Groot vraag na dié mikrofyn kalk

Dons Jordaan, Bastion Lime en prof Andries Claassen,
Greenhouse Trial and Research Centre
Gepubliseer: 9 Julie 2020

1758

Bastion staan na 52 jaar steeds sterk en lewer jaarliks landboukalk van hoë gehalte aan graanprodusente in Sentraal-Suid-Afrika.

Ons Britten-aanleg in die Bloemhof/Christiana-area voorsien jaarliks duisende tonne amorfe kalsitiese en dolomitiese landboukalk aan die grootste gedeeltes van die Vrystaat en Noordwes.

Bastion het ook in 2019 in ’n gipsaanleg in Britten belê en verskaf nou gips in die besproeiingsareas van die Noord-Kaap, Noordwes en die Vrystaat. Hierdie skoon, fyngemaalde en hoogs reaktiewe gips is tans baie gesog.

Daar is besluit om vanjaar die produksiekapasiteit by die Marico- mikrofyn dolomietaanleg te verdubbel om aan die vraag na dié hoogs reaktiewe dolomiet te kan voldoen. Die nuwe aanleg is reeds in Mei 2020 in gebruik geneem en produseer daagliks om gereed te wees vir die nuwe kalkseisoen.

Marico is een van die beste dolomietbronne in die mark, met ’n siffraksie-ontleding van 99,6% kleiner as 250 mikron (die wet vereis 50%). Verder is 96% van die kalk selfs fyner as 106 mikron (die wet vereis 100% deur ’n 1 700 mikronsif). Hierdie mikrofyn dolomiet is hoogs reaktief.

Op ons versoek het die Greenhouse Trial and Research Centre in Babsfontein in 2019 uitgebreide inkubasieproewe op verskeie landboukalke gedoen. In hierdie navorsingswerk het Marico- mikrofyn dolomiet baie goed in verskillende gronde gereageer wanneer dit gekom het by reaksietyd asook pH-verhoging (Grafiek 1).

Grafiek 1: pH-verhoging gemeet na inkubasie van 20 weke met Marico- mikrofyn dolomiet en ander dolomietbronne.

As gevolg van die mikrofyn eienskappe van die Marico-dolomiet is dit ook ’n goeie bron van Mg en verhoog dit die Mg-vlakke in die grond (Grafiek 2).

Grafiek 2: Mg-verhoging gemeet op 20 weke van Marico- mikrofyn dolomiet teen ander dolomietbronne.

Bastion se Buhrmansdrift-landboukalkmyn is in 2018 vergroot en opgegradeer. Na aanleiding van die baie goeie resultate wat met die inkubasieproewe gevind en bekendgemaak is, is daar geen keer aan die aanvraag na hierdie hoogs reaktiewe kalsitiese bron nie. Bastion is gevolglik besig met beplanning vir ’n verdere kapasiteitsuitbreiding om aan die groeiende vraag na Buhrmansdrift-kalsiet te voldoen.

Hierdie kalsietbron vanaf die plaas Wagendrift by Buhrmansdrift is tans verreweg een van die mees reaktiewe kalsietbronne in Suid-Afrika. Met ’n siffraksie-ontleding van meer as 80% fyner as 250 mikron (die wet vereis 50%) is hierdie amorfe kalsietbron produsente se eerste keuse.

Grafiek 3: pH-verhoging op 20 weke gemeet van Buhrmansdrift-kalsiet teen ander kalsietbronne.

Bastion belê jaarliks duisende rande om sy aanlegte so effektief moontlik te laat funksioneer om kalkkoste vir die graanprodusent so laag as moontlik te hou. Daar word ook deurentyd hard gewerk aan die verbetering van stelsels en prosesse om verkoopstransaksies so veilig en deursigtig moontlik te maak.

Die Bastion-personeel sien daarna uit om in die 2020/2021-seisoen van diens te wees – nie net vir ons bestaande lojale kliënte nie, maar ook vir nuwe kliënte.