Boeredag plaas kollig op pekanneute

Joubert Swanepoel, Agricol
Gepubliseer: 6 Junie 2022

1052

Agricol het beginner- en gevorderde pekanneutprodusente genooi na ’n allesomvattende boeredag in Mei wat spesifiek gefokus het op pekanneutproduksie. Die dag is in Potchefstroom gehou op Agricol se navorsingstasie by hul pekanneutboord waar daar reg deur die seisoen sterk gefokus word op grondgesondheid vir optimale boordgesondheid.

By hierdie pekanneutboord word belangrike inligting ingesamel oor grondtemperature onder dekgewasverbouing en op gronde sonder dekgewasse. Die dag was gefokus op alle aspekte van pekanneutproduksie, insluitende grondgesondheid, dek­gewasse vir boorde, besproeiingskedulering, blaarvoedings en algemene boordgesondheid.

Agricol se dekgewasspesialis, Dawie du Plessis, het produ­sente toegespreek oor die belangrikheid van dekgewasse in pekanneutboorde en het baie klem gelê op die reëls wat gevolg moet word vir goeie grondgesondheid. Volgens hom was die opkoms by hierdie geleentheid so goed dat dit in die toekoms beslis ’n jaarlikse instelling gaan wees, met die dag wat nog verder uitgebrei gaan word.

Die pekanneutboord op Agricol se navorsingstasie waar baie navorsing oor dekgewasse vir pekanneutboorde gedoen word.
Agricol se Dawie du Plessis demonstreer hoe dekgewasse grond se gesondheid en waterhouvermoë verbeter.
Daniel Jordaan van Elim Kunsmis het produsente ingelig oor die waarde van blaarvoedings op verskillende tye van die jaar.
Carlo Pelster van Agricol (links) en Leonard Hein van AquaCheck (regs) gesels met produsente oor die belangrikheid van grondtemperature en besproeiingskedulering in boorde.