongres by Sun City gesê.

Volgens Strydom speel Agbiz ’n bepalende rol om ’n ondersteunende omgewing te skep waarbinne die landbousektor sake kan bedryf. Die doel van die aanbiedings en besprekings tydens die kongres was om die landboubesigheidsektor en rolspelers binne die landbouwaardeketting te ondersteun en het ook almal se toewyding tot voedselsekerheid en ekonomiese groei in die land beklemtoon.

Strydom het daarop gewys dat Agbiz se lede meer as 70% van Suid-Afrika se kos, voer, vesel en veeprodukte voorsien en ’n bydrae van meer as R12 miljard in uitvoere lewer.

Francois Strydom tydens sy openingsboodskap by die onlangse Agbiz-kongres.

Kwessies wat voortdurend tydens die kongres genoem is en wat volgens die kongresgangers ’n bepalende invloed op die landbou en sakesektore het, sluit die volgende in:

  • Uitdagings weens die gebrek aan infrastruktuur;
  • die agteruitgang van infrastruktuur;
  • elektrisiteitsvoorsiening;
  • logistieke uitdagings ten opsigte van spoor-, pad- en lugvrag;
  • veiligheid, geweld en kriminele aktiwiteite;
  • die gebrek aan kapasiteit binne staatsdepartemente; en
  • globale handelsooreenkomste en -beleid.

Die oorlog in die Oekraïne en die impak daarvan op wêreldvoedsel- en insettekorte is herhaalde kere genoem. Richard Smith-Bingham, uitvoerende direkteur van Marsh & McLennan wat hulle toespits op risiko-analises, het die impak beklemtoon en gewaarsku dat die oorlog wat tans tussen die Oekraïne en Rusland plaasvind, een van die belangrikste risikofaktore in die wêreldekonomie is. Ander risiko’s sluit volgens hom klimaatsverandering en die digitale agenda van rolspelers in. Hy meen hierdie risiko’s het ’n invloed op ekonomiese en fiskale groei, handel, die waardeketting, vennootskappe asook stabiliteit binne gemeenskappe.

Impak van beurtkrag
Met die uitdagings wat beurtkrag aan die land se ekonomie en spesifiek aan landbou stel, was almal se ore gespits om te hoor wat Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, sou sê.

Tydens die kongres het fase 2-beurtkrag gegeld. Pas na die kongres, is fase 4-beurtkrag aangekondig weens onwettige sta­kings deur werknemers by verskeie van Eskom se kragstasies met waarskuwings dat fase 6 in werking gestel sou word (wat toe wel op 28 Junie gerealiseer het). De Ruyter het prontuit gepraat oor die geweldige uitdagings wat voor die kragvoorsiener se deur lê.

Beurtkrag is reeds in 2008 ingestel. “In 2010 is ons aangesê om die ligte ten alle koste aan te hou tydens die Wêreldsokkerbeker-toernooi en dit het sy tol op die opwekkingseenhede geëis,” het hy gesê.

Volgens De Ruyter gaan Eskom R1 200 miljard (R1,2 biljoen) se beleggings in infrastruktuur nodig hê voor 2030 om die land se ligte aan te hou.

Eskom se huidige probleme het ’n lang aanloop van verkeerde besluite, ontwerpfoute, onvoldoende beplanning, wanadministrasie, sabotasie en korrupsie. Volgens De Ruyter het Eskom se probleme in 1998 begin toe die regering nie ag geslaan het op aanbevelings dat die kragreus sy opwekkingsvermoë moet vergroot nie. Boonop is tenders aan maatskappye wat substandaardsteenkool aan Eskom verkoop het, toegeken. Hy het erken dat gebrekkige ervaring en kennis binne Eskom ook tot die probleem bydra.

Eskom bevind homself in ’n finansiële verknorsing. Naas steenkool, is skuld die kragvoorsiener se grootste uitgawe. Dit kos Eskom R35 biljoen per jaar om sy skuld te delg en hulle bestee meer aan rente as aan salarisse en instandhouding.

