Haal die raai uit boerdery uit

Agri Technovation en Laeveld Agrochem
Gepubliseer: 8 September 2020

986

Elke boerdery moet benader word as ’n komplekse onderneming met verskeie fasette wat akkerbou, hortologie, grondkunde, geografiese inligtingstelsels, chemie asook proses- en produksie-ingenieurswese insluit. Hierdie benadering lei tot oplossings wat gebaseer is op die konsep van slim boerderypraktyke, waar elke faset van die landbouonderneming op ’n holistiese, intelligente (oftewel ingeligte) manier aanpak word.

Dit staan bekend as presisieboerdery en die einddoel is om produsente te help om hulle risiko’s optimaal te bestuur met goeie boerderypraktyke, wat gegrond is op wetenskaplike navorsing, relevante inligting en metodes wat wetenskaplik beproef is. Elke plaas is uniek, maar nuwe tegnologie maak dit moontlik om die produsent te help om sy grond beter te bestuur en praktyke te gebruik om opbrengste te verhoog en meer volhoubaar te boer.

Een aspek van presisieboerdery is die kombinasie van grondklassifikasie en grondchemie. Dit is ’n uitstekende manier om risiko’s te bestuur, aangesien dit ’n raaisituasie verander in ’n doelgerigte, wetenskaplike boerderypraktyk.

Grondklassifikasie-tegnologie gee riglyne rakende die tipe bewerking wat moet plaasvind, gewasse wat die beste geskik is vir elke grondtipe, plantestand, gewasrotasie wat geplant kan word asook opbrengspotensiaal. Met grond- chemiese ontleding volgens presisiebeginsels kan voedingselemente en regstellings baie meer spesifiek (hoeveelheid en area) toegepas word.

Voorbeeld van ’n grondklassifikasiekaart.

Besluitneming volgens grondtipe het tot gevolg gehad dat produsente groot potensiële risiko’s kon vermy en/of beperk gedurende die droogte wat die afgelope jare in die Wes-Kaap geduur het. Grondklassifikasie dui nie net aan wat die beste grond vir plant is nie, maar ook op watter gronde produsente tydens periodes van min reën kan investeer.

Grondkaarte kan opgetrek word wat bestuurspraktyke verder vergemaklik wanneer byvoorbeeld kunsmis- of kalktoediening plaasvind. Hierdie presisiebenadering kan ’n besparing aan die produsent bied, aangesien onkoste beperk word tot die korrekte hoeveelheid wat benodig word vir die spesifiek uitgewysde areas.

Kontak Laeveld Agrochem of Agri Technovation vir meer inligting.