PRODUSENTEGIDS: kanolasaadpryse vir 2025

Gepubliseer: 6 Februarie 2025

290
Marguerite Pienaar, landbou-ekonoom,
Graan SA, marguerite@grainsa.co.za

Corné Louw,
hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste,Graan SA, corne@grainsa.co.za

Die Suid-Afrikaanse kanolabedryf het ’n betekenisvolle mylpaal bereik met die 2023-produksieseisoen wat ’n rekord-oes van 294 000 ton opgelewer het; ’n toename van 25% vanaf die vorige jaar. Kanola-opbrengs toon ook belowende groei. Wanneer daar na die 2024-seisoen gekyk word, blyk dit dat die toename in produksie volgehou word.

Volgens die vyfde oesskatting word kanola-aanplantings op 165 750 ha en 295 445 ton geskat vir die seisoen. Die styging in produksie kan gedeeltelik toegeskryf word aan nuwer en beter kultivars wat mark toe gekom het, asook produsente se kennis en praktyke wat verbeter het ten opsigte van kanolaproduksie.

As produksie-inset maak saad tussen 15 en 20% van ’n kanolaprodusent se lopende produksiekoste-rekening uit. Al Suid-Afrika se behoeftes aan kanolasaad word ingevoer, met die meeste wat in hierdie stadium vanaf Australië kom. Hier en daar word saad ook van Suid-Amerika af ingevoer.

Beskikbaarheid van saad
Saadbeskikbaarheid was die afgelope paar jaar ’n groot uitdaging in Suid-Afrika.

Dit voel egter of kommunikasie en koördinering in die kanola­saadwaardeketting verbeter. Sekere maat­skappye het selfs begin om plaaslik saad te vermeerder om die risiko van beskikbaarheid nog verder te probeer bestuur. Van die maatskappye, insluitend een van die landboubesighede, het ook ’n strategie begin volg om buffervoorraad veilig te stoor om so risiko’s van tekorte en tydsberekening te bestuur. Terugvoer van al die saadmaatskappye is dat beskikbaarheid – en hopelik tydigheid – hierdie seisoen nie ’n probleem behoort te wees nie.

2024 se kanola-aanplantings was soos volg: 33% van die oppervlakte is met Clearfield-kultivars aangeplant, 17% met konvensionele kultivars, 3% met CT-kultivars (Clearfield en triasien-tolerant) en 47% met TT-kultivars (triasien-tolerant).

Interessant genoeg lyk die syfers heel anders as in 2023. Hierdie verandering kan toegeskryf word aan tekorte wat ervaar is en produsente wat nie in staat was om die kultivars te plant wat hulle normaalweg sou nie (Figuur 1).

Figuur 1: Kanolakultivars per groep
Bron: SOILL

Saadpryse
Pryse van kanolasaad vir die 2025-seisoen het toegeneem. Tabel 2 toon die saadpryse vir 2025 wat teen druktyd beskikbaar was.

Wenke as produsente vermoed daar is fout met die saad
Indien enige saadprobleme vermoed of ondervind word, moet die volgende stappe gedoen word:

    • Dring by die saadverteenwoordiger aan op ’n ondersoek ter plaatse.
    • Hou rekord van datums en gesprekke.
    • Versamel en stel soveel moontlik inligting op skrif, neem foto’s of maak video-opnames.
    • Indien die probleem nie opgelos word nie, moenie te lank wag voordat die volgende stappe oorweeg word nie:
      • Tree in verbinding met ’n onafhanklike wetenskaplike om ’n ondersoek ter plaatse te doen.
      • Lede kan Graan SA in kennis stel indien die nodige aandag nie by die saadmaatskappy verkry word nie.
      • Neem die saak met die Departement van Landbou op indien dit steeds nie opgelos is nie.
      • ’n Handelskontrole-ondersoek sal gedoen word ingevolge die Plantverbeteringswet.

Gaan só te werk, sê die Departement van Landbou

  • Produsente word aanbeveel om rekord van lotnommers of kodenommers te hou.
  • Tydens die aankope van saad behoort ’n ontledingsertifikaat van die kwaliteit van die spesifieke saadlot aangevra te word wat deur ’n geregistreerde saadlaboratorium uitgereik is. Hierdie uitslae behoort nie ouer as drie maande te wees nie.
  • Produsente word aangeraai om die fisiese sak en etikette wat aan die sak aangebring is te bewaar sowel as die faktuur wat uitgereik is.

Kontakpersoon by die departement
Wes-Kaapse streeksverteenwoordiger in Stellenbosch: Phillip du Toit – 021 809 1656 of PhillipDT@Dalrrd.gov.za.