Boerdery gaan oor MEER AS NET BOER

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 2 Oktober 2024

236
Die wenner in die My Hero-reeks vir September is Stephan de Villiers, hier saam met sy gesin.

Stephan de Villiers (42) is ’n derdegenerasieprodusent van die Overberg-streek. Hy bedryf ’n gemengde boer­dery op Droëkloof, tussen Caledon en Bredasdorp in die Wes-Kaap. Hier verbou hy koring, gars, kanola en hawer en boer ook met Döhne-merino’s en ’n paar Rooi Angus-beeste.

Nadat hy sy studies aan die Saasveld Landboukollege in George voltooi het, het hy in 2007 permanent op die plaas by die boerdery aangesluit. Stephan is passievol oor landbou en wou van kleins af nog altyd net op die plaas wees en boer.

Om hard te werk en intensief betrokke te wees is deel van sy “boerderymetodes” en daarom poog hy om sy werkers te inspireer om ook hard te werk. Hy probeer hulle verder leer oor wat boerdery alles behels.

As dit by gewasproduksie kom, glo hy dat produsente op hoogte moet bly van die nuutste kultivars, boerderypraktyke en tegnologie. Vir hom is ’n goeie wisselboustelsel en ’n gediversifiseerde inkomstestroom van kardinale belang. Hy maak van presisieboerderymetodes gebruik en glo in bewaringsboerdery vir toekomstige generasies.

Landbou is vol uitdagings en Stephan probeer dit te bowe kom deur tred te hou met tegnologie en dinge in plek te stel om te verseker dat die boerdery volhoubaar bly. Met elektrisiteitsrekeninge wat die hoogte inskiet, was ’n sonkragstelsel aanvanklik ’n duur uitgawe, maar op lang termyn iets wat verseker dat Droëkloof volhoubaar kan bly produseer.

Stephan en sy vrou, Lorraine, het twee kinders, Lika (11) en Lohan (9). “Lohan volg reeds in sy pa se voetspore en is net so lief vir die plaas as wat Stephan as kind was,” vertel Ester de Villiers, Stephan se ma, van haar kleinseun wat die vierdegenera­sie­produsent op Droëkloof gaan wees.

Stephan se ma, Ester de Villiers, het hom genomineer as held in die My Hero-reeks.

Ester, wat Stephan vir September se My Hero-kompetisie genomineer het, is bekend vir die “Hekkie-projek” wat sy tydens die Covid-pandemie op Hermanus van stapel gestuur het. Kruideniersware is by gesinne in nood se “hekkies” afgelaai en toe die inperking opgehef is, het die projek bly voortbestaan om mense in nood te ondersteun.

Stephan en Lorraine se harte is ook geraak deur mense se nood weens die vernietigende droogte in die Karoo. Hulle het as gesin ’n vrag vol “bokse vir boergesinne” asook gars vir dierevoe­ding na Sutherland se gemeenskap vervoer. Hulle het later ook vir die plaaswerkers en ouetehuis op die dorp pakkies afgelewer.

Stephan se mentors is sy pa en oupa. “Hulle het my gewys dat harde werk, selfdissipline, ’n liefde vir landbou en ’n verhouding met God jou fondament vorm in boerdery,” sê hy. Vir Ester is haar seun nie net ’n hardwerkende produsent nie, maar ook ’n planmaker – iemand wat omgee vir mens en dier en die voortbestaan van landbou.