PRYSE VAN KOMMODITEITE DÁN OP HUL HOOGSTE

Gepubliseer: 2 Julie 2025

167
Heleen Viljoen,
landbou-ekonoom,
Graan SA,
heleen@grainsa.co.za

10/06/2025

GRAANPRYSE VERANDER OP ’N DAAGLIKSE BASIS. PRYSE GAAN OP EN PRYSE GAAN AF, MAAR PRODUSENTE KAN NIE LANGTERMYNBEMAR­KINGSBESLUITE NEEM GEBASEER OP DAAGLIKSE VERANDERING NIE. DIE PRYSE WORD TOT ’N GROOT MATE BEÏNVLOED DEUR FUNDAMENTELE BEGINSELS, MET ANDER WOORDE, HOEVEEL GRAAN BESKIKBAAR IS OF NIE.

Gevolglik speel die stroopproses ’n belangrike rol in die prysvormingsmeganisme. Gedurende enige gegewe bemar­kingseisoen volg kommoditeitspryse ’n seisoenale tendens. Om ingeligte bemarkingsbesluite te neem is dit belangrik om langertermyn- seisoenale tendense te bestudeer en in ag te neem.

Om hierdie tendense te bewys, is basismaand-Safex-pryse tussen 2014 en 2025 gebruik. Maandelikse gemiddelde is uitgewerk oor hierdie tienjaarperiode, wat toe vergelyk is met ’n gemiddelde langtermynprys. Die resultate word in hierdie artikel bespreek.

Oliesade
Suid-Afrika produseer verskeie oliesade wat onder meer sonneblom en sojabone insluit. Beide sonneblom en sojabone word vanaf middel Oktober tot so laat as middel Januarie geplant. Dié oliesade word dan weer vanaf April tot Julie gestroop en vorm ’n vername deel van die somergraanvoorraad van Suid-Afrika.

Vanaf Figuur 1 is dit duidelik dat oliesaadpryse in Suid-Afrika van Januarie-maand af geleidelik afwaarts beweeg soos wat die stroopproses nader kom. Sojaboon-basismaandpryse is histories die laagste tussen Junie en Augustus, wanneer pryse ongeveer 11% onder die langtermyngemiddeld verhandel. Hierdie tendens val ook in dieselfde venster as strooptyd, wanneer plaaslike voorraad weer aangevul word.

Figuur 1: Seisoenaliteitsindeks vir oliesade (2014 tot 2025).
Bron: Graan SA, JSE

Sonneblom bereik weer ’n laagtepunt in Junie-maand, wanneer pryse ongeveer 25% onder die langtermyngemiddeld verhandel. Dit is ’n uiters belangrike tendens om in ag te neem wanneer bemarkingsbesluite geneem word. Hoewel die verskil tussen Junie en Desember opvallend is, is daar koste wat oorweeg moet word wanneer die twee maande se pryse met mekaar vergelyk word.

In 2024 het die sonneblommark dié tendens gevolg. Tussen Junie en Desember het die gemiddelde Safex-prys met ongeveer 17% verskil, en die Desember 2024-prys van R10 371/ton was die hoogste vir die jaar. Alhoewel daar ’n aansienlike prysverskil tussen hierdie twee kontrakte is, moet ander faktore soos stoorkoste en rente ook in ag geneem word om hierdie kontrakte regverdig te vergelyk. Wanneer rente en stoorkoste deel vorm van die berekening, sou dit steeds meer winsgewend gewees het vir die produsent om sy graan in Desember te verkoop.

Grane
Hoewel daar ongeveer agt amptelike grane in Suid-Afrika produseer word, staan veral mielies en koring as stapelvoedsels uit.

Suid-Afrika se koringoes word tradisioneel tussen Oktober en Desember gestroop. Uit Figuur 2 is dit ook dui­delik dat basismaandkoringkontrakte ’n laagtepunt bereik tussen Desember en Januarie, wanneer kontrakte ongeveer 3% onder die langtermyngemiddeld verhandel. Alhoewel die 3% merkbaar minder is as die laagtepunt vir sonneblompryse, word ’n aansienlike toename bo die langtermyngemiddeld gesien gedurende Mei-maand.

Figuur 2: Seisoenaliteitsindeks vir grane (2014 tot 2025).
Bron: Graan SA, JSE

Om die seisoenale tendense van die Mei-koringkontrak te bestudeer, het Graan SA se ekonomiespan ’n langtermynindeks saamgestel. Dié indeks toon dat die Safex-kontrak vir Mei-maand histories op sy hoogste is in Mei en September.

In teenstelling met koringprystendense bereik beide wit- en geelmieliesbasismaandpryse hul hoogtepunt tussen Desember en Januarie en hul laagtepunt in Julie tydens strooptyd.

’n Interessante tendens in die mieliemark word wel waargeneem in Figuur 2. Hoewel wit- en geelmieliekontrakte vir die grootste deel van die jaar dieselfde tendens volg, breek witmieliepryse tussen Februarie en Mei weg van geelmieliepryse. Daar is verskeie redes wat bydra tot dié tendens, onder meer die beskikbaarheid van vroeë witmielies wat minder is as geelmielies aangesien laasgenoemde tradisioneel vroeër gestroop word. Dit is ook makliker om Suid-Afrika se pyplyn met geelmie­lies te voorsien deur middel van invoere. Geelmieliepryse vind dan weer vinniger ondersteuning in Oktober-maand, wanneer voorrade begin knap raak. Beide hierdie tendense bied vir produsente bemarkings­geleenthede.

Samevatting
Dit is opmerklik uit die verskillende seisoe­n­aliteitsindekse dat Suid-Afrikaanse kommoditeite op hul laagste verhandel tydens strooptyd, en daarna weer ondersteuning vind. Hierdie inligting is veral belangrik om in ag te neem tydens besluitneming. ’n Paar bemarkingswenke het na vore gekom na aanleiding van die bestude­ring van seisoenaliteitsindekse:

  • Dit is die moeite werd om te oorweeg om sonneblomsaad tot Desember te berg, wanneer sonneblompryse histories op hul hoogste is. Dit is egter belangrik om ander kostefaktore soos rente in ag te neem wanneer hierdie besluite geneem word.
  • Daar is ’n geleentheid wat lê in die berging van koring om gelewer te word vir die Mei-maandkontrak, dit is gewoonlik wanneer koring die hoogste pryse behaal.
  • Wees waaksaam in Maart en Oktober wanneer wit- en geelmieliepryse van mekaar af wegbeweeg.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.