Beplan nou vir die lang pad

Gepubliseer: 4 November 2021

910

Pieter Taljaard
HUB, Grain SA pieter@grainsa.co.za

Ons weet almal dat tydige beplanning vir ’n lang en ver reis noodsaaklik is, veral as ’n mens vreemde en minder bekende bestemmings aandurf. Ek het dit net weer besef met ons gesin se onlangse besoek aan die pragtige Botswana, doer bo teen die Khwai-rivier.

Dit is ook soveel lekkerder om iets te geniet vir wat dit is indien die ingesteldheid waarmee jy vertrek, reg is. In sy boek Get Smart verduidelik Brian Tracy dat dit alombekend is dat die gemiddelde persoon slegs 2% van hul breinkrag benut – dus 98% onbenutte potensiaal! Verder het navorsing bewys dat daar verskeie maniere is om ons kognitiewe vermoë beter in te span, waarvan die eerste tree is om ons perspektief te verander: om die volle of breër prentjie te sien.

Verder is die kombinasie van langtermynbeplanning of -denke en spoedige of tydige aksies ’n voorvereiste om langtermynstrategieë moontlik te maak. Reeds in die vroeë 70’s het prof Edward Banfield van die Harvard-universiteit bewys dat diegene (met uiteenlopende sosio-ekonomiese ag­tergronde) wat langertermynvisie en -denke het (jare en selfs dekades), finansieel verreweg beter presteer het as ander met ’n korttermynperspektief.

Die rede vir my relaas is dat ons reeds nóú as bedryfsorganisasie en landbou in geheel moet uitsorteer waar ons oor vyf en tien jaar van nou af wil wees. Dan moet ons dadelik tot aksie oorgaan, al is dit net twee of drie klein stappe per week waarop ons fokus en wat ons kan afhandel. Ons is in beheer van ons eie toekoms en verantwoordelik om ons tyd daagliks sinvol en kreatief te gebruik. Slegs deur slim te dink en bereid te wees om uit ons gemaksone te spring en te werk, sal ons kan verbeter en oplossings vind.

Goeie en positiewe nuus is dat ons reeds resultate kan sien van soortgelyke denke uit die onlangse verlede. Om net vinnig een te noem: Die deregulering van twee verskillende biotegno­logie-eienskappe van verskillende multinasionale maatskappye – een in sojabone en die ander in mielies – is ’n goeie voorbeeld, spesifiek omrede die een amper ’n jaar vroeër as verwag vryge­stel is. Geluk hiermee, manne!

Die meeste van ons is welbekend met die huidige uitdagings (wat ek nie eers wil begin opnoem nie). Met die stygende tempo van verandering weet ons dat ons nugter en wakker moet bly staan om verby die daaglikse geraas te luister om op die einddoel te fokus. Ons as landbouers is uiters waardevol vir Suid-Afrika: Ons is hardwerkend en dus ’n enorme bate vir die land; daarom kan en moet ons onsself beter ondersteun en aanmoedig.

Ons plant nou ’n wesenlik duurder somerseisoenoes en besef dit plaas winsgewendheid verder onder druk. Steeds hoor ek egter weekliks ongelooflike getuienisse uit die “lande en kampe” wat ons weer nuwe moed kan laat skep oor hoe om kreatief saam te werk en wen-wen-situasies te skep. Ons moet net ’n beter job doen om die verhale te vertel om te wys wat werklik aan die gebeur is. Saam is ons sterker – deur die regte vrae te vra, gaan ons by uitstekende antwoorde uitkom!

Kom ons gesels
Ek hoor graag van julle: Skryf vir my, kontak my, maak ’n afspraak of nooi my om julle te besoek (pieter@grainsa.co.za).