Wat produsente moet weet oor die nuwe Wet op Planttelersregte

Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste, Graan SA
Gepubliseer: 9 Junie 2026

40

Die hersiene Wet op Planttelersregte, wat in Junie 2025 gepubliseer is, bring belangrike veranderinge mee vir Suid-Afrikaanse produsente. Een van die mees betekenisvolle wysigings het betrekking op Farmers’ Privilege, veral met verwysing na terughousaad.

Hierdie artikel lig die twee belangrikste veranderinge rakende Farmers’ Privilege uit en verduidelik ook die belangrike onderskeid tussen wettig teruggehoude saad en die onwettige praktyk bekend as brown bagging.

Farmers’ Privilege ingevolge die nuwe wet
Die 2025-regulasies bevestig dat kommersiële produsente wat saad wettig aangekoop het, steeds die reg het om opbrengste uit daardie saad vir eie gebruik en voortplanting terug te hou, mits daar aan vier duidelike vereistes voldoen word:

1. Die teruggehoude kultivar moes oorspronklik wettig bekom gewees het
Die produsent moet kan bewys dat hy die graan wat hy terughou vir saad wettig aangekoop het.

2. Kennisgewing aan die plantte­lersreg-houer
Die produsent moet die betrokke planttelersreghouer in kennis stel dat saad terug-
gehou word, insluitend die volumes wat vir eie gebruik bestem is.

3. Betaling van redelike vergoeding
Die wet vereis dat die produsent die planttelersreghouer redelik vergoed vir die gebruik van die teruggehoude voortplantingsmateriaal.

4. Behoud van die teruggehoude kultivar se identiteit
Die identiteit van die teruggehoude saad mag nie veran­der word nie, ten einde die eienaarskap van genetika en tegnologie te beskerm.

Graan SA se standpunt oor redelike vergoeding
Graan SA is van mening dat die teling en-tegnologieheffing (breeding and technology levy) wat deur produsente op sojabone, koring, hawer, gars en lupiene betaal word en deur SACTA (Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap) geadministreer word, reeds aan die vereiste van ’n redelike vergoeding voldoen.

Volgens Graan SA impliseer dit:

  • dat planttelers reeds redelik vergoed word vir die gebruik van wettig teruggehoude saad; en
  • dat geen bykomende heffing of tantieme bo en behalwe die bestaande SACTA-heffing gehef behoort te word op saad wat vir eie gebruik teruggehou word nie.

Verskil tussen wettig teruggehoude saad en brown bagging
’n Belangrike aspek van die nuwe wetlike raamwerk is die noodsaaklike onderskeid tussen wettig teruggehoude saad ingevolge Farmers’ Privilege en brown bagging, wat ’n onwettige praktyk is.

Wettig teruggehoude saad (farm-saved seed)
Alhoewel die praktyk nie aanbeveel word nie, is dit wettig vir ’n produsent om saad uit sy eie oes terug te hou vir persoonlike gebruik, mits dit binne die bepalings van die Farmers’ Privilege-klousule geskied soos vervat in die Wet op Planttelersregte.

Met die teling en-tegnologieheffing wat deur SACTA gehef en geadministreer word, word dit tans verstaan dat plantte­lers reeds redelik vergoed word vir wettig terugge-
houde saad. Waar ’n produsent dus ’n variëteit wettig verkry het, mag daardie produsent saad uit die geoesde gewas terughou vir eie gebruik en voortplanting.

Skoonmaak en kondisionering van wettig teruggehoude saad
Graan SA se standpunt is dat waar ’n produsent saad uit sy eie oes terughou en bewys kan lewer dat die variëteit wettig verkry is, sodanige saad vir skoonmaak en kondisio-
nering geneem mag word na ’n fasiliteit soos ’n koöperasie mits die volumes verklaar word, en sonder die betaling van ’n addisionele tantieme.

Hierdie benadering is konsekwent met situasies waar produsente saad op hul eie plase skoonmaak en kondisioneer.

Brown bagging
Brown bagging vind plaas wanneer produsente:

  • nie kan bewys dat hulle graan wat hulle self geproduseer het se saad wettig bekom het nie;
  • die graan verkoop of uitruil as saad; of
  • die graan sonder die kennis en/of toestemming van die planttelersreg-houer terughou.

Hierdie praktyk is onwettig en berokken beduidende skade aan die saadbedryf, aangesien dit:

  • die finansiële volhoubaarheid van teelprogramme ondermyn; en
  • belegging in die ontwikkeling van nuwe en verbeterde kultivars ontmoedig.

Waar ’n produsent nie bewys kan lewer dat ’n variëteit wettig verkry is nie, behoort sodanige saad:

  • nie vir skoonmaak of kondisionering by ’n koöperasie aanvaar te word nie; of
  • alternatiewelik onderhewig te wees aan die betaling van ’n bykomende tantieme.

Gevolgtrekking
Die nuwe Wet op Planttelersregte bring groter verantwoordelikhede vir produsente mee. Wettige terughouding van saad vir eie gebruik ingevolge Farmers’ Privilege bly moontlik, mits produsente:

  • deursigtig optree,
  • volumes verklaar, en
  • verseker dat planttelers redelik vergoed word.

Graan SA beklemtoon egter dat wettig teruggehoude saad nie met brown bagging verwar moet word nie. Die een is ’n wettige praktyk binne streng wetlike perke; die ander is onwettig en skadelik vir die hele saadwaardeketting.

’n Gesonde saadbedryf vereis samewerking en wedersydse respek tussen produsente en planttelers – en die korrekte toepassing van die nuwe wet is ’n belangrike stap in dié rigting.