Kan mielieplante soos waterlelies reageer?

Gepubliseer: 23 Februarie 2022

1495
AK Geldenhuys,
produkagronoom, Pannar

Die 2021/2022-seisoen is weer eens ’n groot uitdaging wat reënval betref. Die voorseisoen het gepaard gegaan met goeie neerslae oor veral die Noordwes-Vrystaat met sy watertafelgronde. Die vorige jaar is ook afgesluit met goeie reën in die laaste deel van die seisoen.

Voeg daar by dat die streek die natste Desember in 25 jaar belewe het (ander meen dit is veel langer), dan is versuiptoestande in baie dele onvermydelik. Die vraag bly altyd of die produsent vroeër of later moes geplant het en wat die skade is indien enige.

Die antwoord is nie so eenvoudig nie, want produsente plant wanneer toestande hulle toelaat om te plant en mielieplante reageer definitief nie soos waterlelies nie. Skade is dus onvermydelik.

Grafiek 1 is ’n vergelyking van die gemiddelde reënval vir die Bultfontein-distrik van die natste teen­oor die droogste jare. Die gemiddeld vir Desembermaand oor 25 jaar is 83 mm en die totaal vir Desember 2021 is 235 mm – dus ver bo die gemiddeld. Op sekere plekke in die Wes-Vrystaat is daar meer as 400 mm gedurende Desember 2021 aangeteken! Hierdie situa­sie is tekenend van wat in groot dele van die Vrystaat en Noordwes afgespeel het. Produsente wil weet wat die invloed van versuiptoestande op hulle mielies sal wees. Die mate waartoe die gewas beïnvloed word, hang van verskeie faktore af:

  • Die tyd van die vloedskade met verwysing na die groeistadium van die plant.
  • Hoe lank die plant aan versuiptoestande blootge­stel is.
  • Temperature tydens die versuiptoestande.
Grafiek 1: Vergelyking van gemiddelde reënval van natste teenoor droogste jare.
Grafiek 2: Hitte-eenhede vir twee seisoene op die plaas Kleinhoek, Bultfontein.

Hoe jonger die plante, hoe meer skade sal aangerig word. Indien plante heeltemal onder water is, word die suurstof na 48 uur deur die water verplaas en kan die plant nie noodsaaklike funksies om aan die lewe te bly, vervul nie. Indien die plant wel blare bo die water het en kan fotosinteer, is die kanse op oorlewing veel beter.

Die tydperk wat die plant onder water was, sal bepalend wees vir oorlewing. Indien die versuiptoestande vir nie langer as 48 uur geduur het nie, sal skade aan die plante minimaal wees. Dit is raadsaam om te wag tot die afdroging klaar plaasgevind het (drie tot vyf dae) alvorens skadebepalings gedoen word. Eerstens moet gekyk word na die groeipunt van die betrokke plante – die groeipunt behoort witterig na roomkleurig te wees vir gesonde groei. Indien die groeipunt sag is en bruin verkleur het, is dit ’n aandui­ding dat die plant besig is om af te sterf. Kyk ook vir tekens van enige nuwe groei.

Mielies wat dwergagtig vertoon.

In versuiptoestande het plante ’n beter kans op oorlewing indien temperature koeler is (13°C tot 16°C) as in warmer (> 26°C) grondtoestande. Temperatuur het ook ’n groot invloed op die verliese van toege­diende stikstof (N). Navorsers van die Nebraska-universiteit het bevind dat by gronde wat drie tot vyf dae onder­worpe was aan versuiptoestande tesame met tempe­rature laer as 16°C, was die verliese aan N sowat 10%. Indien temperature egter hoër as 26°C gestyg het, het hierdie verliese tot 75% gestyg.

Oorsake
Soms kom daar bykans onverklaarbare situasies voor wat die produsent met die hande in die hare laat. As voorbeeld: verdwergde, siek plante direk langs gesonde, groei­kragtige plante. Agronome behoort dalk dadelik ’n antwoord ge­reed te hê, maar dit is nie so maklik om die régte antwoord te gee nie. In sodanige gevalle is verdere ondersoek om alle moontlike oorsake te probeer vasstel, die regte pad om te volg.

Daar is heelwat moontlike verklarings, insluitende die volgende:

  • Loging van kunsmis buite die wortelsone – plante toon N-tekortsimptome.
  • Kunsmisplasing – te ver weg geplaas vir primêre wortels.
  • Grondtemperature was laer – kieming het ’n dag of wat later begin met swakker wortelontwikkeling.
  • Saadplasing – kleiner plante se plasing was óf vlakker óf dieper – in die jaar was dalk vlakker met koeler temperature en gevolglike later kieming.

Heel waarskynlik was dit ’n kombinasie van die bogenoemde faktore. Hoe dit ook al sy – die verklarings is nie maklik nie, maar dit is ’n realiteit. Omdat mielies dagneutrale plante is en reageer op hitte en nie dagliglengte nie, het die minder hitte-eenhede tot gevolg dat plante stadiger ontwikkel en die verskillende groeistadiums vertraag word. Afhangend van hoe lank die nat weerpatrone aanhou, kan dit lei tot later fisiologiese rypheid en dus later oesdatums.

Bestuursbesluite
Produsente sal saamstem dat daar nie veel is wat onmiddellik gedoen kan word nie. Wag totdat die ergste water ingetrek het en doen dan skadebepalings en besin oor die volgende aksies. Oorplant is in dié geval uiters moeilik as gevolg van nat toestande en die planttyd wat al verstryk het.

Wat uitstaan, is die feit dat die baie reën die suurstof uit die grond verplaas het. Plante het suurstof nodig vir groei en ontwikkeling. Daar moet dus so gou moontlik met ’n tandimplement tussen die rye gewerk word om die grond los te maak en aërobiese toestande te skep.

In die afwesigheid van nitraatstikstof (NO3-) kan van die tussenprodukte van stikstof (ammonium en nitriete) toksies raak en die plante vergiftig. Hierdie proses gebeur gewoonlik in versadigde gronde met te min suurstof. Dus sal dit wys wees om ’n nitraat­stikstof toe te dien om die plante in staat te stel om voedingstowwe op te neem vir groei en ontwikkeling.

Lugbespuitings met mikro-elemente en groeihormone (sitokiniene en ouksiene) is ook ’n goeie opsie waar toegang tot die lande onmoontlik is. Indien daar weer sonskyn is, behoort hierdie bespuitings vrugte af te werp.

Hoe lyk dit dan opbrengsgewys?
Aan die een kant is opbrengsverliese ’n gegewe – die mielieplant is nou eenmaal nie ’n waterlelie nie en die skade aan die plant is te groot. Aan die ander kant, waar daar nie versuiptoestande is nie, lyk oeste belowend met bogemiddelde opbrengste.

Net om opbrengsdata te vergelyk, kan gekyk word na die LNR-proewe vir 2014/2015 (droë jaar) en 2010/2011 (nat jaar) met onderskeidelik 4,15 t/ha en 6,92 t/ha in die westelike dele.

Vir die dele waar daar skade is, is dit nie goeie nuus nie, gegewe al die produksiekoste wat reeds aangegaan is om ’n oes te verse­ker. Die grafieke toon dat die droër jare se opbrengste swakker was. Al was 2010/2011 uiters nat, ook met versuiptoestande, was opbrengste nogtans beter as die droë jaar. Die goue randjie is egter dat nat grond moontlikhede skep, maar droë grond net misnoeë.