Koringkultivars vir droëland en besproeiing

Gepubliseer: 17 April 2020
Anthony Collen, K2

1845

K2 se droëlandkoringkultivars sluit ’n verskeidenheid opsies in. Koonap, Elands, Senqu en Matlabas wissel in terme van groeiperiode, groeiseisoen, strooisterkte en uitloopweerstand.

Matlabas word met groot sukses in die Vrystaat en Noordwes (hoofsaaklik vanaf middel Mei tot ongeveer middel Junie) vir graanverbouing aangeplant. Daarna volg Senqu, ’n sogenaamde oorbruggingskoring, wat korter groei as Matlabas, maar ’n langer groeiperiode as Elands het. As die seisoen laat raak, plant produsente heel laaste Koonap, wat ’n kort groeiperiode het.

In die noordelike gedeeltes van die Oos-Kaap plant produsente reeds vroeg in die herfs hoofsaaklik koring vir groenweiding, wat dan deur die wintermaande benut word. Hier speel Matlabas ’n groot rol, omdat dié kultivar ’n hoë kouebehoefte het voordat dit na die aarstadium sal oorgaan.

K2 se besproeiingskoringkultivars is Duzi, Kariga, Koedoes en Renoster. Beide Duzi en Kariga word besonder suksesvol vanaf middel Januarie tot einde Februarie op die Springbokvlakte in Limpopo as sogenaamde droëlandsomerkoring geplant.

Koedoes is ’n ultravinnige holstambesproeiingskultivar met ’n baie hoë opbrengs, wat uitstekend in die warmer sowel as in die koeler sentrale besproeiingsgebiede presteer.

Renoster is ’n kort, vinnige besproeiingskultivar met ’n baie hoë opbrengs. Dis ’n kultivar wat ook goed in die warmer sowel as in die koeler sentrale besproeiingsgebiede presteer.

Hierdie kultivar is veral geskik vir produsente wat ná koring minimum- of geenbewerkingspraktyke wil toepas, aangesien dié variëteit ’n semidwergholstamkoring is, met ’n baie kort stingel en min vegetatiewe materiaal.