Wortel- en saailingsiekte bly ’n tameletjie

Philip Fourie, landboukundige, Pioneer
Gepubliseer: 6 September 2022

1703

Dit is algemeen bekend dat aanhoudende verbouing van dieselfde gewas op dieselfde grond lei tot “moeë” of “siek” grond, met gevolglike verlaging in opbrengste oor tyd. Dit gebeur egter nie tot dieselfde mate vir alle gewasse nie – en die oorsake is nie altyd dieselfde nie.

In die somersaaigebiede het die produsent nie veel alter­natiewe tot sy beskikking nie, maar wisselbou tussen mielies, sojabone en sonneblom word meestal toegepas. Somtyds word grondboontjies, droëbone en selfs katoen ook as alternatiewe gewasse gebruik.

Saailingverwelksiekte of gewaswortelvrotte is seker van die mees onderskatte siektes in die somersaaigebiede van Suid-Afrika – deels omdat baie van die simptome onder die grondoppervlak plaasvind en wanneer dit bogronds opgemerk word, is dit reeds te laat. Wortelvrotte en saailingverwelk word deur ’n verskeidenheid van swamme veroorsaak en kan selde aan een enkele oorsaak toegeskryf word – daarom dat dit bekendstaan as ’n wortelsiektekompleks.

In somerrygewasse word swak stand gewoonlik toegeskryf aan omgewingstoestande of swak saadkwaliteit. Die simptome en omgewingstoestande wat geheers het tydens saailingontwikkeling moet egter nie vergeet word nie – onthou daar is iets soos grondswamme. Min navorsing word hieroor gedoen en min word verstaan, deels as gevolg van die komplekse, geïntegreerde grond- en wortelsiektekompleks. Soos genoem is saailingverwelksimptome nie noodwendig die finale stadium van wortelsiektes nie – inteendeel, dit kan die primêre infeksiebron wees wat later as kroon- en stam­vrotte geïdentifiseer word.

Wortelvrot, kroonvrot en saailingverwelk (damping off)
Saailingverwelk is die term wat gebruik word om verrotting van jong saailinge direk op of net bo-op die grondoppervlak te beskryf. In die meeste gevalle gaan dit gepaard met verrotte, sagte, slyme­rige stammetjies en die klein saailinge wat bo die grondoppervlak wegkwyn en verdwyn. Dieselfde swamme wat saailingverwelk, stamskade en -letsels veroorsaak, is gewoonlik ook die wat wortel­vrotte veroorsaak.

Die algemeenste wortelswamsiektes of saailingverwelksiektes is Pythium-saailingverwelk, Rhizoctonia-wortelvrot en Fusarium-wortelvrot.

Pythium
Dié swam val baie jong saailinge aan – die stam word aangeval waarna dit opwaarts beweeg tot sover as die saadlobbetjies. Dit is ’n parasitiese swam en kan baie verskillende gewasse aanval. In die teenwoordigheid van vog versprei Pythium vinnig deur verskillende vorme van grond.

Phytophthora
Soos Pythium, val dié swam jong saailinge aan, gewoonlik saam in ’n kompleks. Phytophthora is egter baie meer aktief en aggressief en basies enige gewas word aangeval.

Fusarium
Hierdie swam word geassosieer met ’n ligte tot donker pienk verkleuring van die binneste lae van die verrotte materiaal, veral die wortels. Fusarium is gewoonlik sekondêr tot ander parasitiese swamme. Dit is ’n swakker tipe parasitiese swam wat gewoonlik ander swamme opvolg of materiaal aanval wat reeds verswak is deur ander swamme.

Rhizoctonia
Hier is daar duidelike verrotting van die stam net bo die grondoppervlak – die letsels is eers grys en wateragtig, dan droog dit vinnig uit, verbruin en word versonke.

Ander grondgedraagte swamme sluit in Exserohilum, Aspergillus, Penicilium en Trichoderma. Die graad van siekte-infeksie kan verskil tussen grondtipes (ten opsigte van kleipersentasie), grondtemperature, bekalking, grondvrugbaarheidstatus en algehele grondgesondheid. Die verskillende swamme kan van mekaar verskil in hulle voorkeur vir omgewingstoestande (vog en temperatuur) en die gewasgasheer (Van Rensburg, LNR-Graangewasse).

Die tipe siekte verskil ten opsigte van die gasheer en genotipe, omgewingsfaktore en die voorafgaande gewas. Verskillende swamme of patogene verskil in intensiteit om ’n siekte te veroorsaak.

Faktore wat wortelsiektes bepaal
Die intensiteit waarmee wortelsiektes die gasheer affekteer, word bepaal deur plantdiepte, grondstruktuur, saadkwaliteit, meganiese saadhuidskade, insekvoeding, genetiese weerstand en omgewings­toestande.

Opbrengsverliese
Dit is uiters moeilik om opbrengsverlies by die jong, geïnfekteerde saailing te bepaal. Dit is ook moeilik om veldtoestande in die glas­huis te simuleer en om veldsimptome wat onder verskillende omgewings­toestande op lande teenwoordig is, binne onder beheerde toestande te simuleer. Die variasie is net te veel in die siektekompleks – goeie navorsing daaroor is dus uiters ingewikkeld. Gekollekteerde fungi bestaan gewoonlik uit ’n kompleks van veroorsakende en sekondêre patogene. Teen die tyd dat plantweefsel afgebreek word, is meer saprofitiese swamme en bakterieë teenwoordig, en is dit bykans onmoontlik om die primêre siekteveroorsakende swam te identifiseer.

