Hoe gemaak met versuiplande?
Dekgewasse is die ideale begin

Gepubliseer: 21 Februarie 2022
Dawie du Plessis, Agricol

277

Dekgewasse word deesdae onvoorwaardelik saam met woorde soos grondopbou, grondgesondheid, volhoubare landbou asook grondherlewing of bewa­ringslandbou genoem. Dekgewasse speel ’n kernrol in enige van hierdie ideologiese benaderings.

Die implementering van dekgewasse op ’n tradi­sionele saaiplaas bly egter ’n probleem vir baie produsente. Dit verg ’n verandering in denkwyse en sekere praktyke om die proses van grondopbouing aan die gang te sit, soos om rooi braaklande in dekgewasweidings te verander.

Om hierdie kopskuif te maak, is dit nodig om te verstaan hoe die natuur werk en wat die basiese reëls vir grondgesondheid is. Grondgesondheid is afhanklik van koolstof: Hoe meer doeltreffend die koolstofsiklus in die grond plaasvind, hoe beter die resultate en voordele vir die produsent. Die vinnigste groei in grondgesondheid vind plaas as die volgende reëls gevolg en gehandhaaf word:

  • permanente organiese bedekking;
  • konstant aktiefgroeiende wortels;
  • diversifisering van gewasse;
  • minimale grondversteuring; en
  • implementering van ’n veefaktor.

Permanente organiese bedekking
Dit het tot gevolg dat die grondtemperatuur daal, verdamping van vog uit die grond word verlaag, winderosie word verminder, water­afloop word vertraag en wateropname in die grond word verhoog. Hoë grondtemperature veroorsaak die afsterf van grondmikrobes en dit is waarom die natuur sy eie grondbedekkers (onkruide en ongewenste spesies) stuur sodra die grond blootgestel word. Hierdie bedekkers is gewoonlik giftig, onsmaaklik of vol dorings om te verhoed dat die plante bewei word. Die grond word op hierdie manier bedek om toestande te skep vir meer gewenste spesies om te vestig.

Konstant aktiefgroeiende wortels
Plante vorm die leikanaal vir gratis koolstof in die lug. Hierdie koolstof word deur fotosintese in die blare gebind en word dan in suikervorm deur die wortels uitgeskei in ruil vir minerale en ander voedingstowwe. Die suikers bestaan uit ’n groot deel koolstof (C6H12O6) en dien ook as voedselbron vir grondmikrobes. Plante en mikrobes lewe dus in simbiose met mekaar.

Die Agrilife 2-dekgewasmengsel is ’n goeie grondopboumengsel wat hierdie winter geplant kan word en dien ook as uitstekende bron van weiding vir diere.

Diversifisering van gewasse
Verskillende plante lok verskillende mikrobes met behulp van die sui­kers wat hulle afskei, byvoorbeeld peulgewasse teenoor grasagtige tipes. Dit is belangrik om wortels op verskillende dieptes in die grond te hê ten einde grondmikrobe-aktiwiteit soveel as moontlik te stimuleer. Laasgenoemde word verkry deur gewasse met verskillende worteltipes te plant om so effektief moontlik deur al die grond­dieptes te versprei. Daar kan gekyk word na gewasse met penwortels en ander met bywortels en selfs plante met fyn vertakte wortels of dikker sywaartse wortels. Die verskillende wortels in die grond lok en vermeerder verskillende soorte grondmikrobes. Dit skep dan ’n omgewing met ’n beter balans tussen verskillende tipes grondlewe, met die gevolg dat die gewenste mikrobes die ongewenste mi­krobes laat verminder. Dit kan ook help om sekere probleme soos aalwurminfestasie te help oplos.

Minimale grondversteuring
Wanneer enige wortels of gedeeltes van wortels afsterf na beweiding of aan die einde van die groeiseisoen, vorm daar lugkanale in die grond wat deurlugting veroorsaak en die grond se vogindringingsvermoë baie verhoog. Dit is bekend dat daar aërobiese en anaërobiese mikrobes in die grond voorkom en sodra grond byvoorbeeld geploeg word, beland die verskillende mikrobes in ongunstige suurstofvlakke en gaan dood. Verder word al die lugkanale en grondstrukture wat gevorm is deur die ploegaksie verbreek en grondverdigting kan weer plaasvind. Die grootste nadeel is egter die dood van die mikrobes. Omdat grondmikrobes hoofsaaklik uit koolstof bestaan, bind daar suurstof aan die dooie mikrobekoolstof en vorm CO2 wat vlugtig is en in die lug verdwyn. Hierdie vervlugtiging is die grootste verlies van grondkoolstof in Suid-Afrikaanse landbou.

