
landbou-ekonoom,
Graan SA, marguerite@grainsa.co.za
DIE PRESTASIE VAN DIE EKONOMIE WORD GROOTLIKS BEÏNVLOED DEUR ’N HANDVOL SLEUTELAANWYSERS WAT DIE MARK SE RIGTING AANDUI EN PRODUSENTE SE BESLUITE OOR PRODUKSIE, BELEGGINGS EN RISIKOBESTUUR VORM.
In 2025 funksioneer Suid-Afrikaanse graanprodusente in ’n uitdagende en dinamiese omgewing waar prysbewegings nie bloot toevallig plaasvind nie, maar die resultaat is van interaksies tussen vraag en aanbod, makro-ekonomiese tendense en internasionale markte.
Belangrike ekonomiese aanwysers soos wisselkoersbewegings, inflasie, rentekoerse, internasionale graanpryse en insetkoste het dus ’n direkte invloed op plaaslike prysvorming. Die wisselkoers bepaal byvoorbeeld die relatiewe mededingendheid van Suid-Afrikaanse graan in wêreldmarkte, terwyl inflasie en rentekoerse produksiekoste en kontantvloei beïnvloed. Hierdie aanwysers word deur produsente gebruik om risiko’s te bestuur en strategies te reageer op veranderinge. Tabel 1 toon die prysbewegings van ekonomiese en insetprysaanwysers aan op ’n jaar-tot-jaar-basis.
Produksieprysindeks
Die produksieprysindeks (PPI) dui die prysstygings van goedere en dienste op groothandel- of vervaardigingsvlak in die ekonomie aan. Op ’n jaargrondslag het die PPI met 2,1% gestyg. Die PPI vir landbou het jaar op jaar met 3% toegeneem, terwyl die PPI vir graan en ander gewasse met 7,5% afgeneem het.
Verbruikersprysindeks
Die amptelike inflasiekoers word bereken op grond van veranderinge in die verbruikersprysindeks (VPI) en dui kosteveranderinge op kleinhandel- of verbruikersvlak aan. Die inflasiekoers het jaar op jaar met 3,3% gestyg in Augustus 2025. Voedselinflasie het oor dieselfde tydperk met 5,2% toegeneem. In hierdie voedselmandjie het graanprodukte met 1,5% gestyg, terwyl vleis met 11,3% gestyg het. Olies en vette het met 4,8% toegeneem, terwyl groente met 9,3% gestyg het. Vrugte het oor dieselfde tydperk met 8,6% toegeneem.
Wisselkoerse
In Tabel 1 word ’n versterking van die waarde van die rand teenoor ander geldeenhede as ’n positiewe verandering aangedui, terwyl ’n verswakking as ’n negatiewe persentasieverandering getoon word. Die rand het met 0,7% teenoor die dollar versterk en met 2,1% teenoor die euro verswak. Die grootste daling is gesien teenoor die pond wat verswak het met 6,4% van Oktober 2024 tot Oktober 2025. Suid-Afrika is baie afhanklik van invoer van insette, daarom het ’n swakker rand bygedra tot hoër insetpryse.
Rentekoerse
Tot en met Oktober 2025 het die Reserwebank die repokoers verlaag na 7%, terwyl kommersiële banke die prima uitleenkoers na 10,5% verlaag het. Dit het verligting gebring vir die meerderheid van Suid-Afrikaanse huishoudings.
Internasionale ruoliepryse
Die gemiddelde Brent-ruolieprys het met 10,5% gedaal van $75,39/vat tot $67,46/vat tussen Oktober 2024 en Oktober 2025. In randterme het die ruolieprys op ’n jaargrondslag met 8% afgeneem tot R1 179,20/vat teen Oktober 2025.
Brandstofpryse
Die plaaslike groothandelprys van diesel in Gauteng het met 1,2% gedaal, van R19,59/liter in Oktober 2024 tot R19,35/liter in Oktober 2025. Oor ’n tydperk van ’n jaar het die ingevoerde koste van diesel met 4,9% afgeneem, terwyl belasting met 4,9% gestyg het en die groothandelsmarge met 6% toegeneem het. Die dieselkorting is tans 372 sent/liter, wat bestaan uit 218 sent/liter vir die Padongelukkefondsheffing en 156 sent/liter vir die belastingkomponent.
Internasionale kunsmispryse
Die pryse van DAP en kaliumchloried het onderskeidelik met 22,8% en 30% gestyg. Ureum het met 27,1% gestyg terwyl ammoniakpryse met 20,1% gedaal het van Oktober 2024 tot Oktober 2025.
Plaaslike kunsmispryse
Aangesien Suid-Afrika meer as 80% van sy kunsmisbehoeftes invoer, is plaaslike kunsmispryse blootgestel aan dieselfde faktore as dié in die internasionale mark. Die gemiddelde pryse van MAP, ureum, KAN en kaliumchloried het onderskeidelik met 18,7%, 24,7%, 3,6% en 15% gestyg oor ’n tydperk van een jaar tot en
met Oktober 2025.
Saadpryse
Saad maak tussen 10 en 15% van ’n graan- en oliesaadprodusent se huidige produksiekoste uit. Vir die 2025/2026-produksieseisoen het mieliesaad gemiddeld met 2,3% gestyg, sojabone het die grootste styging getoon met 6,9% en sonneblomsaad met 4,3%. Graansorghumsaadpryse het gemiddeld met 6,2% gestyg jaar op jaar.
Trekkerpryse
In September 2025 was die prys van trekkers 3,2% laer as die ooreenstemmende tydperk ’n jaar gelede.
Trekkerverkope
Vir 2025 het trekkerverkope tot September met 5,3% toegeneem in vergelyking met dieselfde tydperk in 2024. Laasjaar is 7 035 eenhede verkoop, terwyl trekkerverkope vir 2025 op 7 407 eenhede staan.

















