Só het KANOLAKULTIVARS in 2024 presteer

Gepubliseer: 6 Februarie 2025

280
Piet Lombard, Direktoraat Plantweten-skappe, Wes-Kaapse De-partement van Landbou

Lisa Smorenburg
, Direktoraat Plantweten-skappe, Wes-Kaapse De-partement van Landbou
Prof Johann Strauss, Direktoraat Plantweten-skappe, Wes-Kaapse De-partement van Landbou

In 2024 is proewe by vyf lokaliteite in die Swartland en Suid-Kaap aangeplant. By Langgewens- en Tygerhoek-navorsingsplase is twee saaidatumproewe en ’n eliteproef ingesluit. Altesaam
18 kultivars is getoets: drie konvensionele, agt Cl- (Clearfield, imasamoks-tolerant), vyf TT- (triasien-tolerant) en twee kombinasietipe kultivars (Defender CT en PY520 TC). Vier nuwe kultivars is getoets – almal basterkultivars.

Klimaat
Die 2024-seisoen op Langgewens is gekenmerk deur ’n uiters droë begin met die eerste noemenswaardige reën op 2 Junie (Grafiek 1).­ Julie was ’n ander storie en daar is 200% meer reën gemeet as die langtermyngemiddeld. Augustus was effens natter as normaal, terwyl September en Oktober weer baie droog was. Die enigste goeie reënval wat in September voorgekom het, was op 28 tot 30 September (17,8 mm). Die totale reënval vir 2024 was 30 mm meer as die langtermyngemiddeld. Die reënval aan die einde van September was van onskatbare waarde en het opbrengs verhoog en die potensiële oesdatum later geskuif.

Op Tygerhoek in die Suid-Kaap was die reënval gedurende die 2024-groeiseisoen 86 mm meer as die langtermyngemiddeld van 314 mm (Grafiek 2). Julie was die vierde natste aangetekende Julie in die geskiedenis (102,6 mm). Met die uitsondering van Mei, wat ondergemiddelde reënval ontvang het, was die ander maande naby of beter as die langtermyngemiddeld.

By Langgewens was die gemiddelde maksimum temperatuur gedurende Julie 2,6 ºC minder as die langtermyngemiddeld. Dit kan toegeskryf word aan 19 dae se bewolkte weer, waar daar ook meer as 1 mm reën geval het (Grafiek 3). Beide die minimum en maksimum temperature was vanaf Julie af laer as die gemiddeld. Dit het gelei tot ’n vertraagde seisoen wat medium en lang kultivars sou kon bevoordeel as dit nie vir die bogemiddelde temperature tydens Oktober was nie. By Tygerhoek was die maksimum temperature (>2,5 ºC) bokant gemiddeld in Mei wat opgevolg is met ondergemiddelde temperature van Julie tot September (Grafiek 3). Die maksimum temperature tussen Langgewens en Tygerhoek verskil nie baie nie, maar die minimum temperature by Tygerhoek was tussen 1,8 °C en 3,6 °C laer.

Grafiek 1: Maandelikse reënval vir 2024 en die langtermyntotaal (sedert 1964) by Langgewens
Grafiek 2: Maandelikse reënval vir 2024 sowel as langtermyntotaal (sedert 1966) by Tygerhoek
Grafiek 3: Die maandelikse minimum en maksimum temperature gedurende 2024 by Tygerhoek en Langgewens

Resultate
Die opbrengsresultate vir die Swartland is opgesom in Grafiek 4 en 5. Die Cl- en TT-kultivars se data is geskei van die konvensionele kultivars. Die CT- en TC-kultivars is by die TT-kultivars ingedeel. Min tot geen Sclerotinia is waargeneem in die kultivarproewe en in die kommersiële produksies in die Swartland.

