
SA Graan/Grain-medewerker
’n Gewas wat deesdae in die westelike verbouingsareas produsente se belangstelling prikkel, is katoen. Hierdie gewas is die laaste paar jaar met groot sukses in die Schweizer-Reneke-omgewing aangeplant.
Winsgewendheidsgewys wil dit voorkom of katoen dalk ’n werkbare alternatief vir mielies en sojabone is. Sien Tabel 1 vir die brutomarge-ontleding wat vir die areas gedoen is. Uit die tabel kan gesien word dat katoen redelik goed vertoon teenoor die ander gewasse.
In Grafiek 1 word die laaste vyf jaar se produksie per hektaar van mielies, sojabone en katoen teenoor die seisoen se reënval aangetoon.


Volgens die inligting in die grafiek kan gesien word dat die reënval per jaar skerp gevarieer het. Mielies en sojabone se opbrengs het saam met dié van die reënval gevarieer, maar interessant genoeg het die katoenopbrengs nie so beduidend gewissel nie. Dit lyk of hierdie gewas se opbrengs baie stabiel in die area is en dat ’n produsent taamlik kan peiltrek op hierdie opbrengste. Veral in ’n droë jaar is dit voordelig as daar ’n gewas is wat die produsent uit die moeilikheid kan help.
Wat die verbouing van katoen betref, is die bewerkings benodig vir dié gewas soortgelyk aan die van mielies. Grondbewerking is uiters belangrik om goeie wortelontwikkeling te bewerkstellig. Die plant van katoen is redelik maklik en ’n gewone mielieplanter kan gebruik word. Katoen is ’n gewas wat reeds GMO-tegnologie bevat en daarom is die beheer van onkruid moontlik met die standaardspuite wat op die plaas beskikbaar is. Weerstand teen bolwurm is ook ingeteel en dus is die beheer van dié plaag moontlik. Die stroopproses of pluk van katoen is egter ’n perd van ’n ander kleur en hier word gespesialiseerde toerusting benodig.

Uitdagings
Dit is noodsaaklik om die uitdagings wat met katoenverbouing gepaard gaan goed te oorweeg voordat besluit word om dit aan te plant.
Katoen is ’n hoëbestuur- intensiewe gewas. Tans is daar ’n tekort aan kennis by produsente asook by insetadviseurs. Almal is nog aan die leer – veral in die weste. Die impak van peste en plae is boonop onbekend – aalwurm is ’n kalant wat katoen wesenlike skade kan berokken.
By mielies word daar nie noodwendig op die wortels gefokus nie, maar ’n katoenplant kan nie sonder ’n goeie wortelstelsel nie. Die kantoenpenwortel moet die grond diep penetreer om die nodige voedingstowwe en vog te bekom. Met ’n goed ontwikkelde wortelstelsel kan die plant selfs in sy eie kaliumbehoeftes voorsien – daarsonder is die plant gedoem.
Katoen moet verkieslik so vroeg as moontlik in die Schweizer-Reneke-distrik geplant word met ’n afsnyplantdatum van 15 November. Om dit reg te kry, is dit belangrik dat katoen in die omgewing op oorlêlande geplant word. Dit is nogal ’n uitdaging om die gewas geplant te kry as die reën laat kom.

Sodra die saad geplant is, vereis dit intensiewe aandag. Die saailinge het ’n lae groeikragtigheid en dit is ’n uitdaging om hulle tot op ses weke aan die lewe te hou. Windskade, hitte, koue en enige ander probleem is fataal vir katoensaailinge. Wanneer die eerste ses weke verby is, groei die plante verwoed, wat goeie bestuur vereis. Groeireguleerders en -inhibeerders moet gereeld toegedien word om die planthoogte tot ongeveer ’n meter te beperk.
Katoen het ’n onbepaalde groeiwyse en dus blom die plant oor ten minste drie maande. Hierdie is sonder twyfel ’n voordeel, maar kan ook nadelig wees. Die toedien van chemiese middels om die bolle gelyktydig te laat oopbars, is ’n vereiste om die plukwerk makliker te maak. Die plukkermasjien vereis ook dat die plante nie blare aan moet hê nie en dus word die blare chemies verwyder.
Aangesien katoen so lank op die lande bly, is hael ’n groot risiko – veral hael laat in die seisoen. Die haelversekering van katoen is nes die van sojabone: 7% van die bruto waarde.
Katoen verdra nie uiterste koue nie. Hierdie warmweergewas vereis ongeveer 1 300 hitte-eenhede en verkies tussen 300 mm en 700 mm reënval om optimale opbrengste te verseker. Winterkoue maak die plante dood en keer dat dit nie vir nog ’n seisoen oorgedra kan word nie.
Katoenplukkers is gespesialiseerde masjiene. Die plukkers is aan die duur kant en een so ’n plukker kan op die meeste 1 500 ha per jaar gepluk kry. Weens ’n tekort aan kontrakteurs is dit amper onmoontlik om die bedryf op klein skaal te betree.
Die geplukte katoen moet verder na die naaste pluismeule vervoer word. Hierdie grootvolumekatoenbale met ’n relatief lae gewig se vervoer is redelik duur en produsente moet hierdie koste in aanmerking neem.

Voordele
Gegewe hierdie uitdagings bly katoen ’n ideale gewas. Katoen word tans in die Schweizer-Reneke-distrik op laepotensiaallande aangeplant en dit presteer merkwaardig goed.
Suid-Afrikaanse katoenvesel verkoop tans teen ’n wêreldprys plus ongeveer ’n 20%-premie vir hoë kwaliteit. Hierdie vesel word hoofsaaklik vir verwerking na die Ooste uitgevoer. Tans voer plaaslike katoenverwerkers laerkwaliteitkatoen in om in die binnelandse vraag te voorsien. Net soos mielies word katoenpryse internasionaal bepaal en kan die prys asook die wisselkoers verskans word. Daar is heelwat katoenlint- of -veselgrade, elk met hul eie pryse. Die katoenlint maak ongeveer 40% van die opbrengs uit. Die katoensaad, wat sowat 50% van die opbrengs uitmaak, word in die voer- en oliemark verkoop. Produsente is dus nie net aan een mark blootgestel nie, wat daartoe kan bydra dat die inkomste uit katoen verdien minder kan varieer.
As wisselbougewas bring katoen sy kant. Mielieopbrengste na katoen is heelwat hoër – moontlik omdat katoen ’n lae vogbehoefte het of omdat die katoenwortels die grond se organiese materiaal beduidend verhoog. Alhoewel die rede nog nie duidelik is nie, word die opvolggewas se opbrengs definitief verhoog.
Katoen se bemestingsvereistes is ook laer as die van mielies, bloot omdat dit minder stikstof vereis. Dieselfde hoeveelhede fosfaat en kalium as mielies word benodig en toegedien. Sommige bronne meld dat as die katoenplant se wortels die grond diep genoeg kan penetreer, die plant sy kaliumbehoefte self uit die grond sal kan verkry.
Buiten dat katoen se winste goed is, dwing die gewas die produsent ook om te groei. Tyd moet spandeer word om inligting in te win en die vereiste wat die gewas aan die bestuur stel, is hoog.
Vir meer inligting lees die artikel “Katoen: Moontlike wisselbougewas” in die Oktober 2018-uitgawe van SA Graan/Grain of kontak Pietman Botha by 082 759 2991.