Elke klant behoort te registreer

Jacques de Wet, NWK
Gepubliseer: 11 Junie 2020

1367

‘n Uitkeerwaarde van R25 miljoen is vir die eerste drie seisoene van NWK se lojaliteitsprogram deur deelnemende klante verdien. Hiervan is 2 634 miljoen aandele reeds oorgedra en meer as R100 000 is as krediet vir verdere aankope beskikbaar gestel.

Anders as soortgelyke programme in die landbousektor, wat dikwels op ’n uitgestelde voordeelbasis berus, word lojaliteitsklante se punte- en bonuswaarde per finansiële jaar uitgekeer. Dié unieke samestelling het baanbrekerswerk geverg om suksesvol te implementeer, met die uiteinde dat die program se ratwerk – van registrasie en maandelikse puntetoekenning tot by die oordrag van aandele of krediet vir verdere aankope – nou glad verloop. Lojaliteitsklante verkry ook deur die NWK Online-toep toegang tot ’n staat wat die punte wat hulle maandeliks verdien het, weergee.

Gebruikersvriendelike registrasie
“Die registrasieproses is heel eenvoudig. Ek het op die NWK Online-toep geregistreer. Dit was baie maklik en gebruikersvriendelik,” vertel verlede jaar se toppunteverdiener, Richard Hobson van Botselo Farming by Mareetsane.

Richard sê hy kan vir seker die lojaliteitsprogram aanbeveel: “Dit skep deelname, dit ploeg terug en gee erkenning vir die besigheid wat jy met NWK doen. Enige iemand wat ’n klant van NWK is, behoort vir die lojaliteitsprogram te registreer.”

Nuwe registrasies kan by een van NWK se finansieringskonsultante gedoen word of dit kan op die program se webwerf afgehandel word. Volgens wet moet elke regsentiteit wat geregistreer word se nuutste FICA-inligting tydens registrasie verskaf word.

Die NWK Lojaliteitsprogram se toppunteverdiener vir 2018/2019, Richard Hobson van Botselo Farming (middel), by Jaques de Wet, bemarkingsbestuurder, NWK (links) en Theo Rabe, die hoof- uitvoerende beampte van NWK.

Wie kan deelneem
Enige persoon of instansie wat met NWK Handel of NWK Graan sake doen en wie se registrasie goedgekeur is, kan deel word van die groeiende groep klante wat reeds suksesvol geregistreer het en maandeliks lojaliteitspunte verdien omdat hulle hul sake aan NWK toevertrou.

  • Deelnemende entiteite, die publiek en personeel ontvang krediet vir verdere aankope op hulle NWK-rekening in ruil vir hul puntewaarde per jaar.
  • NWK-aandeelhouers of produsente wat as bona fide-boere by NWK geregistreer is, of deel is van die programme vir opkomende en jongboere, kan hul aandeelhouding in die groep uitbrei deurdat NWK Beherend Beperk-aandele – onderworpe aan beskikbaarheid – toegeken word vir die waarde van die lojaliteitspunte verdien per jaar (1 Mei tot 30 April).

Punte word verdien deur die volgende te doen:

  • Aankope by NWK Handel (NWK Saad, Midchem, NWK Kunsmisbemarking, NWK Meganisasie, NWK Retail of Econobuild), hetsy op rekening of kontant met ’n NWK-rekeningnommer – en op direkte transaksies soos kunsmis, diesel en saad.
  • Graanlewerings by NWK Graan.
  • Verdien tans bykomende bonuswaarde deur NWK-Omnia Kunsmisbemarking asook Landboubestuursdienste se presisiebesigheid te ondersteun (onderhewig aan bepaalde voorwaardes). Dié voordeel is eksklusief vir lojaliteitsklante beskikbaar en sal na verwagting binnekort meer verskaffers insluit.

Deelname groei fluks
Sedert die program in 2017 van stapel gestuur is, is meer as 1 200 registrasies voltooi en goedgekeur met ’n totaal van meer as 1 900 rekeninge wat hieraan gekoppel is.

Ekstra beloning
Verdiende puntewaarde is nie al waarvoor lojaliteitsklante in aanmerking kom nie. Wees op die uitkyk vir verskeie gelukkige trekkings deur die loop van die jaar, naamlik een R10 000- en vier R3 000-koopbewyse van NWK Retail. Die toppunteverdiener stap weg met ’n LekkeSlaap-geskenkbewys ter waarde van R25 000.

Besoek die webwerf by www.nwklojaliteit.co.za of kontak Jacques de Wet by 018 633 1193 of jdewet@nwk.co.za.