Daar is tans 6 100 MW minder elektrisiteit beskikbaar as die geskatte kapasiteit volgens die geïntegreerde hulpbronplan in 2019 (IRP2019). Daarbenewens is meer as die helfte van Eskom se krag­stasies ouer as 40 jaar. As die kragstasies teen 2025 nié aan die minimum standaarde vir uitlaatgasse voldoen nie, sal dit afgesit moet word en dit sal lei tot ’n verlies van 30 GW. Permanente fase 8-beurtkrag is dan ’n groot waarskynlikheid.

“Ons het dringend 4 GW tot 6 GW se bykomende opwekkings­kapasiteit nodig om beurtkrag te staak. Die antwoord lê egter nie daarin om ons eenhede harder te laat werk of beter instandhou­ding te doen nie. Ou toerusting moet eenvoudig met nuwe, meer doeltreffende en moderne tegnologie vervang word,” het hy gesê.

Eskom benodig sowat R300 miljard vir toerusting om uitlaatgasse binne aanvaarbare perke te kry. Hy het bygevoeg dat dié toerus­ting nie bykomende opwekkingsvermoë gaan lewer nie, maar dat dit sowat 10 MW krag per stasie en ’n bykomende 16 biljoen liter water per jaar gaan verg.

Spesiale erkenning is postuum aan Kobus Steenekamp toegeken tydens die Agbiz-kongres. Sy eggenoot, Pamela, en seun, Stefan, het die toekenning ontvang. Steenekamp, kommersiële landbouhoof van Bayer Crop Science, is as ’n ware legende van die Suid-Afrikaanse landbousektor beskryf. Hy is op 3 Julie 2021 aan COVID-19-verwante komplikasies oorlede.

Omskakeling na hernubare energie
Die vertraging in die verkryging van hernubare, onafhanklike kragverskaffers beteken dat daar teen 2026 14% minder hernubare onafhanklike kragverskaffers sal wees as wat aanvanklik beplan is en dat dit kan styg tot 51% in 2030.

“Eskom fokus ernstig daarop om beleggers vir hernubare energie te werf, veral in Mpumalanga, waar daar reeds ’n goeie kraginfrastruktuur is. Die meeste steenkoolkragstasies is in Mpumalanga en het goed ontwikkelde transmissie-infrastruktuur. Soos ons hierdie steenkoolkragstasies gaan afskakel, sal ons die transmissiekapasiteit beskikbaar kan stel vir koppeling met alternatiewe kragopwekking,” meen De Ruyter.

Hy het bygevoeg dat dit ’n wanopvatting is dat Mpumalanga nie goeie son- en windopwekkingsvermoë het nie. “Studies wat hier gedoen is se uitslae is baie bemoedigend. Dié provinsie het baie meer son en wind as wat besef word.”

Die koste om hernubare energie op te wek, het drasties verminder danksy tegnologiese vooruitgang en ekonomieë van skaal – dié van sonkrag is met 91% goedkoper en windkrag tot 82%. Waar dit vroeër meer as R3/kW sou kos om elektrisiteit met die son op te wek, kos dit nou slegs 36c/kW. Hy meen dit verhoog die lewensvatbaarheid van beleggings deur die privaat sektor en het gesê dat dit belangrik vir private kapitaal is om toegang tot hierdie mark te hê.

Die Komati-kragstasie sal een van die eerste steenkoolkrag­stasies wees wat afgeskakel gaan word. Daar sal 100 MW se sonpa­nele en 70 MW se windkrag asook 150 MW se batterystoorkapasiteit geïnstalleer word.

De Ruyter het beklemtoon dat werknemers by die kragstasies wat afgeskakel word, op ander maniere in die stelsel ingesluit moet word. “Hierdie kragstasies kan as opleidingsfasiliteite gebruik word om die werkne­mers as son- en windtegnikusse op te lei.” Hy meen dat tot 300 000 werksgeleenthede geskep kan word met die vervaardiging en oprigting van nuwe kraginfrastruktuur.

