Daar is heelwat risiko’s verbonde aan sojaboonverbouing – meer as by mielieverbouing – en hierdie risiko’s moet behoorlik bestuur word.
Seker een van die grootste verbouingsrisiko’s by sojabone is die oes daarvan. Gegewe die huidige graderingsriglyne moet die sojabone taamlik droog wees voor dit gestroop kan word, wat die stroopvenster vir hierdie gewas besonder kort maak.
Produsente kan maklik die stroper se kapasiteit oorskat en dan te stadig vorder – met die gevolg dat heelwat sojabone oopspring en sodoende verlore raak. Soms dra die sojaboonplant sy peule uiters laag en as die stropertafel nie laag genoeg kan stroop nie, bly daar baie sojabone agter.
Laag genoeg stroop is makliker gesê as gedaan. Klippe in ’n land en lande wat ongelyk is, kan heelwat skade aan ’n stroper veroorsaak. Dit is daarom belangrik dat die stropertafel oor die vermoë moet beskik om veilig laag genoeg te stroop en verder die stroper te beskerm. Die volg van die kontoer van die land is ook deurslaggewend. Veral met die groter stropertafels is die buigbaarheid van die stropertafel van kritieke belang, net soos die sagte hantering van die sojaboonplant. As die plant voor op die tafel rof hanteer word, kan heelwat van die peule oopspring en so beland baie pitte op die grond.
Let veral ook op die awegaar wat die plante na die stroper se “keel” moet vervoer – ’n plek waar heelwat verliese voorkom. Vervoerbelde is dalk nie ’n slegte idee nie, maak net seker dat die plante teen die regte tempo by die stroper se “sluk” uitkom. Die afstand tussen die tande van die stropertafeltol is belangrik. Hoe nader hulle aan mekaar is, hoe makliker word ligte, kort of gekoekte gewasse gestroop en in die stroper ingekrap.
Met vandag se tegnologie op stropers en stropertafels, word hoë vereistes gestel aan die werktuig se hidrouliese stelsel. Maak seker dat die tafel nie te veel van die stroper se hidrouliese kapasiteit opneem nie.
Sojaboonstroop het sy eie uitdagings. Word daar te vroeg in die oggend begin, breek die stropertafelmesse. Word daar tot te laat gestroop, pak die stroper se dromme. Dit is dus nooit werklik moontlik om baie hektare op ’n dag te stroop nie. Gevestigde sojaboonprodusente weet al dat ’n stroper met ’n stropertafel van ongeveer 9 m oor tyd tussen 20 ha en 42 ha per dag (tien ure) stroop. Dis gewoonlik nie haalbaar om meer uit die masjien te kry nie. Om dieselfde hektare per dag te kan werk as ’n 8 ry- 0,9 m-planter, moet een en ’n half 8 ry- 0,9 m-stropers gelyk loop. Dit is beter om te veel stroperkapasiteit te besit as om sojabone te hê wat oopspring.
Verder is sojaboonstroop nie ’n goedkoop aksie nie. In Tabel 1 word die stroopkoste van mielies, sojabone en koring asook sonneblom getoon. Beide vaste en veranderlike koste word aangetoon. Daar is heelwat publikasies wat inligting rakende die bewerkingskoste asook die bewerkingstempo’s verskaf. Bekom gerus die Direktoraat Landbou-ekonomie se publikasie Guide to machinery costs – of dalk ’n meganisasiegids soos saamgestel deur die landboudienste-afdeling by die meeste landboubesighede. Oom Koos le Roux se trekkerkosteboek is weer beskikbaar by Derick le Roux. Kontak hom by deric@xourel.co.za.
Teen ’n spoed van 6 km/h kan 32 ha mielies, 40 ha koring of sojabone en 36 ha sonneblom per dag van tien ure gestroop word. Sodra die spoed laer raak of die tyd wat die masjien per dag stroop verminder, daal die hektare dramaties. Byvoorbeeld, indien die stroopspoed van sojabone van 6 km/h na 4 km/h verminder, daal die hektare na 27 ha/dag.
Hieruit is dit duidelik dat die tyd wat per dag gestroop word asook die spoed waarteen gestroop word, bepalend is vir hoeveel hektare per dag gestroop kan word.
Kry lande gelyk vir stroop
Stroopbeplanning begin reeds met die keuse van kultivars om te plant. Plant ’n sojaboonpakket wat oor verskillende groeitempo’s beskik en nie alles gelyktydig gaan ryp wees nie. Hou in gedagte dat dagliglengte tot ’n groot mate bepaal wanneer watter kultivar stroopgereed gaan wees. Produsente wat sojabone aanplant, moet seker maak dat hulle oor genoeg stroperkapasiteit beskik en alles binne hul vermoë doen om die land so gelyk as moontlik te kry na die aanplant van die gewas. Daar is verskeie landrollers beskikbaar waarmee ’n land gerol kan word om eerstens die klippe bietjie in te druk asook om die land gelyk te kry. Hierdie stap sal help dat die stroper so vinnig en so laag as moontlik kan stroop om sodoende so veel as moontlik sojabone in die wa te verseker.
Onderhoud en herstelwerk aan beide die stroper en die tafel is van deurslaggewende belang. By ’n gewas met ’n kort oesvenster kan daar nie bekostig word dat die masjiene breek en staan nie. Maak seker dat die nodige spaaronderdele wat gereeld breek, beskikbaar is om staantyd te verminder. Maak verder seker dat alle toerusting goed gediens is voor die stroopseisoen begin.
Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir meer inligting.