Aanvullende besproeiing verg goeie beplanning en bestuur

Pietman Botha, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 4 Oktober 2021

40
Graan SA/Corporate Guarantee-fotokompetisie – Karen van Zyl, 2021

Produsente word dikwels gekonfronteer met die vraagstuk of vol besproeiing of aanvullende besproeiing toegepas moet word. Beide besproeiingstelsels het hul plek, voordele en nadele.

Dit maak egter nie saak watter stelsel geïmplementeer word nie – die sleutel is behoorlike beplanning en effektiewe implementering.

Produsente moet die volgende vrae vra en beantwoord:

  • Wanneer gaan die gewas verbou word?
  • Hoeveel reën word gedurende hierdie tyd verwag en wanneer kan dit verwag word?
  • Hoeveel water is beskikbaar vir die besproeiing?
  • Hoeveel millimeter water kan die besproeiingstelsel per dag lewer?
  • Wat is die waterhouvermoë van die grond?
  • Wanneer is die kritieke tye waar vogtekorte die oes erg kan benadeel?
  • Watter bestuurspraktyke moet nagevolg word met die verbouing van die gewas?
  • Wat behoort die realistiese opbrengsmikpunte te wees?
  • Wat is realistiese winste en hoe vergelyk dit met ander stelsels?

Die verbouingstyd van die gewas is deurslaggewend. Reën is ’n integrale deel van die gewas se watervoorsiening en daarom maak dit nie sin om koring in die winter met gedeeltelike besproeiing sonder reën te verbou nie. Die gewas gaan skade ly en die opbrengs sal erg benadeel word. Mielies daarenteen kan met groot sukses in ’n aanvullende besproeiingstelsel verbou word, mits dit reg beplan en bestuur word.

Indien ’n produsent besluit om aanvullende besproeiing toe te pas, moet dit ’n aktiewe besluit wees en die stelsel moet dan daarvolgens bestuur word. Die produsent moet weet wat die reëls is en binne die reëls bly. Die beplanning van die stelsel moet dus aangepas word om hiervoor voorsiening te maak. Pas die verwagte opbrengsmikpunte aan sowel as die plantestand en bemesting. Die toediening van bemesting moet so gedoen word dat die maksimum opbrengs behaal kan word. Dit beteken dat die bemesting dalk oor tyd toegedien moet word. Die produsent moet verder sorg dat die grond se pH reg is en dat daar nie verdigtingslae is nie sodat plante die vermoë het om die beste wortelstelsel moontlik te ontwikkel.

Onkruidbestuur is van uiterste belang. Onkruid gebruik vog en voedingstowwe en dit is reeds hier beperk. Verseker dus dat onkruid reg deur die groeiseisoen baie goed beheer word.

Die grondtipe bepaal hoeveel plantbeskikbare water (PBW) ’n grondprofiel kan behou. PBW word gedefinieer as die hoeveelheid water tussen die veldkapasiteit (die grond se “vol/versadigde punt”) en die permanente verwelkpunt (die punt waar grond so droog is dat plante nie meer water kan opneem nie en vrek). Hier speel die grond se tekstuurklas en die profiel- of worteldiepte ’n groot rol. Sandgronde kan minder water as leem- en kleigronde hou. Bepaal dus of die grondtipe geskik sal wees vir aanvullende besproeiing.

Waterstremming
’n Gewas se sensitiwiteit vir waterstremming in die verskillende groei­stadia sal bepaal hoeveel water onttrek kan word. Waterstremming kan intree en produksie benadeel wanneer die grondwaterinhoud laer as ’n kritieke waarde daal, wat uitgedruk word as ’n persentasie van PBW. Dit staan bekend as die toelaatbare onttrekking.

Die gewas se groeistadium beïnvloed waterbehoefte en -bestuur. Eerstens gee die groeistadium ’n aanduiding van hoeveel water die plant nodig het asook die wortelontwikkeling om hierdie vog te benut. Loofbedekking is vroeg in die groeiseisoen klein en minder water word benodig, maar die wortels is ook nog klein en nie so diep nie. Later in die groeiseisoen styg die waterbehoefte soos wat die loofbedekking toeneem, maar die gewas se wortels groei ook tot kapasiteit en kan heelwat vog opneem. Grafiek 1 toon ’n tipiese waterverbruikskurwe van mielies oor die groeiseisoen aan.

