Alle diere benodig ’n paar dinge om aan die lewe te bly: kos, water, skuiling, woonplek, teel- of broeiplek en wegkomplek as die nood dreig. Knaagdiere wat met mense saamleef, soos byvoorbeeld bruinrotte, swartrotte en huismuise is oor eeue heen aangepas om al hulle lewensbehoeftes in mensgemaakte omgewings te vind, terwyl ons inheemse knaagdiere hulle lewensbehoeftes selde of ooit by ons vind.
Die algemeenste knaagdiere wat in menslike omgewings pla, is bruinrotte en huismuise. Swartrotte, wat ook as dakrotte bekend staan, is skaars in Suid-Afrika. Dit is haas ondenkbaar om ’n plaaswerf te vind waar daar geen muise en rotte is nie, en as daar boonop ’n stoor is, is daar beswaarlik beter woonplek vir bruinrotte en huismuise.
Dierevoeding, boumateriaal, trekkers, implemente, druppende krane, hout en rommel wat in en om plaasstore te vinde is, is soos ’n magneet vir rotte en muise. Hou maar net die Jack Russell-hondjie dop as hy of sy die stoor inspekteer: Die stertjie swaai so vinnig soos ’n windpompwiel vanweë die reuk van rotte en muise wat jagtogte belowe.
Pasop vir die skade wat rotte en muise aanrig
Knaagdiere knaag; dit is die wetenskaplike feit wat dikwels oorgesien word. Hul voortande (knaagtande) hou nooit op om te groei nie. Hulle gebruik die knaagtande om kos fyn te knibbel en hulle knaag ook aan enige redelik harde materiaal om die tande se lengte op standaard en skerp te hou. Enige hout (selfs dakbalke) loop onder rotte en muise deur, terwyl kartondose fyn geknaag word vir nesmaakmateriaal.
Die groot skade kom wanneer die klein peste in die enjins van voertuie en implemente invaar en elektriese geleiers (bedrading) beskadig of selfs afknaag. Dieselfde kan ook met geboue soos store en pakhuise se bedrading gebeur en dit kan tot kortsluitings lei wat gevaarlike brande kan veroorsaak. As knaagdiere op voedselstowwe is en urineer, hou dit ernstige gesondheidsrisiko’s vir mens en dier in. Plaaslike en uitvoermarkte is ook gunstige plekke vir knaagdiere. Knaagdierbeheer moet met groot erns toegepas word om te voorkom dat vars voedsel patogene wat deur knaagdiere oorgedra word, versprei.
Vermy skade aan die natuurlewe
Dit is amper ondenkbaar om ’n plaaswerf sonder nonnetjiesuile te hê, terwyl gevlekte ooruile ook algemene plaaswerfbewoners is. In die somermaande kan daar selfs bruin jakkalsvoëls wees wat op plaaswerwe jag maak op knaagdiere. Alhoewel slange die meeste mense spoed laat optel, behoort hulle baie welkom te wees in plaasstore omdat hulle van knaagdiere leef wat produsente se store beset. Onthou dat honde en katte nie net troeteldiere is nie, maar ook kranige knaagdierjagters.
Die laaste ding wat moet gebeur is dat die uile, roofvoëls en roofdiere sekondêre vergiftiging van knaagdierdoders opdoen. Hierdie middels moet dus met groot omsigtigheid gekies en aangewend word. ’n Ander kommer is dat honde enige iets wat na kos lyk of ruik sal vreet en as knaagdierdoders nie volgens die etiket aangewend word nie, kan honde vergiftig word en selfs daarvan vrek.
Span die uile in
Uile is hoogs effektiewe rot- en muisvangers. Nonnetjiesuile is meer op muise as op rotte gefokus. As ’n paartjie egter ’n span kuikens (soms soveel as agt in een broeisel) in ’n nes het, sal hulle tot 60 muise per nag vang. ’n Paar gevlekte ooruile met twee kuikens kan tot agt rotte per nag vang en waarskynlik meer as 20 muise. Dit is dus die moeite werd om uile te lok na ’n plaaswerf met store.
Neskaste is gewild onder produsente, en baie bou dit sommer self uit goedkoop hout. JoJo-tenks verskaf ook ’n vyfsteruilkas wat van uiters duursame hoëdigtheidpoliëtileen gemaak is en feitlik onvernietigbaar is. Dit maak nie eintlik saak watter model uilkas die produsent kies nie, beide die nonnetjies- en gevlekte ooruile gebruik die plastiek- en houtkaste met groot gemak. Die kaste kan teen die buitemuur van die stoor of skuur opgerig word, of staangemaak word op ’n paal van 4 m hoog, enige plek op die werf.
