Omnia belê in landbou met navorsing

Dr Margaretha Brand, hoof: Navorsing en Ontwikkeling van OmniBio® by Omnia Nutrilogie®
Gepubliseer: 6 Mei 2021

888

Grond is ’n geweldig komplekse ekosisteem en die hoeksteen van winsgewende, produktiewe en volhoubare landbou. ’n Eetlepel gesonde grond be­vat meer mikroörganismes as die aantal mense op aarde. Miljarde organismes – bakterieë, mikrosko­piese insekte, myte, swamme, ensovoorts – verteenwoordig die grootste konsentrasie biomassa op die planeet.

By OmniBio® se afdeling vir navorsing en ontwikkeling fokus ons daagliks daarop om hierdie komplekse ekosisteem nóg beter te verstaan. Nadat ons reeds 15 jaar lank navorsing hieroor gedoen het, het ons ’n baie goeie begrip oor die kritieke balans tussen die biologiese, fisieke en chemiese aspekte hiervan.

Nietemin is heelwat navorsing oor grondgesondheid nog nodig om die invloed daarvan op plantegroei en opbrengste volledig te verstaan. Omnia se navorsingsprogramme word daarom voortdurend uitgebrei om die produktiwiteit van bewerkbare grond deur nuwe tegnologie te verbeter.

Hierdie navorsing dra ook daartoe by dat ons produsente se grond op ’n volhoubare wyse bestuur word. Dit sluit ’n groot fokus op die effektiewe verbruik van water en voedingstowwe in om sodoende ons natuurlike hulpbronne te beskerm.

Wêreldklassamewerking
Ons samewerking met internasionale universiteite soos die Universiteit van Johannesburg (UJ) en die Universiteit van Edinburg gee ons toegang tot gesofistikeerde laboratoriums waar wêreldleiers navorsing doen in gespesialiseerde velde soos metabolomika.

Omnia werk onder meer nou saam met dr Fidele Tugizimana van UJ. As wêreldbekende kundige in die veld van metabolomika, fokus sy studies op plantmetabolisme op ’n sellulêre en molekulêre vlak.

Dít verbeter voortdurend ons begrip van hoe plante voeding­stowwe metaboliseer, wat ons in staat stel om spesialiteitsprodukte te ontwikkel om plantegroei en weerstand teen stremmingstoestande te verhoog.

Metabolomika en biologiese produkte
Klimaatsverandering en die veranderende eise wat aan produsente gestel word, maak die jongste landbouprogramme onontbeerlik om produsente te help om kwessies soos droogte, buitengewone temperature, dalende grondvrugbaarheid en ander stremmingstoestande te hanteer.

Mikrobes is komplekse, lewende organismes wat op ’n spesifieke tyd en teen spesifieke hoeveelhede toegedien moet word om effektief te wees. Omnia se biologiese Bacstim®-reeks is saamgestel uit stamme van die Bacillus spp.-bakterie wat verskeie voordele vir grondgesondheid en weerstand teen stremmingstoestande toon.

Begrip van hierdie mikrobes se impak op plantmetabolisme lei tot die ontwikkeling van programme wat presiese, konsekwente resultate lewer. Hieruit spruit meer volhoubare, doelgerigte, holistiese en winsgewende boerderypraktyke voort omdat ons die risiko van stremming op die plant voortdurend meer effektief kan bestuur.

Die wetenskaplike inligting wat ons uit ons navorsing bekom, help ons om die ideale toediening vir mikrobes te bepaal om optimale droogteweerstand, voedingsopname en hoër opbrengste te verseker. Meer inligting rus ons dus toe om besluite te neem wat die hele voedselwaardeketting raak.

’n Belegging in die toekoms
Omnia belê voortdurend in die ontwikkeling van volhoubare nuwe benaderings en tegnologie vir gewasproduksie.

Ons biologiese produkte en benaderings is gegrond op akademies ondersteunde, eweknie-beoordeelde wetenskaplike beginsels om te verseker dat ons kliënte ons kan vertrou. Hierdie werk is nie net ’n belegging in die Suid-Afrikaanse landbou nie, maar die insigte wat dit bied, dra wêreldwyd by tot vooruitgang in hierdie lewens­belangrike industrie.

Omnia se doelwit is dat boerderygrond ná ’n oes in ’n beter toestand sal wees as voorheen. Só help die kennis wat ons uit ons navorsing bekom ook om die omgewing te beskerm en ’n beter wêreld vir nageslagte agter te laat.

Kontak die Omnia-verkoopsbestuurder in jou omgewing vir meer inligting.