Stuit vervlugtiging en loging só

Dr FG Adriaanse, namens Kimleigh Chemicals SA (Edms) Bpk
Published: 26 February 2021

1126

Ureumstabiliseerders bestaan uit urease-inhibeerders wat die vervlugtiging van stikstof (N) in ’n gasvorm vanaf grondoppervlakke beperk en nitrifikasie-inhibeerders wat die loging van nitraat-N in die grond verminder.

Urease-inhibeerders vertraag die werking van urease-ensieme wat verantwoordelik is vir die omsetting van ureum na ammoniak (gas) of ammonium (in oplossing).

Nitrifikasie-inhibeerders vertraag die werking van nitrosomonas-bakterieë wat verantwoordelik is vir die omsetting van ammonium-N na nitraat-N. Aangesien ammonium positief gelaai is en daarom aan die negatief gelaaide kleiminerale bind, sal dit nie loog nie. Nitraat daarenteen is negatief gelaai en dus baie loogbaar.

Teen so vroeg as 1980 was daar reeds verskeie urease- en nitrifikasie-inhibeerders in die handel beskikbaar, maar die effektiwiteit van aktiewe bestanddele sowel as die formulasies is sedertdien aansienlik verbeter. Die urease-inhibeerder wat wêreldwyd die meeste toepassing gevind het, is NBPT (N-(n-butiel)tiofosfortriamied) wat in oplossing beskikbaar is. Kimleigh het hierdie produk met metaalkomplekse van Schiff-basisse in Azanon® U en Thiocote® S vervang.

Twee nitrifikasie-inhibeerders wat tot vandag toe die meeste toepassing gevind het, is Nitrapyrin in vloeibare vorm vir vloeibare kunsmis en Dicyandiamide (DCD) in poeiervorm vir korrelkunsmis. Kimleigh het hierdie produkte met heterosikliese stikstof in die produk InnoX vervang en ook die bestanddele van sy urease-in­hibeerder en nitrifikasie-inhibeerder in een produk met die naam DetaiN gekombineer.

Opbrengsresultate
Die effektiwiteit van ureum wat met Kimleigh se produkte behandel is teenoor onbehandelde ureum en NBPT-behandelde ureum, is gedurende die 2019/2020-seisoen in ’n statistiese proef met vyf herhalings in die Rysmierbult-omgewing getoets. Die opbrengs­resultate van die proef word in Grafiek 1 aangedui.

Grafiek 1: Opbrengsreaksies van ureumbehandelde produkte teenoor onbehandelde ureum.
Behandelings is teen vyf weke na plant teen 75 kg N/ha uitgestrooi. Met plant is 35 kg N/ha,
23 kg P/ha en 23 kg K/ha op al die persele gebandplaas. Gemiddelde prestasies van vyf
herhalings word aangebied.

Voordat behandelings op 21 Desember 2019 uitgestrooi is, het 8 mm reën geval, wat toestande vir vervlugtiging bevorder het. Die reën wat ná toedienings op 23 Januarie geval het, was slegs 6 mm, wat te min was om die ureum in die grond in te was. Onder die urease-inhibeerders het Azanon® U die beste presteer, gevolg deur Thiocote® S en dan NBPT. Een van die redes waarom NBPT swakker presteer het, is omdat die pH(KCl) van die bogrond 4,5 was en NBPT vinniger in sulke suur toestande afgebreek word (Engel, Towey & Gravens, 2015).

Die nitrifikasie-inhibeerder InnoX het beter presteer as Azanon® U, wat beteken dat loging ’n groter probleem as vervlugtiging was. Hierdie afleiding word bevestig deur die feit dat dit ’n goed gedreineerde sandgrond was, wat slegs 8% klei in die bogrond bevat het. Verder sou reënval van 38 mm, 48 mm, 38 mm en 24 mm op 8, 11, 25 Februarie en 4 Maart onderskeidelik, verseker loging in die grond bevorder het.

DetaiN het beter presteer as enige ander produk, waarvolgens afgelei word dat beide vervlugtiging én loging wat die moeite werd was om te behandel, voorgekom het.

Opbrengsverhogings deur Kimleigh-behandelde ureumprodukte teenoor onbehandelde ureum was 127 kg/ha (3,1%), 186 kg/ha (4,6%), 322 kg/ha (8,0%) en 439 kg/ha (10,8%) vir Thiocote® S, Azanon® U, InnoX en DetaiN onderskeidelik. Teen ’n mie­lieprys van R2 700/ton beteken dit ’n ver­ho­ging in bruto inkomste van R343/ha tot R1 185/ha. Gegewe die koste van Kimleigh-produkte, van minder as R160/ha teen 75 kg N/ha, was dit beslis kostedoel­treffend. Die orde van opbrengsreaksies sal afhang van die mate waartoe toestande bevorderlik is vir vervlugtiging en loging. Afge­sien van kostevoordele, bied dit gemoedsrus om voorsie­ning te maak vir die beheer van potensiële vervlugtiging en logingsverliese.

Gemiddelde opbrengsverhogings met die gebruik van NBPT van 7,2% of 680 kg/ha, in gunstige toestande vir vervlugtiging, is in die VSA gerapporteer (Bundy, 1992; Gordon, 2008; Schwab & Murdock, 2010). Nuwege­nerasie-urease-inhibeerders behoort egter in alle gevalle nog beter relatief tot NBPT in soortgelyke omstandighede te presteer.

Raadpleeg Kimleigh vir meer lokaliteitspesifieke toepassings by www.kimleigh.com of skakel 018 293 1028 of 018 285 1014.