Hy het verder genoem dat krag egter steeds maklik vermors word met oneffektiewe toerusting. “In Suid-Afrika is daar nog baie ou en ondoeltreffende toerusting, soos byvoorbeeld pompe, wat gebruik word.” Hy het na Duitsland se sakesektor verwys waar rekenskap gegee kan word van elke eenheid krag wat verbruik word. Hy het ook genoem dat elektrisiteit nog nie duur genoeg is nie en dat koste-doeltreffende tariewe inge­stel sal moet word om beleggers te lok.

Spesiale erkenning is aan dr John Purchase, voormalige HUB van die Landbou­besigheidskamer (Agbiz) tydens die kongres gegee. Voordat hy die posisie as HUB by Agbiz beklee het, was hy die HUB van Graan SA. Dr Purchase het sy loopbaan as wetenskaplike begin by die Landbounavorsingsraad (LNR). Hy is alombekend vir die fasiliteringswerk wat hy binne die groter besigheidsomgewing gedoen het om landbou te bevorder.

Groeigeleenthede binne landbou
Paneelbesprekings wat deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) gelei is, het gefokus op die vrugte-, graan-, oliesaad- en veebedrywe en hoe hierdie bedrywe die uitdagings wat aan hulle gestel word, kan oorkom. Dr Mmathlo Kalaba van BFAP het in sy samevatting van die paneelgesprekke genoem dat dit belang­rik is dat Suid-Afrika ’n oplossings vir korrupsie moet vind. Hierdie siening is herhaaldelik tydens die kongres ge­noem. Die landboubesigheidsektor word direk geraak deur misdaad en korrupsie en moet jaarliks baie geld bestee aan beveiliging, terwyl dit nie besigheid se sleutelfunksie is om die land se inwoners te beskerm en beveilig nie.

Tydens die gesprekke was dit duidelik dat werkskepping, veiligheid en sekuriteit, finansiële beleggings, marktoegang, die uitvoering van planne wat opgestel is, verbeterde regeringskapasiteit en ondersteuning, en die verbetering en instandhouding van infrastruktuur nodig is om die groeigeleenthede binne die landbou, asook transformasie te ontsluit.

Dit was duidelik dat die landbousektor self sal moet inspring en die wa deur die drif trek om vooruitgang te bewerkstellig, want daar is nie iemand anders wat dit gaan en kan doen nie.

Die rol van die regering
Kgosientso Ramokgopa, hoof: Beleggings en Infrastruktuur in die kantoor van die Presidensie, het erken dat daar ernstige probleme in die regering is. “Ons het nie geldelike probleme nie, ons het probleme met spandering en geld wat wegraak.” Hy het ook genoem dat 80% van alle goedere in die land per pad vervoer word en slegs 20% per spoor. “Dit is ’n tendens wat ons wil ver­ander,” het hy gesê.

Rodney Bell, uitvoerende hoof van CropLife SA, het tydens ’n paneelbespreking oor regulatoriese ondersteuning wat vooruitgang moet stimuleer, gewaarsku dat Suid-Afrikaanse produsente vinnig by die punt gaan kom waar hul uitvoerprodukte nie meer mededingend gaan wees indien die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) nie die registrasie van nuwe chemiese, GMO- en ander tegnologie vinniger gaan afhandel nie.

Dr Lukeshni Chetty, algemene bestuurder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR), het gesê Suid-Afrika was voorheen aan die voorpunt met die aanvaarding van GMO-tegnologie. “Kenia, Nigerië en Malawi het hul wetgewing aangepas, maar dit lyk nou of Suid-Afrika se entoesiasme afgeneem het. Dit hou ’n groot risiko vir voedselsekerheid in.”

Sy het egter afgesluit met die versekering dat landbou-instansies soos SANSOR en Croplife SA daar is om hande met die regering te vat en te beding vir ’n ondersteunende landbou-omgewing.