Nuwe reeks (her)bekendgestel

Piet Vorster, Hattat
Gepubliseer: 4 Augustus 2020

711

‘n Ou bekende met ’n paar veranderinge het weer sy verskyning op die plaaslike trekkermark gemaak.

Hattat Trekkers is ’n Europese trekkervervaardiger wat trekkers in die 37 kW- tot 81 kW-klas vervaardig. Dit vorm deel van die Hema-groep van maatskappye, wat komponente vir verskeie wêreldbekende trekker- en voertuigfabrikate vervaardig.

Hema is in 1973 gestig en die komponentvervaardigingsaanleg beslaan ’n totale oppervlakte van 551 000 m2 waarvan 181 000 m2 onder dak is. Dié affiliasie beteken dat ’n baie groot deel van die trekkers wat gebou word se komponente alles intern gegiet en gemasjineer word – van die enjinblokke en krukaste (namens Perkins van Engeland) tot by die aste, hidrouliese kleppe, transmissies en ewenaars, wat ratte en omhulsels insluit.

Die reeks wat tans in Suid-Afrika bekendgestel word, is geskoei op ’n ou bekende reeks trekkers wat deur Hattat se voorgangers (Uzel) onder lisensie vir dié vervaardiger gebou is. Dit beteken dus dat ’n groot deel van die onderdele uitruilbaar is met trekkers waarvan daar steeds duisende op Suid-Afrikaanse plase gebruik word. Die voorste ewenaar, transmissie en volledige agteras is steeds op dieselfde ontwerp gebou.

Hierdie trekkers gebruik egter ’n nuwegenerasie- egte Perkins-1104D-44TA Tier-3-enjin waarvan daar ook ’n beduidende hoeveelheid tans op plaaslike plase werk, ook in ander fabrikate. Die enjins is bekend vir hulle betroubaarheid en suinige dieselverbruik. Ander veranderinge wat aan die oorspronklike ontwerp gemaak is, sluit onder meer ’n groter hysvermoë van 4 000 kg in en ’n groter hidrouliese pomp wat ’n indrukwekkende 72 ℓ/min olie­vloei lewer, wat deur vier hidrouliese punte as standaardtoerusting beskikbaar is. Daar is dus geen tekort aan olievloei of die aantal hidrouliese punte wanneer hidrouliese implemente gekoppel en gebruik word nie.

Al die modelle is toegerus met onafhanklike kragaftakkers (IPTO), wat beteken dat die kragaftakker geaktiveer kan word sonder om die koppelaar te gebruik. Twee kragaftakkerspoedopsies is beskikbaar, naamlik 540 rpm en 1 000 rpm, na gelang van die spesifikasies van die implement wat gebruik word. Die verstelling word met ’n hefboom vanaf die operateursplatform gedoen, terwyl die operateur op die sitplek sit – dit is dus nie nodig om aste te ruil nie. Die transmissie is die bekende en betroubare 12×4- gesinchroniseerde weergawe wat met ’n droë koppelaar aan die enjin verbind word.

Die Hattat 398 hard aan die werk.

Die trekkers sal aanvankliklik in drie modelle beskikbaar wees, naamlik die Hattat 390 4wd van 68 kW, die Hattat 398 4wd van 75 kW en Hattat 399 4wd van 81 kW. Die trekkers is slegs in vierwiel­aandrywing beskikbaar en kan met of sonder ’n kajuit bestel word. Oopstasietrekkers is standaard met ’n ROPS (rolbeskermingstruktuur) en ’n sondak toegerus. Kajuittrekkers beskik oor ’n lugversorger en al die modelle is met straallaagbande toegerus. Die inhoudsmaat van die brandstoftenk op die kajuitweergawes is 125 ℓ en die vulprop is gerieflik geplaas om hervulling moontlik te maak sonder om op die trekker te klim. Die trekker is vol belaai met twaalf 40 kg-gewigte op die neus en agt 50 kg-gewigte op die agterwiele om te verseker dat al die beskikbare trekkrag op die grond kom en die trekker se volle kragpotensiaal benut word. Die trekkers spog ook met ’n verstelbare sleepwahaak (leertipe) en die kajuittrekkers het boonop ’n lugkompressor wat as standaardtoerusting aangebied word.

Hattat Trekkers spog met verskeie toekennings wat onder meer insluit die trekker van die jaar in Pole in 2010 en in 2016. Dit was die wentrekker tydens die ploegkompetisie in Ierland in 2011 en in Letland in 2013. Hattat vervaardig ook sekere Valtra-trekkermodelle onder lisensie van AGCO vir verspreiding in sekere wêreldmarkte, onder meer in Suid-Afrika. Hul trekkers word tans in meer as 80 lande op vyf kontinente oor die wêreld verkoop en die besigheid groei elke jaar.

Die reeks trekkers bied aan produsente ’n robuuste en eenvoudige trekker sonder enige onnodige tegnologie of tierlantyntjies in ’n bekostigbare pakket sonder om spesifikasies in te boet. Die trekkers het ’n tweejaar/2 000 uur-waarborg, wat ook al eerste kom.

’n Handelaarsnetwerk word tans op die been gebring en voornemende kopers en handelaars is welkom om in verbinding te tree vir verdere navrae.