’n Rewolusie in sojaboonproduksie is hier

Leonard Oberholzer, markontwikkelingsleier, Bayer, Suid-Afrika
Gepubliseer: 28 Junie 2022

730

Daar word verwag dat INTACTA® RR2 PRO die hoeksteen in Bayer se volgende generasie sojaboonproduksie in Suid-Afrika gaan word. Hierdie nuwe eienskap verteenwoordig ’n unieke mylpaal vir Suid-Afrikaanse produsente, aangesien dit die eerste geneties gemanipuleerde sojabooneienskap is wat in 20 jaar deur die Suid-Afrikaanse regulatoriese liggaam goedgekeur is.

Die bekendstelling van INTACTA RR2 PRO bied ’n nuwe keuse vir insekbeheer aan Suid-Afrikaanse produsente en skep die geleentheid om innovasie vir hierdie kerngewas te bevorder. Dit bied talle voordele aan sojaboonprodusente, insluitend beskerming teen die ernstige voedingskade wat deur die Afrika-bolwurm veroorsaak word. Verder bied dit ’n toename in produktiwiteit asook weerstand teen glifosaat wat deur die Roundup Ready®2- (RR2-)tegnologie gebied word. Laastens hou hierdie sojaboontegnologie talle voordele vir die omgewing in.

Een van die hoof- en eksklusiewe voordele van dié tegnologie, is beskerming teen die peste wat sojaboongewasse die meeste bedreig. Afrika-bolwurm hou verskeie bedreigings vir Suid-Afrikaanse produsente in, met tot 99% van produsente wat opbrengsverliese aangedui het en 92% wat ’n afname in kwaliteit ervaar het weens die teenwoordigheid van hierdie pes in hul lande. Weerstand teen Afrika-bolwurm word deur ’n Bt-proteïen oorgedra. Die Bt-proteïen word deur die larwe ingeneem tydens voeding. INTACTA RR2 PRO-sojabone los die Bt-proteïen in die hoë pH van die insek se ingewande op en veroorsaak perforasies in die maagwand. Dit lei tot die uitvloei van maagsappe wat die osmotiese druk in die maag ver­ander. Die larwe hou op vreet en vrek binne 72 uur.

Riglyne vir die gebruik van INTACTA
Om die voordele van die Bt-tegnologie te behou, is dit belangrik om ’n toevlugsarea te plant. Die gestruktureerde toevlugsarea moet geplant word na gelang van die minimum aanbevelings soos aangedui vir sojabone, dit wil sê 20% van die totale geplante area. ’n Maksimum afstand van 400 m moet gehandhaaf word vanaf die area waar Bt-tegnologie geplant is. Kultivarplasing en -posisionering is uiters belangrik: Die regte kultivar moet op die regte land geplaas word om risiko’s te verminder en te verseker dat alle moontlike uitdagings vooraf geëvalueer word en dat maatreëls vir die hantering daarvan in plek gestel word.

Produsente moet steeds voortdurend hul lande monitor en addisionele geïntegreerde pesbeheerstrategieë in plek stel om die effektiwiteit van die sojabooneienskap te verseker. Tesame met die beskerming wat die tegnologie aan die gewas bied, lei die besker­ming teen bolwurm ook tot ander voordele soos ’n vermindering in die gebruik van onkruid- en insekdoders.

Sukses in Suid-Amerika
Sedert 2013 het produsente reeds 73,6 miljoen INTACTA RR2 PRO-sojabone in Argentinië, Brasilië, Paraguay en Uruguay geplant. Deur die meer effektiewe gebruik van onkruid- en insekdoders kon produsente meer volhoubare boerderysisteme soos geenbewerkings­praktyke aanneem. Dit het die gebruik van fossielbrandstowwe verminder en die berging van meer koolstof in die grond bewerkstellig, wat ’n afname van 6,8 biljoen kilogram in koolstofemissies teweeggebring het.

Dit is ekwivalent daaraan om 3,3 miljoen familiemotors van die paaie te verwyder. Deur INTACTA RR2 PRO-sojabone te plant, spandeer produsente minder tyd op ’n trekker besig om gewasbeskermingsprodukte toe te dien of om hul lande te bewerk. Dit het talle omgewingsvoordele om die veilige en volhoubare produksie van sojabone nou en in die toekoms te verseker.

Daar is bevind dat daar in totaal ’n 30,6%-afname was wanneer dit by die impak op die omgewing kom. Dit is danksy ’n afname van 10,4 miljoen kilogram in insek- en onkruiddodergebruik, soos gemeet deur die Omgewingsimpakkoëffisiënt. Die afname het ook tot die besparing van meer as 200 miljoen liter water gelei – gelykstaande aan 80 Olimpiese-grootte swembaddens.

Nog ’n voordeel van INTACTA RR2 PRO-sojabone is die potensiële toename in opbrengspotensiaal. Hierdie hoër opbrengs word toegeskryf aan die herposisionering van die onkruiddoderweerstandige eienskap op die DNS van die sojaboonsaad en die beter pesbeheer via die Bt-eienskap.

Glifosaatverdraagsaamheid is nog ’n uiters belangrike voordeel van die tegnologie, omdat hierdie eienskap die gesondheid van sojaboongewasse verseker en sodoende die groei van plante be­vorder, selfs met die toediening van onkruiddoders.

Hierdie rewolusie in sojaboontegnologie word deur die be­hoefte gedryf om toegang tot gevorderde kultivars wat maksimum prestasie verseker, te verkry; om internasionale mededingendheid te verbeter en om meer betroubare en volhoubare sojaboonproduksie op ’n plaaslike vlak te verseker.