’n Ongereguleerde dieselprys met gereguleerde heffings

Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste, Graan SA
Gepubliseer: 9 Junie 2026

45

Die dieselprys in Suid-Afrika word in beginsel nie gereguleer nie. Anders as petrol, wat onder ’n streng gereguleerde kleinhandelsprys val, kan diesel deur verskillende rolspelers teen verskillende pryse verkoop word. Tog beteken dit nie dat die dieselprys sonder beleidsingryping of vaste ramings tot stand kom nie. Inteendeel, ’n beduidende deel van die prys – veral heffings en belastings – word ge­reguleer. Een van die mees omstrede van hierdie heffings is die sogenaamde balansheffing (slate levy).

Hoe word die basiese brandstofprys bepaal?
Die vertrekpunt vir enige bespreking oor die balansheffing is die manier waarop Suid-Afrika se basiese brandstofprys (BBP) bereken word. Plaaslike brandstofpryse word nie direk vasge­stel op grond van plaaslike produksiekoste nie, maar op grond van wat dit teoreties sou kos om geraffineerde brandstof in te voer. Met ander woorde, Suid-Afrikaanse verbrui­kers betaal ’n prys wat geskoei is op invoerpariteit. Deesdae word die meeste van Suid-Afrika se behoefte aan brandstof ingevoer as ’n finale produk.

’n Belangrike aspek van hierdie stelsel wat dikwels misverstaan word, is dat elke maand se plaaslike brandstofpryse gekoppel word aan die vorige maand se gemiddelde internasionale pryse en wisselkoerse. Die prys word dus vooruit vasgestel vir ’n volle maand en nie daagliks aangepas soos internasionale pryse wissel nie. Dit skep onvermydelik tydelike wanbalanse tussen wat brandstofmaatskappye werklik betaal het en wat hulle ingevolge die gemiddelde prys verhaal.

Hoekom bestaan die balansheffing?
Die balansheffing verskil fundamenteel van ander heffings op brandstof. Die sleutelverskil is dat die inkomste uit hierdie heffing nie na die fiskus gaan nie, maar gebruik word om brandstofmaatskappye te vergoed vir onderverhaling wat ontstaan as gevolg van die BBP-meganisme.

Indien ’n maatskappy hoofsaaklik gedurende die maand teen hoër pryse aankope gedoen het, kan dit gebeur dat hy oorverhaal. Daardie oorskot word dan ook in die balansheffing verreken. Die heffing funksioneer dus as ’n balans tussen tydelike oor- en onderverhaling.

Die selfaanpassende balansheffingmeganisme
Om hierdie balansrekening te bestuur, is die selfaanpassende balansheffingmeganisme op 7 Januarie 2009 geïmplementeer. Verdere aanpassings aan die drempels en reekse is met ingang van 7 September 2022 gemaak. Ingevolge hierdie meganisme word ’n balansheffing slegs gehef wanneer die kumulatiewe balans met meer as R500 miljoen in ’n negatiewe posisie beweeg. Die doel is uitdruklik om, soos dit dikwels gestel word, “die lei skoon te vee”.

Waar begin die probleem?
In teorie is die toepassing van die balansheffing logies en verdedigbaar. In die praktyk ontstaan daar egter ernstige vrae oor die implementering daarvan – veral in tye van skerp en vinnige prysstygings.

Soos uit onlangse gebeure blyk, het talle grootmaatdieselverskaffers reeds gedurende Maart en April hul pryse verhoog, lank voordat ’n amptelike prysaankondiging of ’n balans­heffing vir daardie tydperk ingestel is. Tog word daar nou ’n balansheffing gehef om ’n negatiewe balanssaldo wat in Maart ontstaan het, uit te wis.

Hier ontstaan die kernvraag: Indien invoerders en groot­handelaars hul pryse reeds onmiddellik verhoog het om die hoër internasionale koste te weerspieël, bestaan daar dan werklik nog ’n onderverhaling wat deur ’n balansheffing vergoed moet word?

Is daar sprake van dubbele herstel?
Vanuit ’n bedryfs- en verbruikersperspektief skep hierdie situasie die indruk van dubbele verhaling:

  1. Eerstens verhoog maatskappye hul pryse vinnig en direk, (spotprys), wat beteken dat die koste reeds aan verbruikers deurgegee word.
  2. Tweedens word ’n balansheffing gehef om daardie selfde tydperk se “onderverha-
    ling” reg te stel.

Indien albei meganismes gelyktydig geld, word verbruikers effektief twee keer belas vir dieselfde prysbeweging. Dit is juis hierdie moontlikheid wat organisasies soos Graan SA noop om vrae aan die Departement van Minerale en Petroleumbronne en die Sentrale Energiefonds te rig.

Werk die stelsel?
Dit het nog uiters selde gebeur dat onmiddellike prysstygings deur dieselverskaffers deurgegee word. Die huidige konflik in die Midde-Ooste is daarom ’n unieke geval waar pryse te vinnig te veel gestyg het. Moet die huidige stelsel vir hierdie unieke geval herevalueer word?

Die balansheffing is ontwerp as ’n tegniese regstellingsmeganisme vir duurder invoere voordat ’n prysverandering aangekondig kan word. Wanneer die praktyk egter begin afwyk van die onderliggende beginsel van egalisering, ondermyn dit vertroue in die prysmeganisme self.

Die fundamentele vraag is dus: Werk die balansheffingmeganisme steeds soos oorspronklik bedoel, of het markgedrag en prysdinamika dit in iets anders laat ontaard?

Reguleerders behoort seker te maak dat groothandelaars nie pryse voor gereguleerde prysaanpassings verander nie, juis omdat die balansheffing bedoel is om onderverha-
ling in daardie verband reg te stel.