NAMPO ALFA 2026 bring op 2 en 3 Oktober lewende hawe weer volwaardig terug na NAMPO Park – maar vanjaar strek die ervaring veel verder as die skouring. Met ’n uitgebreide lewendehaweprogram, jag- en buitelewe-uitstallers, nasionale kompetisies, perde- en skietaktiwiteite en ’n musiekfees, word die geleentheid ’n volwaardige landbou- en buitelewenaweek vir produsente én hul gesinne.
Vir die veebedryf is die terugkeer van diere na die terrein ’n belangrike ontwikkeling. Volgens die organiseerders maak die grootskaalse inenting van vee teen bek-en-klouseer (BKS) dit moontlik om weer ’n omvattende lewendehaweprogram aan te bied en vir die eerste keer in ’n geruime tyd volle uitvoering aan die oorspronklike doelstellings van NAMPO ALFA te gee.

Die gevestigde skou- en ekspoprotokol wat sedert 2019 vir lewendehawegeleenthede gebruik word, is aangepas om die huidige entingsvereistes te akkommodeer. Geen dier sal op die terrein toegelaat word sonder bewys van die vereiste inentings en dat volle immuniteit bereik is nie, terwyl die bestaande biosekuriteitsbeginsels steeds streng toegepas sal word.
Vanjaar gaan die Nasionale Interrasvereniging se beoordelaarsevaluering en -koördinering ook by NAMPO ALFA plaasvind. Die kleinveebedryf kry eweneens ’n sterk platform. Die BKB-kleinveeprogram fokus op die evaluering en identifisering van ekonomies doeltreffende diere, terwyl die BKB-Super 10 Bokskou vir die eerste keer in dié formaat in Suid-Afrika aangebied word. Van die land se voorste Boerbok-, Kalahari Red- en Savannah-telers sal deelneem.
En vir dié wat glo dat grootte wel saak maak, keer die Voermol-mega-oskampioenskap terug, met deelnemers wat die indrukwekkende 1,6 ton-wenner van 2025 sal probeer onttroon.
Die program sluit verder Pikkie Uys se funksionele evaluering van ’n kommersiële vleisbeeskudde, die NaLFA-konferensie vir kleinskaalse boere, werkshonde, perde, miniatuurperde, donkies, pluimvee, konyne en die bekende spesiegerigte mini-ekspo’s in.



Jag en buitelewe word ’n al groter deel van die ervaring
NAMPO ALFA se jag- en buitelewekomponent toon sterk groei. Met meer as 160 bevestigde uitstallers, beteken dit dat besoekers benewens die tradisionele landbou- en lewendehawe-aanbod ook ’n uitgebreide reeks jag-, buitelewe- en leefstylprodukte en -aktiwiteite op een terrein kan ervaar.
’n Daaglikse skattejag van 08:00 tot 15:00 moedig besoekers aan om die terrein te verken en deelnemende uitstallers te besoek. Deelnemers wat die skattejag voltooi het kan die prysuitdeling bywoon en ’n kans staan om groot pryse te wen.
Die buiteleweprogram kry vanjaar ook ’n nuwe dimensie wanneer die Specialized Bicycle Company op 3 Oktober om 08:00 ’n ride-along vanaf NAMPO Park aanbied. Verdere besonderhede oor dié rit sal later bekend gemaak word.



Perdesport bring spoed en vaardigheid
Barrel Racing South Africa (BRSA) bring ’n verdere aksie-element na NAMPO ALFA met barrel racing, pole bending en Texas barrels asook ponieritte.
Deelname is nie tot BRSA-lede beperk nie en wissel van beginners tot ervare deelnemers.
Inskrywings is reeds oop by Marlise by 072 443 5011 of info@barrelracing-southafrica.co.za.
Van die skouring na die verhoog
NAMPO ALFA se fokus op ’n volwaardige naweekervaring kry op Saterdagaand 3 Oktober momentum met die Afrikaans@NAMPO ALFA-musiekfees in die NAMPO-saal.
Vanaf 18:30 bestyg Riaan Benadé, Gerhard Steyn, Monique Steyn en Chris Else die verhoog, met OFM-aanbieders as seremoniemeesters. ’n Biertuin en kosstalletjies vorm deel van die aand se kuierervaring.
Kaartjies kos R250 per persoon, met toegang tot die kindersirkel teen R200 per kind, en is beskikbaar deur OpenTickets.
Die naweek word op Sondag 4 Oktober om 09:00 in die NAMPO-saal afgesluit met die NAMPO ALFA-lofdiens. Johandré Potgieter tree as prediker op, met lofsang deur Franna Benadé, Gerhard Steyn en Chris Else. Toegang tot die lofdiens is gratis.


Bly vir die hele naweek
Besoekers wat die volle ervaring wil benut, kan ook op NAMPO Park kampeer. ’n Naweekkamppakket vir 2 tot 4 Oktober kos R1 000 per kampeerplek, met water en elektrisiteit ingesluit.
Kom geniet ’n naweek waar die veebedryf sake doen, die landboujeug hul vaardighede wys, die buitelewebedryf nuwe gehore bereik en landbougemeenskappe weer op NAMPO Park saamkom.


