Grafiek 1: Tipiese daaglikse waterverbruikskurwe van mielies met ’n groeiseisoenlengte van 140 dae.

Sensitiwiteit vir waterstremming in verskillende groeistadia sal bepaal hoeveel water onttrek kan word voordat stremming intree. Mielies word as redelik droogteverdraagsaam geag. Tog kan ernstige waterstremming selfs in minder gevoelige stadia die groei en opbrengs affekteer. Vir die meeste gewasse word aanvaar dat waterstremming kan intree wanneer meer as 50% van PBW gedurende gevoelige groeistadia uit die wortelsone onttrek word. Die gevoeligheid van mielies vir waterstremming in verskillende stadia kan soos volg opgesom word:

Vegetatiewe stadium

  • Duur van opkoms tot blomstadium.
  • Matige waterstremming kan wortelgroei stimuleer.
  • Ernstige waterstremming kan wortelgroei beperk en lei tot min­der vegetatiewe groei (’n kleiner blaredak) wat graanopbrengs negatief kan beïnvloed.

Reproduktiewe stadium

  • Duur van blom (pluim- en baardverskyning) tot begin van graanvulling.
  • Waterstremming veroorsaak swak bestuiwing, wat die potensiële aantal pitte per kop verminder en opbrengs verlaag.

Graanvullingstadium

  • Duur van begin van graanvulling tot rypwording.
  • Waterstremming lei tot vroeë rypwording, swak graanvulling, laer pitmassa en laer finale graanopbrengs.
  • Graankwaliteit kan ook benadeel word.

Wanneer en hoeveel om te besproei
As daar nie op die regte tydstip besproei word nie, kan dit die gewas strem en kan opbrengs ingeboet word. Indien daar egter te veel water toegedien word, kan waardevolle voedingstowwe uit die wortelsone loog. Dit kan die opbrengs negatief beïnvloed en boonop lei tot ’n latere watertekort wat dalk tot groter verlies aanleiding kan gee.

Die produsent kan slegs doeltreffend besproei as hy weet wanneer en hoeveel water om toe te dien. Maak gebruik van besproeiingskedulering om te bepaal wanneer en hoeveel besproei moet word ten einde optimale en volhoubare produksie te verseker. Om doeltreffend te skeduleer, is dit belangrik om te weet hoeveel water die gewas gebruik het sodat die regte hoeveelheid water weer toegedien kan word. Hiervoor kan verskeie hulpmiddels gebruik word.

Skeduleringsmetodes is gewoonlik gebaseer op grond-, plant- of atmosferiese metings. In die praktyk word grond- en atmosferiese metodes die meeste gebruik en daar is verskeie hulpmiddels op die mark beskikbaar. Produsente moet hierdie inligting gebruik en dit met die plant se behoeftes kombineer om die maksimum opbrengs per millimeter te verseker. Prakties beteken dit dat die gewas aanvanklik tydens plant besproei moet word om goeie ontkieming te verseker. Verder moet die gewas dan staatmaak op reën om so ver as moontlik te kom. Dit is belangrik dat die profiel rondom die vyfblaarstadium redelik nat moet wees omdat die plant se teoretiese opbrengs dan bepaal word. Net voor blom en bestuiwing moet die grondprofiel vol wees vir goeie saadset om sodoende ’n goeie oes te verseker.

Dit is noodsaaklik om seker te maak dat die stelsel wel die vermoë het om genoeg vog te lewer. Verder moet die stelsel so bestuur word dat die meeste water deur die grond opgeneem word en nie as gevolg van wind of hitte verlore gaan nie.

Daar is heelwat navorsing oor aanvullende besproeiing gedoen. Kontak die Waternavorsingskommissie in hierdie verband of skakel Pietman Botha by 082 759 2991 vir meer inligting.