Swamsiektes op mielieblare: ’n samevatting

De Bruyn Myburgh, landboukundige, Pioneer
Gepubliseer: 4 Mei 2022

57

Mielieblaarsiektes is nie ’n nuwe verskynsel nie. Die verspreiding en intensiteit van mielieblaarsiektes verskil egter van jaar tot jaar weens veranderde weers­toestande in die groeiseisoen, plantdatums en verbouingspraktyke in ’n spesifieke land.

Blaarsiektes in mielies kan hoofsaaklik in twee groepe verdeel word, naamlik siektes wat veroorsaak word deur bakterieë en siektes as gevolg van swamme. Dit is belangrik om te verstaan dat beide bakteriese en swamblaarsiektes drie gunstige faktore benodig vir infeksie.

Mielieblaarsiektes kan dus slegs voorkom indien die volgende saam voorkom:

  • ’n Vatbare gasheer (mielie),
  • gunstige weerstoestande (temperatuur, humiditeit, blaarnatheid, ensovoorts); en
  • die patogeen (bakterie of swam).

Dié faktore vorm die drie bene van die siektedriehoek. Al drie faktore moet op dieselfde tyd teenwoordig wees vir infeksie om voor te kom op die mielieblaar. Figuur 1 gee ’n goeie skematiese voorstelling van hoe die siektedriehoek werk.

Figuur 1: Siektedriehoek

Elke bakteriese en swamsiekte het verskillende voorkeure vir weerstoestande voordat infeksie kan plaasvind. Simptome verskyn ’n paar dae na die aanvang van die infeksie op ’n vatbare gasheer (mielie) in die teenwoordigheid van gunstige weerstoestande en gewillige patogene. Die algemeenste swamsiektes in Suid-Afrika op mielieblare, is grysblaarvlek en noordelike blaarskroei. Ander swamsiektes wat sporadies voorkom, is gewone bruinroes, polysora-roes, oogvlek en phaesophaeria-blaarvlek.

Grysblaarvlek
Simptome

  • Die letsels is lank (5 mm tot 70 mm), smal (2 mm tot 4 mm) en reghoekig van aard.
  • Letsels word beperk tot tussen die nerwe van die blaar.
  • Siekte versprei van die ouer onderste blare opwaarts na die jonger blare.
  • Wanneer die baster hoë sensitiwiteit toon, kan letsels ineenvloei en die hele blaar vernietig.
  • Wanneer die letsels verouder, verander dit na ’n grys kleur.
Grysblaarvlek

Omgewingstoestande

  • Hoë relatiewe humiditeit (hoër as 90%) vir meer as twaalf ure.
  • Lang periodes van blaarnatheid.
  • Matige temperature.
  • Voorkoms van die swam het veral verhoog onder minimum- tot geenbewerkingspraktyke en groot infeksies vind plaas op lande waar mielies op mielies verbou word (geen wisselbou).
  • Infeksie kan plaasvind vanaf V5- tot R3-stadiums.
  • Grysblaarvlek versprei gewoonlik baie vinnig gedurende die laat somer of vroeg herfs.

Noordelike blaarskroei
Simptome

  • Lang (2,5 cm tot 5 cm) grys tot ligbruin sigaarvormige letsels.
  • Blare van plante wat swaar geïnfekteer is, skroei heeltemal af.
  • Letsels vloei ineen en vorm een groot sigaar wat die totale blaaroppervlakte bedek.
  • Letsels word nie beperk tot tussen die nerwe van die blaar soos by grysblaarvlek nie.

Omgewingstoestande

  • Omgewingstoestande wat noordelike blaarskroei laat voor­kom, is:
  • Swaar dou en gereelde reënbuie, met blaarnatheid van omtrent ses ure.
  • Hoë humiditeit.
  • Matige tot hoë temperature.
  • Voorkoms van die swam het veral verhoog onder minimum- tot geenbewerkingspraktyke en groot infeksies vind plaas op lande waar mielies op mielies verbou word (geen wisselbou).
  • Infeksie kan plaasvind vanaf V5- tot R3-stadiums.

