Dié kleppe en silinders bring einde aan waterprobleme

Hans Carstens, eienaar, Prima Engineering Services
Gepubliseer: 1 Augustus 2025

1357

Prima Engineering Services bestaan reeds vanaf 1995 en vervaardig vlotterkleppe (ball valves) asook drie reekse boorgatsilinders van uitmuntende kwaliteit.

Vlotterkleppe
Die Maxifloat word van vlekvrye staal vervaardig. Die bal word vervaardig van dieselfde materiaal as dié van watertenks, het ’n UV8-telling en kan ’n impak van 120 kg weerstaan. Die klep is ontwerp om maksimum vloei te verseker; dus is die in- en uitlaat in alle gevalle dieselfde grootte. Die groot gat veroorsaak dat dit nie maklik verstop nie. ’n Stop is op die hefboom aangebring om te verhoed dat die bal, in ’n tenk gemonteer, deurswaai en teen die tenk se wand druk. Die watervlak is verstelbaar. Die laedrukvlotterkleppe (2 bar) is in vier groottes beskikbaar, naamlik: 20 mm, 25 mm, 32 mm asook 40 mm. Die kleppe kan ook op aanvraag in 3 bar verskaf word. Die volgende is ook beskikbaar: twee hoëdrukmodelle (8 bar) in 20 mm asook 32 mm. Alle materiaal, dit sluit die diafragma in, kan hoë temperature asook lae temperature (onder vriespunt) weerstaan. Alle materiaal op die vlotterklep is geskik vir voedselgebruik.

Getuigskrif van Anko Bonsmaras: “Uitstekende produk; ek het al my oues vervang en gebruik net hierdie en dit werk baie goed. Géén meer waterprobleme.”

Boorgatsilinders
Prima Engineering Services se reeks boorgatsilinders word almal van vlekvrye staal en ingenieursnylon vervaardig. Die Supermax is spesifiek ontwerp om van die forskop/forssilinder ontslae te raak. Die water word deur ’n plastiese pyp uitgepomp; die staalpype staan droog en dien slegs as anker vir die silinder. Die ontwerp van die silinder verskil beduidend van die konvensionele silinder: Die voetklep sit nie onder in die silinder nie, maar aan die bokant. Die suiers tang steek onder uit en bo-op die silinder skroef die glyreël in. Dit bestaan uit twee plat stawe wat aan die voetklep vasgesweis is. Tussen die twee plat stawe gly ’n balkie op en af; gekoppel aan die windpompstang. Aan die balkie word ’n hoekplaat aan elke kant gekoppel asook aan die onderste een wat gekoppel is aan die suierstang. So word die beweging oorgedra. Hierdie silinder kan ook met ’n T-koppeling voorsien word om sodoende ’n dompelpompkoppeling te kan gebruik. Die silinder word vervaardig in vier groottes: 2” (51 mm), 2½” (63 mm), 3” (76 mm) asook 3½” (85 mm).

Die konvensionele silinder (OD-reeks) is die tipies bekende boorgatsilinder. Uitstaande kenmerke van dié silinder is die beproefde seël wat gebruik word. Op alle dieptes word slegs een seël gebruik. Nóg ’n voordeel is dat die voetklep se enigste bewegende deel ’n bal is. ’n Brugstuk bo-oor die bal beskerm die klep indien die stange sou val. Vuiligheid beïnvloed nie die funksionering van die klep nie. Die voetklep het ook skroefdraad aan die onderkant vir ’n siffie om vullis uit te hou. Die silinder word vervaardig in vyf groottes: 2” (51 mm), 2½” (63 mm), 3” (76 mm), 3½” (85 mm) asook 5” (125 mm).

Prima Engineering Services se oppervlaksilinder (SP-reeks) staan bo-op die grond onder die stang van die windpomp en word gebruik om water hoër en verder te pomp. Dit kan water uit ’n tenk suig óf uit ’n rivier óf fontein. Die inlaat- en uitlaatkoppeling is van vlekvrye staal net soos dié van die res van hul silinders en is aangesweis om sodoende moontlike lekkasies te verhoed. Die plastiese pyp (LDPE) word slegs oor die laste gedruk en gesluit met ’n swaardiens-vlekvryestaalklamp.. Die silinder word voorsien met óf ’n horisontale óf ’n vertikale inlaat. Saam met die silinder word ’n standaard-basisplaat, twee swaardiens-vlekvryestaalklamp, asook ’n eenrigting-voetklep voorsien. Die silinder word in drie groottes vervaardig: 2½” (63 mm), 3” (76 mm) asook 3½” (85 mm).

Besoek ons by NAMPO Kaap (10 tot 13 September, BKB-saal; Stalletjie 116).