Neem veilige, betroubare onkruidbeheer na nuwe hoogtes

Bennie Buys, produkbestuurder: Onkruiddoders, Philagro SA
Gepubliseer: 1 Augustus 2026

47

Onkruidbeheer bly een van die grootste uitdagings vir mielieprodusente oor die hele Suid-Afrika. Weerstandbiedende gras- en breëblaaronkruide, tesame met ’n toenemende uintjieprobleem, het deur die jare produktiwiteit en winsgewendheid onder druk geplaas. In hierdie uitdagende omgewing is Yamato® 480 SC van Philagro egter oor die afgelope ses jaar onbetwisbaar gevestig as ’n betroubare troefkaart in mielie-onkruidbeheer.

Yamato het herhaaldelik sy uitsonderlike doeltreffendheid bewys in al die belangrikste mielieproduserende streke van die land. Produsente vertrou hierdie produk nie net vir konsekwente beheer nie, maar ook vir buigsaamheid – iets wat al hoe belangriker raak namate onkruidsamestellings en weerstoestande toenemend veranderlik raak.

Doeltreffende beheer waar dit saak maak
Taai, vinnig groeiende onkruide kompeteer direk met jong mielieplante vir water, voedingstowwe en lig. Sonder effektiewe vroeë beheer kan opbrengsverliese reeds in die eerste paar weke van die seisoen begin opstapel. Yamato takel hierdie probleem direk deur onkruide reeds vroeg in hul ontkiemingsfase te inhibeer, wat lei tot langwerkende, betroubare residuele beheer.

’n Groot voordeel van Yamato is dat dit voor én na opkoms in mielies toegedien kan word. Hierdie aanpasbaarheid stel produsente in staat om hul onkruidbeheerprogram presies aan te pas volgens hul eie bestuurspraktyke, grondtipes en onkruiddruk.

’n Groot leemte word gevul: beheer van uintjies ná opkoms
Een van die grootste kopseeronkruide in mielielande bly steeds uintjies. Tradisionele programme bied dikwels onvoldoende beheer, veral ná opkoms. Dit is juis hier waar Yamato ’n werklike verskil maak en ’n groot leemte in die mark vul.

Plaaslike navorsingsproewe deur Philagro toon dat Yamato, in kombinasie met Roundup Powermax, met groot sukses op klein, aktief groeiende uintjies toegedien kan word. Hierdie tenkmengsel bied mielieprodusente ’n nuwe en uiters waardevolle bestuurstrategie waar effektiewe ná-opkomsbeheer van uintjies voorheen beperk was. Vir produsente wat sukkel met herhalende uintjieprobleme, beteken dit beter netto beheer en groter gemoedsrus.

Skoon onkruidvrye lande dra by tot gesonde gewasse.

Unieke chemie met wêreldklasagtergrond
Yamato se aktiewe bestanddeel, piroksasulfoon, is deur Kumiai Chemical Industry in Japan ontwikkel en word reeds wêreldwyd suksesvol in verskeie gewasse en toestande gebruik. Die produk se werking berus daarop dat dit hoofsaaklik deur die koleoptiel van grasse sowel as deur die hipokotiel en wortels van breëblaaronkruidsaailinge opgeneem word.

Danksy AXEEV Technology bied Yamato uitstekende stabiliteit in die grond. Die produk se lae wateroplosbaarheid beteken minder loging en ’n langer teenwoordigheid in die boonste grondlaag – presies waar klein saadonkruide ontkiem. Studies¹ het ook getoon dat piroksasulfoon ’n langer halfleeftyd as sekere standaardprodukte het, wat bydra tot ’n verlengde residuele effek.

Minder aktiewe bestanddeel, groter waarde
Nog ’n belangrike voordeel van Yamato is dat dit 10 tot 20 keer minder aktiewe bestanddeel gebruik as baie vergelykbare produkte. Een liter geformuleerde produk kan tot bykans 10 ha behandel. Dit bring nie net kostevoordele mee nie, maar ook logistieke voordele soos minder stoorruimte en laer vervoerkoste.

Bewese gewasveiligheid en veelsydige programme
Uitgebreide plaaslike en internasionale proewe bevestig Yamato se uitstekende gewasveiligheid wanneer dit volgens etiketvoorskrifte gebruik word. Philagro se navorsers beveel tans 14 verskillende produkprogramme aan waarin Yamato as die ankerproduk dien. Hierdie kombinasies, wat onder meer mesotrioon, atrasien/terbutielasien en glifosaat insluit, is spesifiek ontwikkel vir verskillende klimaatstreke en onkruidsamestellings.

’n Betroubare vennoot vir mielieprodusente
Yamato 480 SC is tans beskikbaar in die noordelike mielieproduserende streke en kan by onder andere AECI Plant Health, Farmers Agricare, InteliGro, AgroCentre en Agronamic aangekoop word.

Vir produsente wat op soek is na betroubare, langwerkende onkruidbeheer – én ’n bewese oplossing vir die uitdagende beheer van uintjies ná opkoms in kombinasie met Roundup Powermax – bly Yamato ’n logiese keuse.

Vir meer inligting besoek www.philagro.co.za of kontak Bennie Buys by 082 809 5447.

Yamato® 480 SC (Reg. nr. L10746, Wet Nr. 36 van 1947) bevat piroksasulfoon, (pirasool) (480g/L) Waarskuwing. Yamato® is die geregistreerde handelsmerk van Kumiai Chemical Industry Co Ltd, Japan. LEES DIE ETIKET VOOR GEBRUIK.| WAARSKUWING | Mag skade aan organe veroorsaak deur langdurige of herhaalde blootstelling. Baie giftig vir waterlewende organismes met langdurige gevolge

  1. Westra, EP, Shaner, DL, Westra, PH & Chapman, PL*. 2014. Dissipation and Leaching of Pyroxasulfone and S-Metolachlor, Weed Technology, 28(1), 72 – 81.