Kompetisiegroentjie loop weg met eerste plek

Gepubliseer: 12 Desember 2025

859

Ernst Jonker van Makwassie boer op die plaas Katdoornkraal naby Wolmaransstad en vanjaar was sy eerste kennismaking met die Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie.

Hy het deelgeneem omdat hy meen dit bied die ideale geleentheid om homself teen ander produsente te meet. Die feit dat hy kan leer wat ander produsente doen, motiveer hom om beter te boer. Hy boer al 26 jaar en is reeds die derde geslag op die plaas. Sy besluit om in te skryf is finaal bevestig tydens strooptyd.

Ernst Jonker van Makwassie is aangewys as die wenner in die sonneblomkategorieë vir graanopbrengs en oliepersentasie.

Jonker verbou graangewasse wat onder meer mielies, sonneblom en sojabone insluit en hy het ’n beeskomponent. Sy wisselboustelsel is gebaseer op 50% breëblaargewasse en 50% mielies, met die beeste wat die oesreste in die winter benut.

Hy is aangewys as die wenner in die sonneblomkategorie vir graanopbrengs met 3,33 t/ha met die Agricol AGSUN 5106CLP-baster. Hy het ook die eerste posisie in die olie-opbrengs/ha-afdeling behaal met 41,3% olie (1,38 ton olie-opbrengs/ha) met dieselfde sonneblombaster.

Dit was die sewende jaar wat hy dié produk geplant het. In totaal plant hy 805 ha sonneblom waarvan 150 ha met AGSUN 5106CLP geplant is. Hy hou daarvan om ’n pakket van produkte te plant omdat hy só sy risiko in ’n mate kan verskans. Wanneer hy moet besluit wat deel gaan uitmaak van die pakket wat hy plant, kyk hy veral na opbrengs en siekteverdraagsaamheid.

Om inligting oor nuwe kultivars in te win kyk hy na die resultate van nasionale proewe, maar plant ook sy eie om te bepaal hoe die produkte op sy plaas sal aanpas.

Die gedeelte wat hy ingeskryf het vir die kompetisie het geen spesiale behandeling ontvang nie. Al die lande word geplant in rywydtes van 76 cm.

Gemiddelde reënval op die plaas vir die 2024/2025-seisoen was ongeveer 640 mm. Hy moes egter sy planttyd ’n bietjie aanpas omdat die reën skaars was aan die begin van die seisoen. Die Clearfield-sonneblom is eers in die eerste week van die nuwe jaar met ’n Equalizer Wide Span geplant teen ’n plantpopulasie van 55 000 plante/ha. Hy het op 15 Mei gestroop met ’n Claas Trion.

Hy volg die CLEARFIELD® Plus-produksiesisteem van BASF vir onkruidbeheer in die sonneblom.

Hy volg die CLEARFIELD® Plus-produksiesisteem van BASF vir die beheer van breëblaar- en grasonkruide in baie van sy sonneblomlande.
Jonker plant 850 ha sonneblom. Hy hou daarvan om ’n pakket van sonneblombasters te plant omdat hy só sy produksierisiko’s in ’n mate kan verskans.
Wanneer hy moet besluit watter sonneblombasters om te kies as deel van sy pakket vir die komende seisoen, kyk hy veral na opbrengs en siekteverdraagsaamheid.

Wat plaagbeheer betref, plant hy met Ortofos vir aalwurmbeheer en hy het twee keer Aroxy-toedienings gedoen vir swambeheer. Direk na plant het hy LAMBDA 50EC van Villa Crop Protection toegedien vir sny- en bolwurmbeheer.

Jonker sê hy het ’n mengsel van 35N:12P:OK kunsmis toegedien en dit aangevul met Express MOB van die MBFi Groep, ’n oplosbare vloeibare kunsmis wat stikstof, boor, molibdeen en sink bevat, asook Super K.

Hy het ’n kombinasie van grondtipes op die plaas wat Hutton-, Bainsvlei- en Avalon-grondtipes insluit. Die land waarop die wensonneblom geplant was, bestaan hoofsaaklik uit Avalon-grond.

Sedert hy begin boer het, het hy al ’n hele paar aanpassings op die plaas gemaak. “Ek het begin fokus op ’n wisselboustelsel en sojabone begin plant op die lande wat maklik versuip. Dan het ek verder gekyk hoe om soveel as moontlik met ’n implement te kan doen. Implemente is duur en ’n mens moet soveel as moontlik werkverrigting uit ’n implement kry sonder om kwaliteit in te boet.”

Volgens Jonker is Sclerotinia een van die grootste uitdagings wat hy moet oorkom op sonneblom. Hy is deel van ’n studiegroep in sy omgewing en woon ook graag boeredae by. “By boeredae kry ’n mens die ideale geleentheid om proewe deur te stap en inligting bymekaar te maak.”

Ernst Jonker het gewen met ’n opbrengs van 3,33 t/ha met die Agricol AGSUN 5106CLP-baster. Hy het ook die eerste posisie in die olie-opbrengs/ha-afdeling behaal met 41,3% olie (1,38 ton olie-opbrengs/ha) met dieselfde sonneblombaster.

Hy sê verder dat hy regtig baie by sy pa en oupa geleer het en dat hy altyd dankbaar daarvoor sal wees.

Sy raad aan jong produsente is om altyd insetkoste dop te hou en dit te beheer. Hy glo ook daaraan om alles so presies as moontlik te doen. “Presisie in alles wat jy doen help om insetkoste af te bring, maar ook om vermorsing te bekamp.”

Tog beklemtoon hy dat dit belangrik is om aanpasbaar te wees. “Wees verder dankbaar vir die geleentheid om te kan boer en maak seker dat jy elke dag jou hand oor jou boerdery hou.”