Dié kragspan nou selfs nog sterker

InteliGro
Gepubliseer: 1 September 2021

1285

Die InteliGro/VKB-kragspan, wat in die 2020/2021-seisoen vir somerrygewasse van stapel gestuur is, het op 30 Julie tydens ’n aanlyn inligtingsessie die nuwe 2021/2022-seisoen se aanbiedinge bekendgestel.

“InteliGro en VKB se strategiese samewerking het ten doel om die volhoubaarheid van produ­sente te verseker,” sê Johan Nienaber van InteliGro. “Ons filosofie is ‘alles begin op die plaas’ en daarom het ons na afloop van die vorige seisoen met ons boere gaan gesels om te bepaal wat ons nog beter kan doen om in hulle spesifieke behoeftes te voorsien.”

Sonder uitsondering het produsente soos Junior Ferreira van die Bethlehem-distrik en Steve Terblanche en Jaco de Villiers, wat beide naby Reitz boer, gesê dat die kombinasie van koste-effektiewe oplossings, uitgestelde betalings, kortings en tegniese kundigheid wat elke dag tot produsente se beskikking is, positiewe toevoegings tot hul boerderye is. Met hierdie insette het InteliGro en VKB koppe bymekaargesit en saam met sleutelvennote ’n hersiene kommersiële aanbieding vir die nuwe seisoen ontwerp.

Die aanbieding, wat nou ook na Limpopo uitgebrei is en gewasoplossings vir aartappels insluit, bring die deurslaggewende komponente van koste-effektiwiteit en produkbeskikbaarheid na die tafel. Dit is so gestruktureer dat gewasspesifieke oplossings binne die bereik van die produsent gestel word. Hierdie oplos­sings het ten doel om jou as produsent se opbrengs te optimaliseer en jou wins te maksimeer.

Sleutelaspekte van die aanbiedinge vir somerrygewasse en aartappels is kortings op Dekalb-saad, Multi Green-kunsmis en InteliGro-gewasoplossings sowel as ’n periode van tot en met ses maande waar geen rente op produ­sente se VKB-rekeninge gehef word nie. Die kommersiële aanbieding is gebou op die Vertroude Besigheidsvennoot-konsep wat insluit:

  1. uiters kundige advies deur InteliGro Gewas Oplossing Spesia­liste en die VKB-span,
  2. besoeke en toegang to inligting wat ingewin is van proewe wat op statistiese navorsing gebaseer is, en
  3. opleiding en opleidingsmateriaal vir produsente en spuitoperateurs, om net ’n paar te noem.

“Hierdie vennootskap is ’n kragspan in die volle sin van die woord,” sê Francois Swanepoel van VKB, “en ons wedstrydplan vir die 2021/2022-seisoen stel produsente se volhoubaarheid as topprioriteit.”

Produsente worstel reeds met die impak van klimaatsverandering, die beskikbaarheid van kwaliteitarbeid, stygende insetkoste, dalende kommoditeitspryse en die skade wat peste en plae aan gewasse aanrig. Verder het die onluste wat ’n week lank in Gauteng en KwaZulu-Natal gewoed het, waarde- en logistieke kettings ontwrig en voedselsekerheid in die kollig geplaas.

Die enigste manier om só ’n wye verskeidenheid uitdagings die hoof te bied, is deur vennootskappe. “Om voedselsekerheid te verseker, moet ons hande vat met betroubare besigheidsvennote in die ketting – groepe wat dieselfde dink en wie se waardes dieselfde is,” sê Francois. “Daarom stap ons die pad saam met InteliGro om volhoubaarheid binne bereik van ons boere te stel.”

Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, het tydens die aanlyn inligtingsessie beklemtoon dat produsente deel van georganiseerde landbou moet raak, “want saam is ons soveel sterker”. Hy het genoem dat Agri SA en Agbiz oor die afgelope paar weke ’n deurslaggewende rol gespeel het om voedseltekorte aan te spreek, maar dat die organisasies op ’n breër en aaneenlopende basis voortdurend met die regering skakel. “Ons vervul hierdie belangrike rol om die belange van boere te bevorder en te beskerm en om seker te maak dat boere mede­dingend kan bly.”

Bostaande beklemtoon die belangrikheid van die strategiese samewerking tussen VKB en InteliGro om te help om landbou-uitdagings die hoof te bied.

“Geen plaas, entiteit, streek, landboubesigheid, vennoot of land is ’n eiland nie,” sê Francois. Johan voeg by dat die InteliGro/VKB-kragspan se groeiende netwerk van uiters kundige besigheidsvennote op wie produsente kan vertrou en staatmaak, ’n toonbeeld is van hierdie werklikheid. “Slegs deur saam te werk, kan ons ’n toekoms bou wat gekenmerk word aan volhoubaarheid en voedselsekerheid. Die kragspan se passie bly om onsself konstant te belyn met ons produsente se behoeftes.”

Kontak jou VKB-takbestuurder of InteliGro Gewas Oplossing Spesialis vir meer inligting oor hierdie aanbiedinge.

Die InteliGro/VKB-span is gereed om te vertel hoe ons koste-effektiewe oplossings na jou plaas bring.
Van links na regs: Johan Nienaber (streeksdi­rekteur: InteliGro), Junior Ferreira (produsent), Janet Lawless (InteliGro), Francois Swanepoel (VKB), Izak Dreyer (produsent) en Niel Kruger (bemarkingsdirekteur: InteliGro).