Grondversuring en landboukalk – ’n alternatiewe opinie

Ewald Groenewald, MSc-student in Grondkunde,
Universiteit van Pretoria, namens H Pistorius & Kie
Gepubliseer: 9 Julie 2020

1547

‘n Begrip van die prosesse wat grond versuur en die bepaling van die onderliggende oorsake wat hierdie prosesse dryf, is essensieel vir die implementering van voorkomende maatreëls om die versuringstempo in grond te verlaag.

Die belangrikste prosesse in die grond, wat sure en basisse genereer, vind plaas tydens die biochemiese siklusse van koolstof, stikstof en swael. Die gebruik van stikstofbemestingstowwe en suurreën is voorbeelde wat bydra tot die versuring van grond in Suid-Afrika.

Die werklike uitdaging is nie om die oorsake te identifiseer nie, maar om noemenswaardige oplossings te vind. Landboukalk is die antwoord tot suurgrond in kommersiële landbou. Verdere navorsing, wat tans gedoen word, kan moontlik bewys dat sommige staalslaklandboukalkprodukte (BOF – basic oxygen furnace slag) selfs ’n beter effek op suurgrond kan hê as standaardlandboukalk. Die manier waarop landboukalk in die grond reageer, is relatief eenvoudig en is al wêreldwyd intensief ondersoek. Suid-Afrikaanse universiteite en landboukalkmaatskappye het ’n groot rol in hierdie navorsing gespeel.

Navorsing wat die bydrae van metaalyster (Fe0) tot die neutraliseringskrag van slak, ’n landboukalkproduk, ondersoek, word tans gedoen. Die redes vir die ondersoek is die volgende:

  1. Die oksidasie van metaalyster is basisvormend of suuropnemend:
    Fe0 + ½ O2 + 2 H+ → Fe2+ + H2O
    Fe0 + ½ O2 + H2O → Fe2+ + 2 OH
    Fe0 + 2 H+ → Fe2+ + H2
  2. Fe0 is ’n sterk reduktant en kan die versurende effek van die meeste van die bogenoemde reaksies en prosesse (Tabel 1) beïnvloed. Byvoorbeeld, tussen stikstof en metaalyster vind suuropnemende reaksies plaas wat moontlik die netto versurende effek van die stikstofsiklus kan verlaag. Moontlike suuropnemende reaksies wat hier kan plaasvind, is soos volg:
    5Fe0 + 2NO3− + 12H+ → 5Fe2+ + N2 + 6H2O
    4Fe0 + 2NO3− + 10H+ → 4Fe2+ + NH4+ + 3H2O
    Fe0 + 2NO3− + 4H+ → Fe2+ + 2NO2- + 2H2O
  3. In die nabye omgewing van die Fe0-partikel word magnetiet gevorm en dit preserveer adsorbeerde ammonium, wat ammonium-versurende reaksies kan verminder.

Dus, in kombinasie met Fe0, kan ’n bekalkingsmateriaal moontlik die suurgrond en die versuring aanspreek. Sodoende word die simptome sowel as die oorsaak van die probleem behandel.

Eerstens moet die suurgrond met landboukalk geneutraliseer word. Hier speel die verskaffer ’n belangrike rol om te verseker dat die produk van die beste gehalte is. ’n Landboukalk moet fyn wees en die betrokke verskaffer moet volle verantwoordelikheid neem in gevalle waar kwaliteit nie gelewer word nie.

Tweedens moet die reaksies wat versuring veroorsaak, verstaan en voorkom word. Hier speel goeie boerderypraktyke en die verhouding tussen die produsent en adviseur ’n baie belangrike rol.

Bron

  1. Brady, NC, & Weil, RR. 1999. Nature and properties of soils. Prentice-Hall, Englewood Cliffs, NJ.

Brady & Weil (1999) skryf:
‘No other single chemical soil characteristic is more important in determining the chemical environment of higher plants and soil microbes than the pH. There are few reactions involving any component of the soil or of its biological inhabitants that are not sensitive to soil pH. This sensitivity must be recognised in any soil-management system.’

‘Lime is truly a foundation for much of modern humid-region agriculture. Knowing how pH is controlled, how it influences the supply and availability of essential plant nutrients as well as toxic elements, how it affects higher plants and human beings, and how it can be ameliorated is essential for the conservation and sustainable management of soils throughout the world.’