OMNISAP®-patroonidentifikasie: Pasgemaakte aanbevelings vir uitdagings op die plaas.

Willem Jonker, OMNISAP®-spesialis
Adriaan Engelbrecht, konsultant: Omnia Nutrilogie®
Louis Smith, verkoopsverteenwoordiger: Omnia Nutrilogie®
Gepubliseer: 5 Mei 2021

965

Omnia ontleed reeds meer as 25 jaar lank plantsap. Eie aan die belofte aan ons produsente om onverpoosd na die jongste oplossings vir uitdagings ten opsigte van gewasverbouing te soek, het hierdie tegnologie ontwikkel in ’n unieke hulpmiddel om pasgemaakte aanbevelings te doen.

Ons benadering is om ’n produsent se spesifieke uitdagings aan te spreek, in teenstelling met die blote generiese bemarking van produkte. Dit dra ook by tot die verantwoordelike gebruik van bemestingsprodukte wat volhoubare boerdery ondersteun.

Daarom span Omnia se kundiges saam om ons kennis oor die jongste tegnologie met ons kliënte te deel. Ons CHEMTECH™-laboratoriums se analitiese vermoë in kombinasie met OMNISAP® se plantfisiologiese data en statistiek, bied ’n verslag wat veel meer as voedingsvlakke in die plant bespreek.

Hierdie tegnologie (patroonidentifiseringsagteware) kyk verby die vlakke van voedingstowwe in die plantsap. Die algoritmes gee ook uitsette rakende spesifieke voedingspatrone en interaksies asook ’n gedetailleerde uiteensetting van moontlike stremmings- of tekortfaktore. ’n Lys van spesialiteitsprodukte wat hierdie uitdagings kan aanspreek, word ook hieraan gekoppel.

Dié patrone stel ons landboukundiges in staat om onderlig­gende probleme, soos onder meer grondverdigting, grondsuurheid, droogtestremming, soutstremming, hittestremming en siektedruk te identifiseer.

Meer as ’n voedingsverslag
’n Onlangse OMNISAP®-verslag by een van Omnia se produsente in KwaZulu-Natal is ’n goeie voorbeeld van die vermoë en waarde van patroonidentifikasie op koring. Figuur 1 wys ’n OMNISAP®-verslag vir monsters wat vroeg in die groeiseisoen op besproeiingskoring geneem is.

Figuur 1: ’n OMNISAP®-verslag wat lae vlakke van makrovoedingstowwe as analise vir hierdie monster teen sigwaarde toon.

Te oordeel na die kritieke vlakke van elemente (rooi gedeeltes in die verslag), kan die uitslag van hierdie stel resultate waarskynlik voorspel word as dit slegs op sigwaarde geïnterpreteer word. In hierdie geval het die verkoopsagent onmiddellik die resultate be­vraagteken omdat die gewas goed vertoon het en die bemestings­program ook op datum was volgens die plantvoedingsvoorstel van die landboukundige.

Die uitset van die patroonidentifiseringsalgoritmes het gedui op probleme met wortelontwikkeling, wat moontlik deur grondverdigting of wortelaalwurms veroorsaak kon word. Dit het die fokus van die produk en aanbeveling na die onderliggende probleem verskuif.

’n Landinspeksie het die vermoede van swak wortelontwikkeling bevestig toe ’n grondverdigtings­laag op ’n diepte van 7,5 cm gevind is. Wortel- en grondmonsters is op goeie en swak kolle in die land geneem en vir aalwurmontleding na die OMNIBIO®-laboratorium gestuur.

Die OMNIBIO®-resultate (Tabel 1 en Tabel 2) stem ooreen met die patroonidentifiseringsmodel wat die moontlikheid van hoë vlakke van plantparasitiese aalwurmbesmetting in die grond- en wortelmonsters voorspel het.

Die graad van aalwurminfeksie het effens verskil tussen die monsters wat op die goeie en slegte kolle geneem is (gesonde en sieker plante), wat dui op aalwurmbesmetting as ’n sekondêre stremming op die plant. Die ontledings het ook ’n duidelike verwantskap tussen grondstruktuur en -tekstuur met die taksonomiese samestelling van aalwurmbevolkings getoon.

Wisselende vlakke van grondverdigting kan lei tot ’n toename in die aalwurmtaxa (subspesies) wat nou verband hou met wortelontwikkeling en worteldinamika, dit wil sê die verspreiding van Pratylenchus spp. en spiraalaalwurms soos waargeneem in hierdie OMNIBIO®-aalwurmverslag. Só ’n situasie kan verder bydra om die opname van voedingstowwe te verhinder, soos wat duidelik deur die OMNISAP®-verslag uitgewys word.

Met Omnia se patroonidentifikasiebenadering van ’n OMNISAP®-analise, saam met die gebruik van ’n OMNIBIO®-analise, kon die belangrikste onderliggende probleem geïdentifiseer en die moontlike rampspoedige effekte daarvan bestuur word.

Verdigtingskolle in die land wat beperkte wortelontwikkeling en voedingsopname tot gevolg het.

Tradisionele benadering los nie onderliggende probleme op nie
Uit die bogenoemde voorbeeld is dit duidelik dat die onderlig­gende probleem nooit deur die tradisionele produkbenadering opgelos sou word nie.

Die gebruik van tegnologieë soos patroonidentifiseringsal­goritmes het die standaard gelig van plantvoeding tot ’n benadering wat veel meer as ’n bemestingsaanbeveling bied. Die voordeel van hierdie tegnologie is aan Omnia se kliënte beskikbaar. Ons landboukundiges het hulle voete stewig op die plaas om die resultate te evalueer en enige onduidelikhede te verduidelik.

Dít lei tot ’n nuwe vlak van vertroue in ons verhoudings met ons kliënte en dra by tot meer volhoubare boerderypraktyke vir elke kliënt waarmee ons sake doen.

Kontak Willem Jonker by 082 855 2231 vir meer inligting.