NAMPO ALFA span die kroon oor die veebedryf en buitelewe

Rentia Mynhardt, SA Graan/Grain-redakteur
Gepubliseer: 12 Desember 2025

507

Meer as 8 000 besoekers, die meeste nóg, het van 16 tot 18 Oktober deur die hekke van NAMPO Park beweeg om die jaarlikse NAMPO ALFA by te woon. Uitstallings, kompetisies en van Suid-Afrika se voorste veekundige, jag- en buitelewebedrywe het vir ’n een-in-sy-soort-ervaring gesorg. Die ekspo skep ’n ruimte waar produsente, landbou-ondernemings, gesinne en buitelewe-entoesiaste kan saamkom, meeding en leer.

Behalwe vir tegnologievertonings, jeugdeelname en buitelewe-ervarings, is daar ook drie nasionale kampioenskappe aangebied: die Old Mutual Nasionale Interras-beeskampioenskappe, die Nasionale Lamkampioenskappe, en die Laeveld Agrochem Nasionale Veevaardigheidskompetisie.

NAMPO ALFA bied ’n geleentheid aan leerders om hul eie vaardighede met dié van hul eweknieë te vergelyk.

’n Hoogtepunt was Hennie Jonker van Kromdraai naby Kroonstad wat as Suid-Afrika se Lamb Champs-kampioen gekroon is met sy Hampshire Down-inskrywing. Dit het hom R50 000 in die sak laat steek. Die kompetisie het meer as 260 laminskrywings gelok tydens vier streekskwalifiseerders in Kimberley, Pretoria, Parys en die Paarl.

In die Old Mutual Interras-beeskampioenskappe is Poerie van Rooyen se Lakat Simmentalerbul as kampioenbul (alle rasse) aangewys, en Hans en Lize-Mari Terblanche se De Blanque Brahmankoei as vroulike kampioendier. Die Jong Interras-kampioenbul was ’n Sussex van Hoërskool Salomon Senekal, en die Voermol Mega-Ox-kompetisie is deur Phillip Snyman se 1 625 kg-os gewen.

Om ’n skaaphond in aksie te sien bly ’n vertoning wat toeskouers jaarliks geniet.

Die Laeveld Agrochem Nasionale Veevaardigheidskompetisie het meer as 300 deelnemers van 16 skole gelok, maar dit was uiteindelik die Vrystaat wat met die louere weggestap het. Hierdie kompetisie toets leerders se praktiese vaardighede asook dierehantering. Danique du Plooy van Hoërskool Salomon Senekal is as Jong Beeskampioen aangewys. Die jeugafdeling het groot aandag getrek – ook in die AgriSkills-kompetisie – en dit was verblydend om te sien hoe ons land se jongmense nie skrik vir ’n sweismasjien, graaf of beesmis nie!

Landbouweekblad se Vee-Akademie het ’n platform gebied wat op oplossings vir die veebedryf fokus met paneelbesprekings oor onderwerpe soos dieregesondheid, naspeurbaarheid en markgroei. Produksiestelsels, diereprestasie en raad om familieplase te laat floreer, het onder die loep gekom. Samewerking binne die rooivleis- en graanwaardekettings was ook ’n onderwerp wat groot belangstelling gelok het, met die “Spekgesprek”, aangebied deur Agrististic, wat die Suid-Afrikaanse varkbedryf in die kollig geplaas het.

Die AgTech@NWK-uitstalling het die groei van bespuiting deur hommeltuie uitgelig. Nog tegnologie-uitstallers het gevorderde dierebestuurstelsels, landboumeganisasie en buitelewetoerusting gedemonstreer, in lyn met die ekspo se doel om landbou en avontuur saam te bring.

Graan SA-navorsingsprojekte, gefinansier deur die Mielietrust, het inisiatiewe vertoon wat fokus op grondgesondheid, wisselbou, dekgewasse en vee-integrasie, met die doel om graanprodusente se winsgewendheid en volhoubaarheid te verbeter.

Lewendige musiek, gesinsvermaak en die gewilde Oktoberfees het gesorg vir ’n ligte atmosfeer te midde van huidige uitdagings soos bek-en-klouseer. Die ekspo groei jaarliks as ’n platform waar die hele waardeketting – van graan tot vee, en van jeugopleiding tot buitelewe – op ’n praktiese en inspirerende manier bymekaar kom.

Tydens die AgriSkills-kompetisie het die jonges bewys dat hulle nie bang is om met hulle hande te werk nie.