Laer olie-inhoud pootjie plaaslike sonneblombedryf

Gepubliseer: 4 October 2021

929
Mariëtta Cronjé,
SA Graan/Grain-
medewerker

Die internasionale mark vir sonneblom­saad is besig om aansienlik uit te brei as gevolg van die vinnige toename in die gebruik van sonneblomolie danksy verbruikers se toenemende gesondheidsbewustheid. Die Suid-Afrikaanse sonneblombedryf is egter nadelig beïnvloed deur die afgelope seisoene se drastiese afname in die olie-inhoud van sonneblomsaad.

In die lig hiervan het die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) ’n studie, befonds deur die Olie- en Proteïensaadontwikkelingstrust (OPOT), onderneem. Die studie het ten doel gehad om:

  • die impak van wisselende en laer olie-inhoud op die bedryf aan te dui;
  • ’n beter begrip van die sleutelfaktore wat sonneblomsaadkwaliteit beïnvloed, daar te stel; en
  • potensiële aksies wat die waardeketting sal op­gradeer, te identifiseer.

Impak van laer olie-inhoud
In Suid-Afrika was die opbrengs van sonneblomsaad per hektaar en die gepaardgaande ton per hektaar olie-opbrengs die afgelope dekade relatief stagnant, met ’n gemiddelde jaarlikse groei van slegs 1%. Dit is in teenstelling met mielie-opbrengste wat oor dieselfde tydperk met ’n jaarlikse gemiddeld van 2,5% gestyg het. Die persentasie olie-inhoud van die saad het gelyktydig afgeneem met ’n jaarlikse negatiewe groei van -0,6%.

Die algemene bedryfsnorm was die lewering van sonneblomsaad met ’n olie-inhoud van ongeveer 36% en hoër. Die afname in die olie-inhoud het egter hierdie norm aansienlik laat daal, wat die algehele mededingendheid van die bedryf onder druk plaas.

Sleutelfaktore wat sonneblom­saadkwaliteit beïnvloed
Die studie wys ook daarop dat sonneblom in Suid-Afrika dikwels as ’n vanggewas geplant word in teenstelling met Argentinië en die Balkan-lande waar dit die oorheersende kontantgewas is. Omrede mie­lies die oorheersende kontantgewas in Suid-Afrika is, lei dit daartoe dat die tydsberekening van sonneblom­saadproduksie nie voorrang tydens graanaanplantings kry nie.

Genoeg bewyse bestaan egter dat plantdatums wat te vroeg of te laat is ’n negatiewe uitwerking op beide die opbrengs en olie-inhoud van sonneblomsaad het. Die laat aanplantings wat algemeen in Suid-Afrika voorkom (sonneblomaanplantings word meestal na afloop van mielie-aanplantings gedoen), benadeel dus die sonneblomsaad se olieproduksiepotensiaal (Tabel 1).

Die 2018-sonneblomoes blyk ’n tipiese illustrasie van hierdie verskynsel te wees, waar buitengewoon laat aanplantings – in sommige gevalle so laat as die eerste week in Februarie – saamgeval het met ’n skerp daling in die olie-inhoud van die gelewerde gewas.

Laat aanplantings lei daartoe dat goeie bestuurspraktyke soos onder meer optimale plantdatum, kunsmistoediening, grondontleding en baie van die vereiste plaag-, onkruid- of siekteprogramme wat nodig is vir optimale produksie, nadelig beïnvloed word.

Die olie-inhoud van sonneblomsaad wat in Suid-Afrika geproduseer word, is aansienlik laer as dié wat in Argentinië of die Balkan-lande geproduseer word. Kultivarproefdata van internasionale saad­telers het getoon dat dieselfde kultivar in Suid-Afrika ’n laer olie-inhoud lewer as wanneer dit onder optimale toestande en as “hoofgewas” in Argentinië geplant word. Dit beklemtoon weer eens die positiewe of negatiewe effek wat omgewingstoestande en be­stuurspraktyke op die olie-inhoud van sonneblomsaad kan uitoefen (Tabel 1).

Om dus beide hoë opbrengste en ’n voldoende hoë olie-inhoud te bereik wat eie is aan die genetiese potensiaal van die sonneblomsaad, moet die gewas in gebiede met geskikte klimaatstoestande en met optimale gewasbestuur geplant word.

Tans het Suid-Afrikaanse produsente ’n keuse van 199 verskillende sonneblomsaadvariëteite. Hiervan word 113 as hoë-oliebasters geklassifiseer met ’n potensiaal om ’n olie-inhoud van meer as 40% te bereik. Volgens die studie is die gemiddelde geadverteerde olie-inhoud vir Suid-Afrikaanse kultivars tussen 38% en 46%. Volgens ’n ontleding wissel die geadverteerde olie-inhoud van saad wat deur saadmaatskappye in die buiteland aan die Russiese, Oekraïniese, Hongaarse en Argentynse markte verskaf word, egter van 45% tot 54% – dus aansienlik hoër.