Albei uilsoorte is hoogs verdraagsaam teenoor die teenwoordigheid van mense en selfs raserige honde soos Jack Russells. As nonnetjiesuile in die store mors (hulle kan nogal groot hoeveelhede mis), is die beste oplossing om dun binddraad op die balke te span waar hulle gewoonlik sit, sodat hulle nie meer daar kan sit nie. Rig egter eers die uilkaste op en sit sommer enkele bykomende 4 m hoë pale as sitplekke om die stoor op. ’n Ander plan is om ’n seil onder die balke waar hulle sit op te hang, sodat die mis daarop val en nie op trekkers en implemente nie.
Die gebruik van knaagdierdoders
Daar kom ’n tyd wat knaagdiere so ernstig aangewas het dat selfs die uile nie die peste onder beheer kon hou nie – dit is wanneer knaagdierdoders ingespan moet word. ’n Paar goue reëls vir die veilige en verantwoordelike gebruik van knaagdierdoders sluit in:
- Slegs geregistreerde knaagdierdoders mag gebruik word. Mense wat karbamaatinsekdoders met kos meng om knaagdiere dood te maak, tree nie net onwettig op nie, maar skep ook ’n groot risiko met sulke onwettige gebruike.
- Plaas altyd knaagdierlokaas soos wasblokke, pastablokke, korrels en graanlokaas in lokaashouers op plekke waar dit totaal buite die bereik van honde en kinders is. Honde en kinders is uiters nuuskierig en sal sonder skroom lokaas ondersoek en eet, soms met dodelike nagevolge.
- Probeer die knaagdierlokaas gebruik wanneer daar geen uilkuikens in neste is nie, aangesien die uile dan minder knaagdiere hoef te vang wat die risiko van sekondêre vergiftiging verlaag.
- Gebruik knaagdierdoders wat min of geen sekondêre vergiftigingsrisiko vir uile inhou nie. Daar is verskeie van hierdie middels in Suid-Afrika beskikbaar. Sommige “kundiges” beweer dat alle knaagdierdoders sekondêre vergiftiging van uile veroorsaak. Dit is blatante onsin uit die mond van onkundiges met geen idee van die beginsels van toksikologie nie.
- Gebruik knaagdierdoderformulasies wat hoogs aanloklik is in store waar voedsel geberg word, anders sal knaagdiere nie die lokaas vreet nie. Pastalokaas is gewoonlik baie suksesvol waar baie kos is. Plaas wasblokke in lokaashouers in enjins en implemente terwyl die werktuie nie gebruik word nie as ’n konstante buffer teen knaagdiere wat elektriese bedrading beskadig.
- Daar is ook ’n spoorpoeier beskikbaar wat in knaagdiere se gate of loopplekke aangewend kan word. Knaagdiere tel die spoorpoeier in hul pelse op en neem dit oraal in wanneer hulle hulself skoonmaak.
- Vloeistoflokaas kan ook suksesvol aangewend word, maar dit mag slegs verskaf word deur handelaars wat lisensies vir die verkoop van gevaarhoudendestowwe het en die gifregisters byhou.
- Ongeag watter knaagdierdoders aangewend word, die risiko van sekondêre vergiftiging kan verder verminder word as die dooie knaagdiere versamel en vernietig word. Inspekteer vier oggende ná die eerste aanwending binne en buite geboue vir dooie knaagdiere en die wat op pad knaagdierhemel toe is. Versamel en vernietig hulle.
Knaagdierdoders wat kumatetraliel, difenakum en cholekalsiferol bevat, hou ’n baie lae risiko vir sekondêre vergiftiging van uile in. Neem asseblief kennis dat al hierdie middels, net soos die ander wat minder veilig vir uile is, dodelik is vir honde.
Weeklikse inspeksie van store is belangrik om te bepaal of daar knaagdierinfestasies is. Wanneer tekens soos mis, die bekende onaangename urienereuk of knaagmerke opgemerk word, moet knaagdierdoders ingespan word.
Produsente wat wil uitvind watter middels die veiligste omgewing vir uile gaan skep, moet asseblief per WhatsApp-boodskap navraag doen by 082 446 8946.