Meganisering verhoog produktiwiteit

Arno du Plessis, Case IH
Gepubliseer: 4 Augustus 2020

1095

In teenstelling met outomatisering, wat nie so afhanklik van menslike bestuur is nie, benodig meganisering heelwat meer menslike deelname om inligting te versamel en instruksies uit te deel.

Meganisering het begin met die hantering van masjinerie deur die mens om die handewerk van sekere ambagte te vervang. Vandag word rekenaars al meer gebruik om meganiseringsprosesse te bestuur.

Produktiwiteit word deur meganisering verhoog, al is dit ook in agtergeblewe gemeenskappe waar landbou ’n baie belangrike rol in die alledaagse behoeftes speel. Die aantal werksgeleenthede in die landbousektor bly egter steeds daal weens industrialisering en meganisering.

Die fabriekstelsel het in die laat 1800’s die huishoudelike stelsel, waar individue handgereedskap of eenvoudige toerusting gebruik het om goedere in hul eie huise of tuiswerkswinkels te vervaardig, vervang. Die gebruik van hidro-krag en die stoomenjin is in die tweede helfte van die 1800’s in Engeland gebruik om materiaal vir klere te weef – dit was die begin van die fabriekstelsel. Hierna het meer en meer fabrieke ontstaan om goedere te ontwerp en te monteer asook vir die vervaardiging van vervangingsonderdele en komponente.

In 1831 het Cyrus Hall McCormick (die baanbreker van Case IH se ryke geskiedenis) die eerste meganiese stroper bekendgestel en in 1869 het Jerome Increase Case die eerste stoom­enjinaangedrewe trekker bekendgestel. In 1886 word JI Case die grootste vervaardiger van stoomenjins in die wêreld.

Case IH se reeks beskik oor trekkers vanaf 32 kW – die alombekende JXT-reeks tot die Steiger 600 (447 kW). Alle modelle bo 85 kW is beskikbaar met die AFS-stelsel as opsie en vanaf 230 kW is dit standaard. Vooras-suspensie is ook standaard op alle Magnum-trekkers vanaf 230 kW tesame met dubbelvoorwiele. Die RowCrop-modelle is ook beskikbaar met smaller, maar groter profiel-bande volgens rywydtebehoeftes. Case IH maak gebruik van FPT-enjins op alle masjiene, wat drie, vier en ses silinders insluit.

SPX-spuite sluit die 3230 (165 kW) met ’n 30 m-balk in asook die 4430 (216 kW) met die 4 500 ℓ-tenk toegerus met ’n 36 m-balk. Beide die masjiene is standaard toegerus met die AIM Command PRO-FLEX-sisteem, waar druppelgrootte elektronies beheer word, onafhanklik van die spoed wat gery word. Albei modelle is ook standaard toegerus met die betroubare AFS-stuurstelsel.

Die vlagskipreeks-enkelrotorstropers beskik oor drie modelle: die 7250, die 8250 en die magtige 9250 met sy 16 ℓ-enjin. Die 250-reeks is toegerus met Automatic Harvest Command, wat die stroper in staat stel om self verstellings te maak na gelang van die toestande, graankwaliteit en terreintipe. Standaard toegerus met Case IH se AFS-stelsel, is hierdie stropers ’n gewilde keuse wanneer dit by graanverwerking kom. Die stropers is in staat om tot 45 voet-tafels te hanteer en kapasiteit is geen beperking vir dié magtige reuse nie. Die basis waarop die stropers monteer word, is een en dieselfde – van die 7250 tot die 9250 – en die skoonmaakarea is presies dieselfde op al drie modelle.

CASE IH spog met ’n wye reeks landboutoerusting met innoverende tegnologie om spesifiek in die moderne produsent se behoeftes te voorsien.

Verder beskik die 140-reeks stropers steeds oor die betroubare meganiese werking wat hulle van die markleiers in hul kategorieë gemaak het. Die 5140, 6140 en die 7140 beskik oor eenderse sif­areavolumes, met die 6140 en die 7140 wat toegerus is met kragtige 8,7 ℓ-FPT-enjins. Die sorg waarmee hierdie stropers materiaal hanteer, lei tot graanmonsters van uitstekende gehalte.

Die maatskappy beskik verder oor ’n unieke implementereeks wat werk van hoogstaande gehalte lewer. Die Ecolo-Tiger, die Tigermate en die Turbo-Till is van die grondbewerkingsimplemente in dié reeks, terwyl die hooimaaktoerusting die MC-snyer-kneuser asook die LB436 Big Pack-balers insluit.

Case IH spog verder met die 2100 ASM-planterreeks. Die planters is ten volle varieerbaar op saad asook op vooropkoms-kunsmistoediening. Met een van die beste materiaalhanterings- en saadplasingstelsels in die mark, is hierdie ’n moet om te sien en op jou plaas in jou toestande te toets. Ons beskik oor sleepmodelle met 12 rye tot 24 rye en ’n nuwe toevoeging is die 12-ry- en 16-ry-stapelplanters.