’n Nuwe rampokker in saad – aalwurmnavorsing weer in kollig

Gepubliseer: 25 Februarie 2021

1666
Dr Sonia Steenkamp,
LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Grondbone word onder besproeiing sowel as op droë­land verbou, hoofsaaklik in die westelike en­ noord-westelike gedeeltes van die Vrystaat, Noordwes, Noord-Kaap, Limpopo en Mpumalanga. Beide kommersiële produsente en kleinboere verbou hierdie proteïen- en olieryke peulgewas, maar om verskillende redes.

Kommersiële produsente plant dit as ’n kontantgewas, terwyl kleinboere dit as voedsel verbou. Vir beide groepe is aalwurms slegte nuus. Dit vat aan die kommersiële produsent se sak, veral as die grondboonbesending afgegradeer word, terwyl dit vir die kleinboer beteken dat hy nie sy familie volhoubaar kan voed nie. Grondbone is ’n gewas wat op ’n relatief klein skaal in ons landbousektor verbou word. Aalwurmnavorsing op grondbone is dus nie altyd aktief nie, maar dit is wel broodnodig.

Tans kry aalwurmnavorsing op grondbone by LNR-Graan­gewasse (Potchefstroom), in samewerking met nematoloë van LNR-Infruitec (Stellenbosch) en LNR-Plantbeskerming (Pretoria), weer momentum nadat ’n nuwe saadgedraagde aalwurm wat ekonomiese implikasies vir grondboonprodusente kan inhou by Vaalharts geïdentifiseer is. Al die aalwurminligting wat tot dusver op grondbone deur navorsing in Suid-Afrika versamel is, sal hier saamgevat word en die leemtes wat nog bestaan, sal uitgelig word. Sodoende sal grondboonprodusente ingeligte besluite kan neem met inligting wat reeds ingesamel is.

Aalwurms wat met grondbone geassosieer is
Daar is heelwat aalwurms wat op grondbone parasiteer, maar nie almal veroorsaak altyd ekonomiese skade as gevolg van afgraderings en oesverliese nie. Dié wat wel gereeld in grondboonlande voorkom en beduidende ekonomiese verliese tot gevolg het, sluit hoofsaaklik peulaalwurm, knopwortelaalwurm en letselaalwurm in. Robustodorus arachidis is die nuwe saadgedraagde aalwurm wat vir die eerste keer in 2017 geïdentifiseer is.

Peulaalwurm (Ditylenchus africanus)
Peulaalwurm is ekonomies die belangrikste aalwurm vir ’n grondboonprodusent. Hierdie aalwurm kan wel op ander gewasse en onkruide oorleef as daar nie grondbone is nie, maar hulle beskadig net grondbone. Peulaalwurm word met besmette saad oorgedra en kom oral in die grondboonproduksiegebied voor. Waar ander aalwurms reeds met planttyd begin vermeerder, begin peulaalwurm eers sodra die plant begin anker stoot. Daar is geen bogrondse simptome op die plant nie omdat hierdie aalwurm meer op die peul as op die wortel van die plant fokus.

Teen oestyd sal 90% van die peulaalwurmpopulasie in die peul voorkom. Peulaalwurm dring by die aanhegtingspunt van die peul met die anker binne en verswak die selle. Sodra die produsent sy grondbone in ’n swaar besmette land lig, breek 40% tot 60% van die peule op daardie punt af en bly in die grond agter. Dis egter die kwalitatiewe invloed wat peulaalwurm op die grondbone het wat die grootste probleme veroorsaak. Peulaalwurm voed op die testa van die saad asook die embrio in die saad.
As hulle op die testa voed, ontkiem die saad – dikwels nog voordat die produsent kans kry om te oes. Vandaar die opslaggrondbone wat oral in ’n besmette land gesien kan word. Die are op die testa is ook dikwels donker en die testa self kan maklik afgevryf word. Besmette saad het ook ’n kenmer­kende geel kleur net onder die testa. Al hierdie simptome veroorsaak ’n verhoging in die persentasie ongesonde, gevlekte en vuil pitte (OGV-persentasie) wat daartoe lei dat grondboonbesendings afgegradeer word, dikwels tot op die swakste graad.

Knopwortelaalwurm
(Meloidogyne spp.)
Knopwortelaalwurm is naas peulaalwurm die ekonomies belangrikste nematode omdat dit die oesopbrengs verlaag en so ’n wye gasheerreeks het. Hierdie aalwurm parasiteer en beskadig nie net grondbone nie, maar ook alle ander gewasse wat saam met grondbone verbou word. Knopwortelaalwurm word nie deur saad oorgedra nie, maar kan wel in die doppe van die peule voorkom. Bogrondse simptome van knopwortelaalwurm sluit in vergeelde, verlepte of verdwergde plante wat in kolle voorkom. Kenmerkende galle word op die wortels van die grondboonplant gevorm. Hierdie galle maak deel uit van die plant se eie selle wat die aalwurmwyfie vergroot om haar te kan voed. Somtyds kan dit verwar word met stikstofbindende bakteriese knoppies. Onderskeid tussen ’n gal en ’n stikstofbindende knoppie kan getref word deur te kyk of die knoppie/gal maklik afgevryf word. ’n Stikstofbindende knoppie word maklik afgevryf en laat net ’n klein letseltjie op die wortel agter. ’n Gal, daarenteen, bestaan uit die plant se eie selle en kan derhalwe net verwyder word deur die hele wortel te vernietig.

Peulaalwurmsimptome verskyn heel eerste by die aanhegtingspunt van die anker en die peul waar die selle bruin raak op die punt waar dit afbreek.
Peulaalwurmbesmette saad (regs) verkleur met donker are wat soms sigbaar is in vergelyking met die onbesmette saad (links). Hier­-die simptome verhoog die OGV-persentasie van ’n grondboonbesending.

