Omnia se humate bevorder grondgesondheid

Dr Veronica Patterson, spesialiswetenskaplike, Omnia
Gepubliseer: 12 Julie 2021

1150

Die voordele van humate word reeds meer as ’n eeu lank bestudeer. By Omnia Nutrilogie® is intensiewe navorsing oor die werking van humate, sowel as wat as ’n goeie humaat beskou kan word, ’n prioriteit.

Humate word gevorm deur plantproteïene, -stysel en -sellulose wat in die teenwoordigheid van suurstof deur mikroörganismes in die grond ontbind deur ’n proses genaamd humifikasie. Só vorm dik lae ryk veengrond en humiese materiaal.

Humate is ’n hoogs gekonsentreerde bron van humiensure wat Omnia in die vorm van leonardiet uit die bruinkoolvelde in Suidoos-Victoria, Australië, verkry. Leonardiet is gewoonlik ’n afvalproduk van die bruinkoolmynproses.

Australiese leonardiet word onder varswatertoestande gevorm, wat tot ’n baie lae mineraalinhoud lei. Dit maak dit moontlik om ’n hoëkonsentrasie-oplossing van humiensuur te produseer, terwyl feitlik geen onoplosbare slyk aanwesig is nie.

Vanweë die unieke omstandighede waaronder dit gevorm word, is Australiese leonardiet waarskynlik die rykste bron van humate ter wêreld. By ons humaataanleg in Australië, verwerk Omnia dan die leonardiet-erts tot produkte wat as grondversorgers toegedien word.

Humiensure is die basis van alle vrugbare gronde. Oor die jare heen versamel hierdie humiensure in die grond wat verhoogde voedingsvermoë, waterhouvermoë, ’n geredelik beskikbare kool­stofvoedselbron vir voordelige mikroörganismes en beter grondstrukture tot gevolg het.

Dit is die natuur se manier om voedingsverliese sover moontlik te beperk om grondvrugbaarheid oor die lang termyn te handhaaf en volhoubare plantgroei te verseker. Humiensure in die grond bevat ’n wye verskeidenheid mikro- en makrovoedingstowwe wat rondom die plantwortels vergader. Dit maak noodsaaklike voedingstowwe vinniger opneembaar deur die wortels en dra tot optimale plante­groei by.

Figuur 1: Die formasie van steenkool.

Omnia se Rhizovator™-reeks toon verskeie voordele
Omnia Nutrilogie® se toegewyde span wetenskaplikes is daartoe verbind om voortdurend nuwe produkte vir spesifieke omstandig­hede te ontwikkel. Produkte wat watergebruiksdoeltref­fendheid en die effektiewe opname van voedingstowwe verhoog, dra ook daartoe by om die omgewingsimpak van landboupraktyke te verminder terwyl opbrengste en voedselproduksie geoptimaliseer word.

OmniBio™ het ’n reeks produkte onder die handelsnaam Rhizovator™ ontwikkel wat onder meer bestaan uit verskillende stimulante, soos humate, kelp en aminosure. Omnia se K-humate is hoogs gekonsentreerd en volledig wateroplosbaar.

Verhoging in wortelgroei
Rhizovator™ tree op as grondversorger en wortelstimulant en verseker optimale groei van plante tydens die vroeë vegetatiewe stadium. Die Rhizovator™-reeks is in verskeie kweekhuis- en veldproewe op graan en kanola getoets.

Statisties beduidende verhoging in wortelgroei is in alle proewe aangeteken met ’n merkwaardige toename in wortelmassa, chlorofilinhoud, opname in voedingstowwe en gevolglike opbrengsverhogings.

Die Rhizovator™-reeks hou die volgende voordele in:

  • Beter ontkieming;
  • vroeë vestiging van saailinge/steggies;
  • vroeë ontwikkeling van saailinge/steggies;
  • vroeër, verhoogde biomassa/chlorofilproduksie;
  • vroeër koolhidraat(suiker)-/energieproduksie (ammoniumverbruik);
  • hoër wortelmassa;
  • beter wortelvermeerdering;
  • ondersteuning van heterotrofiese mikrobegroei (koolstof en ander voedingstofbronne); en
  • beter voedingstofverbruiksdoeltreffendheid (vanweë wortels en mikrobe-aktiwiteit).

Kontak die Omnia-verkoopsverteenwoordiger in jou omgewing vir meer inligting oor hoe Rhizovator™ waarde kan toevoeg op jou plaas.

Omnia Nutrilogie® is ‘n lid van die Omnia Groep.