Agricol-saadplotte spog met vele topgehalteprodukte

Jurgen van Onselen, Kolbe Media
Gepubliseer: 2 Julie 2024

548

Agricol se saadplotte aan die suidekant van NAMPO Park het oudergewoonte hul topverkoper-saadprodukte – ontwerp om opbrengste te verhoog – tydens vanjaar se NAMPO Oesdag ten toon gestel.

’n Verskeidenheid produkte kon besigtig word, insluitend eenjarige en meerjarige somer- en wintergrasse, peulgewasse, dekgewasse en ’n diverse reeks akkerbougewasse soos sonneblom, sojabone, mielies en koring. Agricol se gewaskundiges het deur die loop van NAMPO 2024 gereed gestaan om besoekers by die saadpersele te verwelkom en toe te lig.

Ben Hattingh (Bothaville) en Herbert Hattingh (Kakamas) by DM 59i60 RSF IPRO. Hierdie mediumgroeiseisoen-sojaboonkultivar spog met die nuutste Intacta RR2 Pro®-tegnologie. Die kultivar presteer goed by droëlandaanplantings van 300 000 plante/ha en is aangepas op wyer rye van 76 cm en 91 cm.
Dawie du Plessis (verkoopbestuurder, Sentraal-Vrystaat: Agricol), Nico en Stephanie Puren van Fochville saam met Toebie Neethling (Lichtenburg) staan hier by Hunnigreen, een van Agricol se soetsorghumbasters. Hunnigreen se waarde lê in sy meerdoeligheid en dit het geen gelyke ten opsigte van volume wanneer dit vir kuilvoer gesny word nie. Dit kan ook dien as ’n uitste­kende bron van staande hooi vir die winter en word vir groen beweiding aanbeveel.
Morné Venter (verkoopbestuurder, Noord-Kaap: Agricol) saam met Gert en Gert Rossouw Jnr van Potchefstroom. Gert hanteer al vir 28 jaar Agricol se saadvervoer – van produksie tot verpakking. Agter hulle is AGSUN 5109CLP, ’n hoë opbrengspotensiaal sonneblombaster wat spog met uitstekende staanvermoë. AGSUN 5109CLP lewer uitstekende opbrengste by alle opbrengspotensiale en is bekend vir sy aanpasbaarheid regoor die sonneblomstreek.
Willie Liversage (Tomburke), Johan van Vuuren (Swartwater), Petrie Gouws­ (Tomburke), Buks van Blerk (Swartwater), Carlo Pelster (landbou­kundige: Agricol) en Andries van den Heever (Tomburke). Agter hulle is ’n saadplot met Dunnart-hawer. Hierdie kultivar is ’n lentetipe (kort groeier) wat gewoonlik weigereed is tussen ses tot agt weke na plant. Dit kan gebruik word vir wei-, kuilvoer- en hooidoeleindes.
Regardt Oosthuizen en Phillip Viljoen van Bloemfontein saam met Carmen Vermaak (administratiewe hoof, Noordwes: Agricol). Regardt en Phillip plant lusern asook dekgewasse van Agricol. Op die foto agter hulle is ’n AGSUN 5108CLP-saadplot met Clearfield®Plus-tegnologie.
Dandré van Niekerk (landboukundige: Agricol) saam met Charl, Alwyn en Chris Kleinhans van Cullinan wat HoneyMax- en Hunnigreen-kuilvoerbasters aanplant. Agter hulle is Agricol se VP 8405R-witmieliebaster wat ’n opbrengs van 8,01 t/ha behaal het in die nasionale kultivarproewe vir 2022/2023 in die westelike area.