Gewone bruinroes en polysora-roes
Simptome: Gewone bruinroes

  • Verhewe puisies op blare wat bak­steenrooi tot kaneelbruin van kleur is.
  • Puisies is ovaalvormig en ongeveer 0,3 cm lank.
  • Dit kan verspreid wees oor blaar of saam gegroepeer as bande.
  • Roespuisies kom op die onderste en boonste blaaroppervlak van blare voor.
  • Roespuisies kom op blare voor.

Simptome: Polysora-roes

  • Puisies is lig oranje tot kaneelbruin van kleur.
  • Roespuisies is baie klein en rond, en verspreiding op blaar is baie dig in vergelyking met bruinroes.
  • Puisies kom op die boonste blaaroppervlak voor.
  • Roespuisies kan voorkom op die blaarskede, stamme en kopstele.

Phaesophaeria-blaarvlek en oogvlek
Simptome: Oogvlek

  • Die letsels is ronderig van vorm.
  • Letsels het ’n bruin vlek in die middel van geel omsoming.
  • Die bruin vlek sal duidelik wees wanneer die blaar in die lug gehou word.
  • Die letsel is baie klein (1 mm tot 4 mm) en kom in groot hoeveelhede op die blaar voor.
  • Koel temperature met dou op blare is weerstoestande wat benodig word vir oogvlek om voor te kom.

Simptome: Phaesophaeria-blaarvlek

  • Letsels is meer ovaalvormig en baie groter as die van oogvlek.
  • Dit kan omtrent 3 mm tot 20 mm wees in grootte.
  • Letsels het ’n duidelike wit kleur (verbleiking) in die middel en die geel “halo” is baie dunner as die van oogvlek.
  • Dit kom voor aan die einde van die groeiseisoen soos wat die winter nader kom en kouer toestande meer voorkom.

Beheermaatreëls vir swamme
Daar is verskillende beheermaatreëls wat gevolg kan word vir die bestuur en onderdrukking van swamme.
Plant van tolerante basters

  • Pioneer-basters word op ’n siekteskaal gegradeer. Die siekteskaal (Figuur 2) is van 1 tot 9, met 9 wat aandui dat die baster hoogs tolerant teen ’n sekere swam is en 1 wat beteken dat dit hoogs vatbaar vir ’n sekere swam is.
  • Plant die regte baster in die area indien swamme en weerstoestande teenwoordig is waar mielieverbouing gaan plaasvind.
  • Geen baster is immuun teen swamme nie, maar eerder tolerant tot die swam.

Vermindering van plantreste

  • Deur grondbewerking word besmette plantreste van die vorige seisoen met grond vermeng wat die ontbinding van die reste bevorder.
  • Deur seker te maak dat lande tydens die braaklêperiode onkruidvry bly, sal help met die bekamping van die verspreiding van swamme omdat sekere onkruide as gasheer optree.
  • Gewasrotasie sal help met die vermindering van spore weens minder vatbaarheid vir sekere swamme.
  • Die plant van dekgewasse in die wintermaande help met die onderdrukking van die hoeveelheid spore in die land. Dekgewasse is dus ook ’n wisselboupraktyk.

Swamdoders

  • Swamdoders kan aangewend word as ’n voorkomende beheermetode wat help met die onderdrukking van swamme.
  • Oorweeg die volgende faktore voor swamdoders toege­dien word:

    • Vorige gewas en bewerkingspraktyke wat gevolg is.
    • Verdraagsaamheid van die baster.
    • Die klimaat wat heers.
    • Plantdatum.
    • Die swam wat beheer moet word.

    Vir meer inligting gaan na www.pioneer.com/za of stuur ’n e-pos na info.rsa@pioneer.com.

    Figuur 2: Siekteskaal