Die prentjie agter masjinerie se prysetiket

Gepubliseer: 5 Augustus 2025

775
Marguerite Pienaar,
landbou-ekonoom, Graan SA

Die koste en verkope van landboumasjinerie is dikwels ’n aanduiding van breër ekonomiese neigings binne die landbousektor. In die eerste helfte van 2025 het ’n kombinasie van wisselkoersbewegings, gewasvooruitsigte en positiewe marksentiment die masjineriemark op merkwaardige wyses beïnvloed.

Landboumasjinerie in Suid-Afrika bevat ’n hoë invoerkomponent – dus speel die wisselkoers ’n deurslaggewende rol in prysskommelinge. Sedert 1989 volg AGFACTS die verwantskap tussen die rand en masjineriepryse. Die afgelope 25 jaar het van die grootste waardevermindering én -versterking in die rand se geskiedenis plaasgevind.

Vanaf 2000 tot vandag toon die jaar-tot-jaar-prysskommelinge (gebaseer op driemaande- bewegende gemiddeldes) vir trekkers, stropers, hooimasjinerie en implemente (soos planter- en spuittoerusting) ’n duidelike patroon van op- en afwaartse bewegings in reaksie op die rand se prestasie. Hierdie artikel ondersoek die belangrikste tendense in ma­sjineriepryse en -verkope, met spesifieke verwysing na trekker- en stro­perverkope.

Foto: Case IH

Landboumasjineriepryse jaar op jaar
Prysveranderings op ’n jaargrondslag van die verskillende kategorieë landbou­masji­nerie kan in Tabel 1 waargeneem word. Landbou­masjineriepryse het vanaf Junie 2024 tot
Junie 2025 gemiddeld met 1,8% teenoor die   vorige jaar gestyg, terwyl stropers die grootse bydrae gemaak het met pryse wat gemiddeld vir Junie, jaar-op-jaar, met 3,3% gestyg het.

Trekkerverkope
Gedurende tye van randversterking, soos in 2017 en weer in 2023, het pryse gedaal of gestabiliseer. Se­dert 2024 het die rand egter weer verswak, en dit het gelei tot ’n toename in pryse vroeg in 2025. Teen Junie 2025 het pryse weer tekens van afplatting getoon, deels danksy ’n korttermynversterking van die rand. Die verkope van trekkers het gedurende die eerste vyf maande van 2025 sterk vertoon. In Maart is 671 eenhede verkoop (35% meer as in Maart 2024), April het 527 eenhede getoon (5% meer jaar op jaar) en in Mei is 635 eenhede verkoop – 12% meer as dieselfde maand in 2024.

Die jaar-tot-datum-verkope is tans sowat 20% hoër as 2024, en die verwagting is dat verkope vir 2025 tussen 5% en 10% meer sal wees as verlede jaar se 6 463 eenhede. Stroperverkope toon ’n selfs meer indrukwekkende groei. In Mei 2025 is 41 eenhede verkoop – 16 meer as in Mei 2024. Jaar-tot-datum-verkope is 44% hoër as verlede jaar, en dit word verwag dat verkope die 201 eenhede van 2024 sal oorskry.

Vinnige feite uit Tabel 2

  • 2022 was die beste jaar as dit kom by verkope met 9 181 trekkers, ’n styging van 16,7% teenoor 2021. Veral Oktober 2022 staan uit met ’n ver­koopsprong van 48,1% vergeleke met Oktober 2021.
  • In 2023 is die hoogste maandelikse verkope vir die jaar in Junie aangeteken (930 eenhede). Maar in Junie 2024 het verkope beduidend met 47,6% geval tot 487 eenhede.
  • Trekkerverkope in 2024 het met 23% gedaal teen­oor 2023 – die grootste jaar-tot-jaar-daling in die afgelope vier jaar.

Grafiek 1: Jaarlikse trekkerverkope.
Grafiek 2: Trekkerverkope per kW-reeks.
Grafiek 3: Grootte van trekkervloot.

Grootte en ouderdom van trekkervloot
Grafiek 4 toon die ouderdomsverspreiding van trekkers aan van 1991 tot 2024.

In vroeë jare (1991 tot 2000) was daar ’n hoër persentasie nuwe trekkers. Vanaf ongeveer 2005 begin die persentasie ouer trekkers toeneem. Teen 2024 is die meerderheid van trekkers ouer as tien jaar – wat dui op ’n verouderende vloot. Die toename in ouer trekkers kan dui op minder vervanging of aankoop van nuwe trekkers, wat moontlik ’n aanduiding kan wees van ekonomiese druk, hoë koste van nuwe trekkers of ’n afname in landboubeleggings.

Grafiek 4: Verspreiding van trekkervlootouderdom.

Die gemiddelde trekkrag (kW) van trekkers in die totale trekkervloot het die afgelope paar jaar geleidelik toegeneem. Hierdie toename in gemiddelde trekkrag kan gesien word in Grafiek 5; dit het toegeneem van 63,7 kW (20 jaar gelede) tot 75 kW (in 2010) en het in 2021 op 78,1 kW te staan gekom. Hierdie getal het effens verhoog na 78,6 kW in 2022. In 2024 blyk dit dat die gemiddelde trekkrag ’n sprong gemaak het tot 85 kW.

Grafiek 5: Totale trekkrag van trekkervloot.
Grafiek 6: Gemiddelde trekkrag van trekkervloot.

Gevolgtrekking
Die eerste helfte van 2025 toon ’n hernieude vertroue in die landboumasjineriemark. Goeie somergewasse, volgehoue vraag en gunstige kommoditeitspryse dra by tot positiewe sentiment. Tog is daar onsekerhede – veral rakende internasionale politiek, wisselkoerse en reënvalpatrone. Vir produsente beteken dit dat beplanning, tydsberekening en kostebestuur belangriker as ooit is. Masjinerie bly ’n kapitaalintensiewe belegging, en kennis van pryssiklusse en verkooptendense is noodsaaklik vir langtermynvolhoubaarheid.