Suksesvolle bemesting verg opleiding

Dr Pieter Haumann, Fertasa
Gepubliseer: 4 Augustus 2020

1122

Bemestingsriglyne is onontbeerlik vir gewasverbouing, maar moet noukeurig beoordeel en bestuur word om te verseker dat kunsmis optimaal en met inagneming van die spesifieke toestande aanbeveel en toegedien word.

Die ideale situasie is waar riglyne vir die toediening van bemestingstowwe of landboukalk altyd op behoorlik gekontroleerde navorsing gebaseer word. Sodoende kan die reaksie van die gewas dan met verskeie grond-, plant- en ander parameters gekorreleer word om die produksiefunksie van die gewas te bepaal.

Fertasa en sy lede onderskryf verantwoordelike en volhoubare grondvrugbaarheid en plantvoeding. Dit is daarom ’n vereiste by die meeste lede dat hulle landbou-adviseurs en agente Fertasa se BASOS-kursus (Bemestingsadviseursertifisering- en Opleidingskursus) moet slaag voordat hulle toegelaat word om bemestingsaanbevelings te doen. Die Engelse weergawe staan bekend as FACTS (Fertilizer Advisory Certification and Training Scheme).

Die kurrikulum behels agt modules, wat onderwerpe soos grondklassifikasie en berekende aanbeveling van bemestingstowwe insluit.