Eerste inskrywing bring rekordoes

Gepubliseer: 12 Desember 2025

1079

Dit is nie almal wat met ’n eerste probeerslag goud inpalm nie. Maar dit is presies wat Emje Ferreira van die plaas Witfontein van Witwildt Boerdery in die Bronkhorstspruit-omgewing vanjaar reggekry het.

Ferreira het vanjaar vir die eerste keer aan die Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie in die afdeling vir mielies wat in die sentrale deel van die land verbou word, deelgeneem. Hy het die afdeling gewen met die DEKALB-baster DKC65-72 van Bayer en het ’n opbrengs van 16,02 t/ha behaal. Hierdie opbrengs was sowat 700 kg/ha meer as die vorige rekordoes wat gewen het.

Dit is die tweede jaar dat hy hierdie baster plant. Uit sy totale 230 ha mielies in die 2024/2025-plantseisoen, het hy 60 ha van DKC65-72 geplant, met die res DKC73-72 en DKC74-26. Die gedeelte wat met die wenkultivar geplant is, is dieselfde hanteer as al die ander mielies.

Ferreira boer op sy eie en is al twaalf jaar op die plaas. Wanneer hy ’n mieliebaster moet kies, kyk hy na die groeiseisoenlengte; hy verkies kort groeiers. Hy plant ook sojabone en boer verder met Droughtmaster-beeste en wild. Hy produseer hoofsaaklik voer vir die diere.

Sy wisselbouprogram bestaan uit een helfte van die lande wat met mielies geplant word, en die ander helfte hoofsaaklik met sojabone, alhoewel hy ook ’n klein gedeelte voersorghum plant.

Emje Ferreira ontvang sy toekenning vanaf Danie Minnaar, visevoorsitter van Graan SA.

Volgens hom het die seisoen droog begin. “Dit het eers laat begin reën, maar ons was gelukkig omdat die neerslag vir die res van die seisoen goed was.” Die gemiddelde reënval was 705 mm vir die seisoen. Hy was in staat om normale tyd, vroeg in Oktober, te plant, maar omdat dit aan die begin van die seisoen droog was, kon hy nie by die swamdodertoediening uitkom nie.

Ferreira pas presisieboerderypraktyke toe. Die grond op die plaas wissel tussen klei- en sandgrond. Die grond is gekarteer en hy laat dit jaarliks ontleed. Daardie inligting gebruik hy om sy variërende kunsmistoedienings per land te bepaal en ook sy variërende plantestand. Deur die regstellings te doen en plantestand te wissel, bestuur hy die grondverskille.

“Ek gee net wat nodig is vir elke land en kyk ook binne in die lande waar die grond varieer om elke gedeelte se behoefte aan te spreek. Hoewel ek nog nie dekgewasse plant nie, is dit iets wat ek tans ondersoek en in die toekoms sal wil doen.”

As bemesting strooi hy 7 ton hoendermis nadat hy sy saadbed voorberei het. Dan dien hy 155 kg N en 250 kg 1:2:4 toe voor die planter.

Die toerusting op implemente help hom ook om presies te wees en om dubbelpitte en misse uit te skakel. Die rywydtes vir al die gewasse is 76 cm.

Sy wenblok se plantestand was 60 000 plante/ha, maar die mielies met ’n mediumgroeiseisoenlengte het hy teen 45 000 plante/ha geplant. Wanneer hy plant neem hy benewens die grondvog ook grondtemperature in ag. “As die grondtemperature nog te laag is, sukkel die plantjies om te ontkiem. Dit is altyd iets wat ’n mens in gedagte moet hou.”

Ferreira doen ’n diep tandbewerking (rip), waarna hy dis om die saadbed voor te berei. In die seisoene wat hy probleme het met opslag, hanteer hy dit ook wanneer hy dis. Die mielies is op 20 Junie gestroop met ’n New Holland CR7.90-stroper.

Wat onkruidbeheer betref, stap hy al ’n lang pad saam met Michael McGregor van Laeveld Agrochem in Delmas. “Die mielies wat ingeskryf is, is ’n konvensionele mielie en ons het ’n program gevolg wat nie glifosaat insluit nie. Ons was ook gelukkig dat die droogte van die vroeë seisoen meegebring het dat die onkruide nie ontkiem het nie.” Wat plaagbeheer betref, het die herfskommandowurm in die 2024/2025-seisoen probleme in sojabone veroorsaak.

Ferreira glo daaraan om proewe te doen en die Witwildt-boeredag word jaarliks op sy plaas gehou waar onder meer balerdemonstrasies gehou word.

“Vir die jong manne wil ek net sê, jou grootste bate is jou grond. Sorg daarvoor. Doen jou regstellings en probeer so veel as moontlik organiese materiaal in die grond terugsit,” sluit hy af.