Wanneer opbrengsverliese bepaal word, kan aanvaar word dat saailinge wat nie tot volwasse plante ontwikkel nie lei tot ’n verlies aan stand. Daar is dus minder plante wat ’n bydrae tot die finale oes kan lewer. Indien wortelsiektes tot kroon- en stamvrotte lei, sal die geïnfekteerde plante nie hulle volle genetiese potensiaal bereik nie vanweë swakker ontwikkelde wortelstelsels wat water- en nutriëntopname belemmer. Verswakte stamme lei ook tot omval en stamknakke wat die oesproses be­lemmer.

Pythium by mielies
Simptome

  • Algemeenste siekte, geassosieer met jong saailinge en saailingwortelsiektes.
  • Donker verkleuring en slymerige mesokotiel wat wegkrimp.
  • Buitenste wand van wortel is verrot, terwyl binnekant geen simptome wys nie.
  • Die korteks (buitenste laag) sal afkom as die wortel tussen die vingers getrek word.
  • Kan saadverrotting veroorsaak voor ontkieming, maar infekteer saailinge meestal net na opkoms.

Omgewing

  • Koel, nat gronde, veral laagliggende en swak gedreineerde areas.
  • Deurslaggewende faktor – oormaat vog (water), versuiptoestande ongeag die temperatuur.
Pythium by mielies.

Fusarium by mielies
Simptome

  • Rooibruin letsels op die worteltjies of mesokotiel.
  • Mesokotiel krimp weg.
  • Op ouer plantwortels is die letsels donkerder van kleur en wortels vrot totaal weg.

Omgewing

  • Fusarium kom voor onder ’n wye spektrum van tempe­rature en vogtoestande, maar plante moes stremming ondergaan het (kompaksie, koue, versuiping).
  • Intensiteit van siekte verhoog soos wat stremmingstoestande toegeneem het.
  • Insekvreetskade op die wortels veroorsaak dat die siekte opbeweeg na die kroon en basis van die plant.
  • Laat infeksie veroorsaak stamvrot na bestuiwing en graanvul.
Fusarium by mielies.

Rhizoctonia by mielies
Simptome

  • Aanvanklike simptome sluit in bruin letsels op die wortels en mesokotiel.
  • Versonke letsels en verrotte wortels.
  • Mees herkenbare simptome is rooibruin versonke kankers op die wortels, kroon en veral stutwortels van ouer plante.
  • Plante mag verdwerg wees, maar meestal is geen bogrondse simptome sigbaar nie.

Omgewing

  • Siekte kom meer voor onder besproeiing.
  • Kan wortels infekteer tussen 8⁰C en 28⁰C.
  • Volwasse plante kan omval as gevolg van swak of geen wor­telontwikkeling.
Rhizoctonia by mielies.

Pythium by sojabone
Simptome

  • Pythium val saad aan voor en net na ontkieming.
  • Sade is sag en verrot met gronddeeltjies wat aan die sade vasklou.
  • Saailingverwelk word geassosieer met die hipokotiel wat vernou (wurg) en dan skerp afsterf.
  • Tydens opkoms vrek jong saailinge af voordat die eerste blare gevorm het.
  • Plante trek maklik uit die grond uit omdat al die worteltjies afge­vrot het.

Omgewing

  • Dit verkies temperature laer as 15⁰C, op vroeë aanplantings dalk die eerste siekte wat sojabone sal infekteer.
  • Geenbewerkingslande met baie residu, asook gekompakteerde gronde met vog en koel temperature sal heel moontlik deur Pythium geïnfekteer word.
Pythium by sojabone.

Rhizoctonia by sojabone
Simptome

  • Plante is verdwerg en oor tyd sterf dit bogronds af.
  • Simptome sluit in bruin letsels op die wortels en mesokotiel.
  • Die versonke letsels lyk of die buitekant van die epidermis weg is, wat net die interne gedeelte van die stam of wortel blootstel.

Omgewing

  • Siekte kom meer voor veral op sandgronde en in teenwoordigheid van hoë grondoppervlaktemperature.
  • Kan wortels infekteer tussen 8⁰C en 28⁰C.
  • Volwasse plante kan omval as gevolg van swak of geen wortelontwikkeling.
Rhizoctonia by sojabone.

Fusarium by sojabone
Simptome op saailinge

  • Swak ontkieming en swak groeikragtigheid.
  • Meestal verdwergde plante.

Simptome op wortels

  • Wortels vertoon donker en rooi.
  • Swak nodulasie.

Fusarium-verwelk

  • Boonste blare verdor en val af.
  • Bruin verkleuring van vaatbondels in die stamme.
  • Verrotting van stamme is nie bogronds sigbaar nie.
Fusarium by sojabone.

Beheermaatreëls

  • Gewasrotasie.
  • Genetika – daar bestaan nie totale weerstandbiedendheid nie, maar toleransies verskil.
  • Chemiese en biologiese beheer – saadtoegediende swamdoders, al is dit net vir die eerste paar weke.
  • Bestuur voorkomend, nie korrektief nie.
  • Goed gedreineerde gronde.

Bronne
Verskeie artikels: Dr B Jansen van Rensburg, LNR-Graangewasse, Potchefstroom
Pioneer Hi-Bred: Field Facts, Crop Insights, Crop Focus.

Vir meer inligting gaan na www.pioneer.com of stuur ’n e-pos na info.rsa@pioneer.com