Dit sal ook verbygaan

Gepubliseer: 30 September 2020

335

Jannie de Villiers
HUB, Grain SA jannie@grainsa.co.za

Ek het nou die dag ’n byeenkoms bygewoon wat gehandel het oor die verlies wat mense in die COVID-tyd beleef.

Kundiges het gepraat oor kinders wat nie matriekafskeid kon hou nie en ook nie die laaste skooljaar se tradisionele derby beleef het nie. Dié wat sport as ’n loopbaan oorweeg en ’n oog op ’n sportbeurs gehad het, moes weer nuut dink oor die toekoms. Almal het een of ander verlies beleef en daar is idees uitgeruil oor hoe om daarmee om te gaan.

Graanprodusente ken hierdie gevoel. Daar is kort-kort ’n droogte (of die reën kom op die verkeerde tyd) en daar is die graan se kwaliteit en/of opbrengste daarmee heen. Verliese word ook gely weens ’n staatsdepartement wat nie ’n koringtarief afgekondig kry nie. Ons hoor van so baie mense wat ’n verlies beleef as hulle moet wag vir geregtigheid oor iemand wat hulle ingedoen het, hulle eiendom gesteel het of – nog erger – ’n geliefde vermoor het. Sommiges se verlies is maar gering – dink aan die manne wat nie dié jaar kon gaan jag het nie – terwyl ander, soos dié wat dalk ’n miskraam gehad het, ’n heelwat dieper emosie van verlies ervaar. Nog ’n verlies is die onlangse afsterwe van advokaat George Bizos, ’n vriend van die produsent, in die ouderdom van 92 jaar. Ons sal hom altyd onthou vir sy regsopinie oor grondhervorming aan Graan SA se Louw Steytler “that the centre will hold”.

In ons gesprekke met produsente hoor ons van die verliese. Een wat al hoe meer na vore kom, is die verlies dat ons nie bymekaar mag kom nie. Niemand het van vergaderings gehou vóór COVID nie, maar nou smag ons na byeenkomste waar ons weer kan hand skud, ’n vriend op die skouer klop om meegevoel te betuig en sommer iets lekkers saam eet en drink. Die gelag, grappies maak en planne met mekaar deel is so ’n integrale deel van dit wat ek in Graan SA beleef. Daar is ’n groot verlies aan “behoort aan” wat ons nou in georganiseerde landbou er­vaar. Onderlinge verhoudin­ge dra ons sektor en die verlies daaraan is ’n realiteit. Landbou het so goed presteer in ’n tyd van groot nood in ons land – niemand kan dit betwyfel nie. In spansport praat ons dikwels van die senior spelers wat moet vorentoe tree as die groot oomblikke aanbreek. Dit was toe só tydens COVID. Welgedaan aan almal betrokke! Dit bly nie net by praatjies as dit gaan oor die belangrike rol wat landbou in die ekonomie speel nie, dit gaan oor tot dade – en dade met uitnemendheid.

Ek en my vrou het nou die aand gesit en ’n lysie opgestel van alles wat ons wil doen wanneer al die COVID-beperkinge opgehef word. Dit het amper soos Nuwejaarsvoornemens geklink. Dit was egter gou vir my duidelik dat ons ons mense mis. Die herkalibrering wat moet plaasvind, is dat ons ons onderlinge verhoudinge moet koester en ons saamweestye waardeer. Saamwees is deel van ons menswees, al is dit dan om kongres of vergadering te hou.

NAMPO Virtueel kon nie daai saamweesgaping vul nie, maar dít wat die span aanmekaargesit het, het ons beslis trots gemaak om deel te wees van so ’n nuwe inisiatief.

Lente is in die lug en gelukkig kan ons president se inperkings dit nie terughou nie. Ons gaan wel belangrike geleenthede op die Graan SA-kalender mis (Day of Celebration en die Graanprodusent van die Jaar-funksie), wat ons gevoel van verlies nog gro­ter gaan maak.

Maar soos met elke droogte kom daar ’n dag wat die reën begin val en dan is dit die einde daarvan. Net so gaan die COVID-tyd ook tot ’n einde kom.