Die Suid-Afrikaanse sonneblomsaadmark sal volgens die studie wel baat vind by nuwe ingevoerde kultivars, onderhewig daaraan dat die potensiaal daarvan eers aan die hand van die Suid-Afrikaanse klimaat en bestuurspraktyke vasgestel moet word.

Aansporingsmeganisme
Om produsente aan te spoor om meer op sonneblomproduksie te fokus, moet die winsgewendheid daarvan hoër wees as dié van mielies of ander kontantgewasse wat tans ge­prioritiseer word – en dus ’n hoër verkoopsprys vir die produsent. Dit is egter moeilik haalbaar as daar in ag geneem word dat die prys vir sonneblomsaad en -olie tussen invoer- en uitvoerpariteit moet bly ter wille van die mededingendheid van Suid-Afrikaanse sonneblomsaad in die wêreldmark.

Daar is ook weinig motivering vir produsente om die olie-inhoud van sonneblomsaad deur geteikende agronomiese praktyke te verhoog en daarom word daar hoofsaaklik gefokus op groter opbrengs.

Die studie wys egter daarop dat daar vanuit ’n teoretiese saadteling- en plantwetenskapperspektief ’n negatiewe verband tussen opbrengspotensiaal en olie-inhoud behoort te wees. Op grond van ’n reeks ontledings wat aan die hand van die nasionale kultivarproefdatabasis gedoen is, kon daar egter nie voldoende bewyse gevind word dat daar wel ’n negatiewe verband tussen opbrengste en olie-inhoud was nie.

Tydens bedryfskonsultasies was saadmaatskappye ook van mening dat die gemiddelde olie-inhoud van die Suid-Afrikaanse sonneblomoes aansienlik verbeter kan word sonder om opbrengste betekenisvol in gevaar te stel.

Gevolglik het hierdie studie die beginsels van ’n aansporings­meganisme ondersoek waardeur produsente wat nie net op hoë opbrengste per hektaar fokus nie, voordeel kan trek uit die plant van hoë-olie-inhoudsaad wat olie-opbrengs per hektaar kan verhoog. Hierdie is nie ’n nuwe konsep nie, maar wel ’n sonneblom-kontrakteringsnorm in internasionale markte.

’n Opsomming van verskeie internasionale en binnelandse gehalte-gebaseerde prysmodelle het twee opsies vir die sonneblombedryf in dié verband uitgelig, naamlik:

  • ’n Olie-inhoudgebaseerde pryspremie of olie-inhoudgebaseerde gradering. Hierdie is ’n algemene praktyk in Argentinië en die Balkan-lande se prysmeganismes.
  • ’n Terugbetalingstruktuur op verwerkingsvlak waar daar in die voordele van goeie gehalte gedeel kan word danksy ’n hoë olie-inhoud. Sodanige sisteem is tans in die plaaslike kanolabedryf in plek.

’n Suid-Afrikaanse loodsstudie vir ’n aansporingspakket is gedurende die 2020-seisoen deur Syngenta en Central Edible Oils (Pty) Ltd (CEOCO) onderneem. Produsente is ’n 1,5%-pryspremie vir elke 1% se olie-inhoud bo 38% aangebied. Produsente wat kultivar 1 (Tabel 1) geplant het, kon aan hierdie studie deelneem.

Van die resultate was as volg:

  • Van die sonneblomsaad wat gelewer is, het ’n olie-inhoud van 46% tot 48% gehad.
  • Op grond van ’n gemiddelde sonneblomprys van R5 887/ton sou produsente ’n pryspremie van tussen R706/ton en R883/ton (12% tot 15%) ontvang het.
  • Produsente het ’n gemiddelde opbrengs van 2 t/ha aangeteken.

Toekomsblik
Produsente se vermoë om internasionaal kompeterend te wees, sal bepaal word deur hul bereidwilligheid om nuwe, hoë-olie-inhoudsaad te gebruik en om die oorheersende praktyke van kontantgewasproduksie, soos byvoorbeeld vroeër plantdatums, toe te pas. Gunstige omge­wings- en klimaatsfaktore sal ook in ag geneem moet word. Sodoende kan produsente in staat gestel word om op ’n volhoubare wyse saad te produseer wat die vlak van 38%-olie-inhoud – maar verkieslik meer as 41% – sal oorskry.

Dit kan dien as aansporing vir saadverwerkers om premies te betaal vir saad met hoë vlakke van olie-opbrengs terwyl daar met ru-olie-invoere meegeding word. Ten einde ’n pryspremie daar te stel, is dit egter noodsaaklik dat die olie-inhoud by silo’s getoets word. Sodanige toetsing word tans gekniehalter deur die swak gedefinieerde standaarde vir olie-inhoudsvlakke. Al die silo’s het ook nie gekalibreerde toerusting vir olie-inhoudmeting nie en die verkryging van sodanige tegnologie sal ’n beduidende belegging vir silo-eienaars behels.

Vir verdere navrae kontak Marion Delport by marion@bfap.co.za.