Letselaalwurm (Pratylenchus spp.)
Bogrondse simptome van letselaalwurmbesmetting is soortgelyk aan dié van knopwortelaalwurm en hulle kom amper net so algemeen voor ook. Dis egter moeilik om die letseltjies wat letselaalwurm op die plantwortels veroorsaak, te identifiseer. Hierdie letsels kan baie maklik verwar word met of verdoesel word deur letsels wat deur ander siektes of insekte veroorsaak is.

Robustodorus arachidis
Robustodorus arachidis is oorspronklik as die testa-aalwurm (Aphelenchoides arachidis) geïdentifiseer, maar het eindelik sy eie naam gekry. Omdat hierdie aalwurm splinternuut is en nog nêrens anders in die wêreld geïdentifiseer is nie, het hy nog nie ’n lekker rol-op-die-tong boerenaam nie. Tans is daar nie veel bekend oor hierdie aalwurm nie, behalwe dat dit voorkom asof sy simptome soortgelyk is aan dié van peulaalwurm. R. arachidis kan deur besmette saad oorgedra word. Tans is daar ’n projek wat deur die Oliesade advieskomitee en die Landbounavorsingsraad (LNR) befonds word om hierdie aalwurm te bestudeer en vas te stel of hy die grondboonprodusent bedreig.

Beheerstrategieë
Chemiese beheer
Aalwurmdoders is effektief vir die meeste van hierdie aalwurm­spesies – mits ’n aalwurmbevolking aanvanklik nie te hoog is nie. Die grootste uitdaging waarmee grondboonprodusente te doen kry, is dat van die meer betroubare aalwurmdoders van die mark af gehaal is en dat die enkeles wat nog beskikbaar is, se toekoms onseker is. Dit is dus van uiterste belang dat navorsing gedoen word oor alternatiewe beheermaatreëls wat effektief en volhoubaar sal wees.

Die dringendheid van navorsing oor alternatiewe beheermetodes word voorts benadruk deur die feit dat aalwurmdoders ook nie voldoende vir die beheer van peulaalwurm is nie omdat hulle juis begin vermeerder in die weerhoudingstydperk van die aalwurmdoders. Beroking is wel suksesvol in die beheer van peul­aalwurm, maar ekonomies maak dit nie vir ’n grondboonprodusent sin nie. Daar is aanduidings dat die nuwe aalwurm baie soortgelyk aan peulaalwurm is en voorlopige proewe het reeds getoon dat aalwurm­doders ook nie effektief teen R. arachidis is nie.

Grondbone wat met knopwortelaalwurm besmet is, vertoon dikwels galle op die peule en wortels van die plant. Galle word soms verwar met die stikstofbindende bakteriese knoppies wat binne rooi of groen is as dit stukkend gedruk word.

Weerstand
Plante met weerstand teen ’n spesifieke aalwurmspesie is dikwels een van die ekonomies effektiefste maniere om aalwurm hok te slaan. In die geval van peulaalwurm is dit tot dusver die enigste uitweg. Oorsee is daar heelwat grondboonkultivars met weerstand teen veral knopwortelaalwurm. Daar is egter nog ’n leemte in aalwurmnavorsing om Suid-Afrikaanse knopwortel- en letselaalwurm-weerstandbiedende grondboonkultivars te identifiseer sodat dit in teelprogramme opgeneem en op die mark beskikbaar gestel kan word. Tans is daar ook geen weerstand­biedende kultivars teen peulaalwurm in die mark beskikbaar nie, maar bronne van weerstand is reeds geïdentifiseer wat in grondboontelingsprogramme ingesluit kan word.

Kulturele beheer
Kulturele beheer sluit die plant van gesertifiseerde aalwurmvrye saad in. Dit is gelukkig net peulaalwurm en R. arachidis wat deur saad gedra word, maar peulaalwurm veroorsaak vir die produ­sent en nematoloog ’n ewe groot tameletjie. Omdat daar geen weerstandbiedende grondboonkultivars beskikbaar is nie en peul­aalwurm regoor die grondboonproduksiegebied voorkom, is dit bykans onmoontlik om altyd onbesmette saad te waarborg. Dit is dus essensieel dat grondboonnavorsing die teling van peul­aalwurm-weerstandbiedende kultivars insluit. Ander kulturele beheermetodes sluit hitte- en meganiese beheer in, wat nie geskik is vir grondbone nie. Grondboonsaad is sag en sensitief vir klammigheid. Saad sal dus maklik beskadig word deur sulke metodes en uiteraard sal dit dan ook die kieming negatief beïnvloed.

Biologiese beheer
Die omgewingstoestande in die grondboonproduksiegebied maak dit moeilik vir die organismes in biologiese produkte om in die grond te vestig. Voordat daar enigsins ’n effektiewe biologiese produk op grondbone geregistreer word, sal daar intensiewe navorsing gedoen moet word. Dit sal ook baie moeilik wees om peulaalwurm op so ’n manier te beheer omdat hierdie aalwurm binne in die saad ingaan.

Wisselbou
Wisselbou is ’n uiters belangrike boerderypraktyk wat nie onderskat moet word nie. Dit kan siektes onder beheer bring en sommige gewasse is voordelig vir die opvolggewas. Wisselbou vir aalwurm­beheer is egter nie suksesvol nie, omdat die groot moeilikheid­makers ’n wye gasheerreeks het. Weer eens word die belang van navorsing op weerstandbiedende kultivars benadruk. Tot tyd en wyl moet grondboonprodusente waar moontlik ’n geïntegreerde plaag­beheerprogram volg om aalwurm hok te slaan.