Implementering van ’n veefaktor
Daar is ’n balans tussen bogrondse plantmassa en die hoeveelheid ondergrondse wortels van plante. Sodra diere van die bogrondse blare en stingels vreet, verklein die fabriek wat die suikers moet produseer en sterf daar van die fyner en swakker wortels onder die grond af omdat daar nie genoeg energie beskikbaar is nie. Sodra daar nuwe blare gevorm word, groei nuwe wortels en so gaan die proses aan. Hierdie wortels wat afsterf, bestaan ook uit koolstof en is deel van die koolstofopbouproses in die grond. Diere wat op dekgewasaanplantings wei, versnel dus die hele grondkoolstofproses onder die grond. Boonop word enige plantreste wat bo die grond beskikbaar is deur die dier se spysverteringskanaal afgebreek tot ’n medium wat baie makliker afbreekbaar is vir die grondmikrobes.

Dekgewasmengsels moet oordeelkundig saamgestel word met die klem op grondgesondheid, maar ook om as ’n hoë­kwaliteitweiding gebruik te word. Produsente kan hierdie aspek gebruik om ekonomiese vergoeding deur die diere terug te kry, terwyl die gronde verbeter en opgebou word. Agricol het die volgende Agrilife Grazer-dekgewasmengsels ontwikkel:

  • Agrilife Grazer 12 is ’n somermengsel wat bestaan uit ’n basis van verskillende voersorghums, babala, akkerbone en ook sekere peulgewasse. Die mengsel kan geplant word vanaf Oktober tot Februarie.
  • Agrilife Grazer 2 is ’n wintermengsel wat bestaan uit verskillende groeilengtes hawers, stoelrog, radyse en wieke. Planttyd is vanaf Februarie tot einde Mei.
  • Agrilife Grazer 21+ is ’n gevorderde multispesiegrondopboumengsel met 21 en meer verskillende gewasse wat somer- en wintergewasse insluit. Die beste planttyd vir Agrilife 21+ is Januarie en dit kan weiding of bedekking verskaf tot einde Oktober. Hierdie mengsel is ideaal om te gebruik by oorlêlande.

Deur die drie hoofgroepe plantspesies te gebruik – grasagtige tipes, knolgewasse en peulgewasse – word grondgesondheid baie vinniger verbeter. Die kombinasie verskaf ook ’n weiding van uiters hoë kwaliteit vir vee.

Onoordeelkundige samestelling van mengsels kan maklik plaasvind as die verskillende gewaseienskappe, soos plantdigtheid, planthoogte, groeiwyse, groeitempo, kompetisie, ligbe­hoefte, sinergisme, allelopatie en duplisering nie in ag geneem word nie. Dit kan veroorsaak dat die regte resultate nie verkry word nie en produsente kan voel dat dit nie werk nie. Verder is dit belangrik dat die produk steeds bekostigbaar moet wees.

Die grootste uitdaging van die aanplant van dekgewasmengsels is die beskikbaarheid van ideale grondvog en ook die feit dat grondvog opgegaar moet word vir die volgende graangewas. Deur die hoogte van die dekgewas met beweiding te beheer, sal die waterverbruik van die dekgewas verlaag word. Dit moet egter op so ’n manier gedoen word dat die grondoppervlak nie te veel blootgestel word en verdamping weer verhoog nie. Omdat die grond se waterhouvermoë verdubbel met elke 0,5%-toename in koolstof, sal gronde waarop die reëls van grondgesondheid toegepas word later meer water opgaar as lande wat braak lê.

Grondopbou is egter ’n lang proses en daar is nie ’n kitsoplossing nie. Die implementering van dekgewasse is ’n stap in die regte rigting en ook ’n oplossing vir onderpresterende gronde.

Kontak jou naaste Agricol-agent of besoek die webtuiste by www.agricol.co.za vir ’n aanbeveling in jou area.