Slimtoestelle keer dat sonpanele voete kry

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 10 Desember 2020

1611

Produsente ly jaarliks groot skade weens die diefstal van sonpanele. Dit laat die vraag ontstaan of sonkrag op plase werklik ’n goeie belegging is.

SA Graan/Grain het met Cobus van Coller, voormalige hoofbestuurslid van Graan SA wat in die Viljoenskroon-area boer, gesels oor die innoverende manier waarop hy sonpanele in sy boerdery gebruik asook die veiligheidsprodukte wat hy aangeskaf het om te verseker dat sy belegging op die plaas bly.

Vir Cobus werk sonkrag baie goed as dit by die pomp van water kom. Vir hierdie doel het hy sonpanele op waentjies gemonteer, wat hy dan na die verskillende boorgate neem om water vir sy beeste te pomp. Die waentjies kan egter nie dag en nag opgepas word nie en daarom het Cobus besluit om van DataDot-opsporingstegnologie gebruik te maak.

Cobus van Coller het sy sonpaneelwaentjies toegerus met ’n DataDot-opsporingstoestel.

Die tegnologie bestaan uit ’n toestel genaamd Oyster Place and Trace wat aan bewegende toerusting vasgemaak word. Die toestel is gekoppel aan ’n GSM-netwerk deur middel van ’n SIM-kaart. Deur ’n toep op sy slimfoon af te laai, kan Cobus enige tyd van die dag of nag monitor waar die toerus­ting is en of dit geskuif word. Hy het sy toestelle met magnete toegerus sodat dit op enige toerusting gebruikkan word en swart geverf sodat booswigte dit nie opmerk nie.

Ben Calitz, eienaar van ’n maatskappy wat soortgelyke toe­stelle bemark, sê produsente is al hoe meer geneig om na opsporing as ’n oplossing te kyk. “Dit help nie jy het ’n kamera geïnstalleer en jy sien ná die diefstal eers dat die toerusting gesteel is nie. Al wat ’n produsent dan kan doen, is om ’n eis by die versekering in te stel. Met ’n opsporingstoestel weet die produsent onmiddellik dat die toerusting geskuif word en ons kan inbeweeg om dit op te spoor en terug te kry.”

Met die koste van elektrisiteit wat jaar op jaar styg, is die instal­lering van sonkragstelsels op plase aan die toeneem. Ongelukkig het die diefstal van sonpanele ook drasties toegeneem en produ­sente moet slim werk om nie geld te verloor nie. Skryf gerus aan my by valerie@infoworks.biz – ek hoor graag hoe jy jou sonkragtoerusting beveilig.