Grafiek 4: Die Swartland se gemiddelde opbrengs per lokaliteit en kultivartipe vir 2024 in kg/ha
Grafiek 5: Swartland-opbrengste vir 2024 (kg/ha)

Swartland
In die Swartland het die gemiddelde opbrengs per proef gewissel tussen 3 266 kg/ha (Langgewens eerste saaidatum) en 2 402 kg/ha by die tweede saaidatum. Die proewe, met die uitsondering van Langgewens se tweede saaidatum, het na 2 Junie begin ontkiem. Die tweede proef by Langgewens is in voldoende grondvog aangeplant op 13 Junie. Die konvensionele kultivar CC90014 het, soos in 2022 en 2023, die hoogste gemid­delde opbrengs gelewer, gevolg deur Quartz en Diamond. Geen statistiese verskil is aangeteken in die groep nie.

In die Cl-groep het PY421C, soos in 2023, die hoogste opbrengs gelewer. Die Cl-kultivar 45Y95 (langer groeier) is nie by Pools geoes nie weens skade wat deur voëls aangerig is. Die Cl-kultivar 44Y94 was die naasbeste, gevolg deur PY327C, Solstice Cl en Continuum Cl. Bogenoemde vier kultivars se opbrengs het nie statisties betekenisvol van mekaar verskil nie.

Binne die TT-groep, wat CT/TC-kultivars insluit, het Alpha TT, PY520 CT, Blazer TT en HyTTec Trifecta die hoogste opbrengste gelewer, sonder om statisties te verskil. Die gemiddelde opbrengs van die TT-kultivars was 12% laer as die konvensionele en Cl-kultivars. Let daarna op dat twee van die vroeë kultivars (Diamond en Ceres Cl) soos in 2023 nie die verlengde groeiperiode ten volle kon benut nie.

Suid-Kaap
In die Rûens (Grafiek 6 en 7) was die proefgemiddeldes by Klipdale die beste (4 298 kg/ha), gevolg deur Riversdal en Roodebloem. Die gemiddelde proefopbrengs was 3 274 kg/ha, teenoor 3 204 kg/ha (2023), 2 124 kg/ha (2022) en 3 271 kg/ha (2021).

Die Suid-Kaap het, net soos die Swartland, ook ’n nat en koue Julie beleef en dit het ’n uitdaging met onkruidbeheer en bemestingsbestuur geskep. Die konvensionele kultivar CC90014 het die hoogste opbrengs binne die konvensionele groep gelewer. Quartz was tweede, gevolg deur Diamond. Daar was geen statisties betekenisvolle verskil tussen die drie kultivars nie.

Cl-kultivar 44Y94 het die hoogste opbrengs binne die groep gelewer. Die Cl-kultivar PY327C was tweede, gevolg deur PY421C en 45Y95. Bogenoemde vier kultivars het nie betekenisvol van mekaar verskil nie.

HyTTec Trophy, ’n TT-kultivar, het die hoogste opbrengs binne die TT-groep gelewer gevolg deur die kombinasiekultivar PY520 CT. Hulle is gevolg deur die nuwe Alpha TT, Blazer TT en HyTTec Trifecta. Slegs Defender CT se opbrengs was statisties betekenisvol laer as HyTTec Trophy.

Die gemiddelde opbrengs van TT-kultivars was onderskeidelik 11% en 12% laer as die konvensionele en Cl-kultivars.

Grafiek 6: Suid-Kaapse gemiddelde opbrengs per lokaliteit en kultivartipe vir 2024 in kg/ha
Grafiek 7: Suid-Kaapse opbrengste vir 2024 (kg/ha)

Gevolgtrekking
Kanola as gewas het in 2024 weer eens sy aanpasbaarheid by plaaslike klimaats­omstandighede bewys. Die nat toestande kort na saaityd (Julie) was vanjaar ’n uitda­ging vir onkruid- en voedingbestuur. Die laat begin, met die nat en koue weer wat deur ’n droë Septembermaand gevolg is, het die Swartland benadeel.

Kontak gerus die outeurs vir enige navrae by piet.lombard@westerncape.gov.za, lisa.smorenburg@westerncape.gov.za of johann.strauss@westerncape.gov.za.